Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Nóg kursusse op die horison vir Maroela Media en Akademia se skryfskool

Skryfnet – ’n gesamentlike projek van Akademia en Maroela Media – bied vanjaar reeds vir die derde jaar aan voornemende skrywers, professionele persone en skoolleerders die geleentheid om hul skryftalent te ontwikkel met ’n wye verskeidenheid pasmaakkursusse.

Van Skryfnet se kursusse word al vir ’n sesde keer suksesvol aangebied, terwyl daar opwindende nuwe kursusse vir 2023 in die pyplyn is, soos die Skryf ’n liedjie-kursus (wat gefasiliteer word deur die sanger Deon Meiring) en die Skryf vir gemeenskapsmedia-kursus wat ontwikkel is deur Maroela Media se joernaliste en aangebied word deur die ervare joernalis en Akademia-dosent Landi Slatter.

Al Skryfnet se kursusse – waaronder ’n inleidende kreatiewe skryfkursus en kursusse in die skryf van liefdes- en kinderverhale – word boonop deur van die mees talentvolle en suksesvolle skrywers en uitgewers in die Afrikaanse bedryf ontwikkel en aangebied.

Van Skryfnet se medewerkers sluit in die skrywers prof. Hans du Plessis, Nanette van Rooyen en Carina Diedericks-Hugo, asook uitgewers, redakteurs en manuskripontwikkelaars soos Elzebet Stubbe and Madri Victor.

Die meeste van die kursusse word aanlyn voltooi, maar enkele kursusse word as kontakwerkswinkels aangebied, soos die kreatiewe skryfkursus vir skoolleerders en die toespraakskryfkursus. Die aanlyn kursusse bestaan uit ’n verwelkoming- en afsluitingsessie op Zoom waar deelnemers die geleentheid kry om die kursusfasiliteerder – en soms ook ’n gasspreker – te ontmoet en saam te gesels oor die kursus. Op die aanlyn leerplatform kry deelnemers weekliks toegang tot nuwe video’s, leermateriaal en ander aanvullende bronne en skakels.

Die kursusse is só ontwerp dat deelnemers deurlopend aan ’n skryfstuk werk en verbeter op grond van die fasiliteerder se terugvoer. Deelnemers voltooi ook lekker praktiese oefeninge en kan met mekaar op WhatsApp-groepe of op die platform se forum gesels.

Ná afloop van elke kursus kan deelnemers spog met ’n kortverhaal, die eerste hoofstukke van ’n boek, of ’n afgeronde mediaverklaring of toespraak.

Vorige deelnemers aan Skryfnet-kursusse beskryf die inhoud en aanbiedings as “fantasties,” “puik,” en “uitstekend”. Deelnemers pas vinnig by die aanlyn omgewing aan, neem gereeld deel aan forum- en WhatsApp-gesprekke – en keer ook herhaaldelik terug om vir nóg van Skryfnet se kursusse in te skryf. Die Skryfnet-span gebruik deelnemers se terugvoer om deurlopend aan die kursusinhoud en -aktiwiteite te skaaf.

Skryfnet word bestuur deur ’n bekwame en toegewyde span, wat insluit die uitvoerende hoof van Maroela Media, Susan Lombaard, die uitvoerende hoof van Akademia, Marthinus Visser, en die departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia, dr. Alé Steyn. Skryfnet het boonop in 2022 só gegroei, dat die span ’n projekkoördineerder, Annelien van Basten, moes aanstel.

Volgens Lombaard is Skryfnet “presies in die kol geposisioneer vir voornemende skrywers in die unieke uitdagings en omstandighede van ons tyd”. “Dit bied ’n digitale alternatief, maar het steeds ’n persoonlike aanslag. Skryfnet se aanlyn kursusse help jou om jou tyd binne sperdatums te bestuur, maar gee jou ook die vryheid om te skryf waar en wanneer jy wil. Daar is nie ’n beter manier om in 2023 te leer skryf as deur ’n Skryfnet-kursus nie,” sê sy.

“Skryfnet bied vir Akademia die geleentheid om saam met Maroela Media en die fantastiese skrywers en uitgewers in die bedryf te werk en ons kundigheid terug te ploeg in ons gemeenskappe deur Afrikaans as skryftaal te bevorder. Ons skaaf aan voornemende skrywers se skryftalent, sodat ons ons vorentoe kan verlekker in nóg wonderlike, vernuwende en hoëgehalte skryfwerk in Afrikaans,” sê Steyn.

Besoek gerus Skryfnet se webwerf, Facebook-blad of Instagram vir meer inligting, of stuur ’n navraag na navrae@skrynet.co.za.

Skryfnet se werkswinkel, Skryf ʼn toespraak, wat aangebied is by Akademia se Centurion-kampus.