Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die toekoms van weer, klimaat en water oor geslagte heen

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe

Op 23 Maart 2023 word Wêreldmeteorologiedag, oftewel Weerkundedag, gevier. Hierdie dag is ingestel om die ontstaan van die Wêreld- Weerkundige Organisasie (WWO) wat op 23 Maart 1950 gestig is te vier. Die WWO, wat uit 193 lidlande bestaan, speel ʼn belangrike rol in die wêreldwye koördinering van die invloed wat die weer en klimaat op die wêreldbevolking uitoefen.

Die WWO se visie, wat op 2030 fokus, kan as volg saamgevat word: “Teen 2030 sien ons ʼn wêreld waarin alle nasies, en veral die mees kwesbare nasies, meer veerkragtig vertoon teen die sosio-ekonomiese gevolge van uiterste weer, klimaat, water en ander omgewingsgebeurtenisse, en waar volhoubare ontwikkeling gekenmerk word deur die bes moontlike weer- of klimaatsdienste op land, see of in die atmosfeer”. Hierdie visie vind goed byklank by die tema van vanjaar se Wêreldweerkundedag, naamlik “Die toekoms van weer, klimaat en water oor geslagte heen”.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens, wat al reeds van so vroeg as gedurende die 1800’s af bestaan, gee inderdaad al oor geslagte heen gestalte aan die 2023-Wêreldweerkundedag se tema. Suid-Afrika se verantwoordelikhede ten opsigte van die weer en klimaat strek veel verder as die vasteland. So byvoorbeeld is Suid-Afrika verantwoordelik vir data-insameling en navorsing oor ʼn uitgebreide gebied van die Suidelike Oseaan wat strek vanaf Gougheiland in die weste, Marioneiland in die ooste en Antarktika in die suide.

Vandag beskik ons eie weerdiens oor 243 landelike weerstasies, 1 050 reënvalstasies en 47 weerboeie wat data insamel oor die Suidelike Oseaan. Daarbenewens is ʼn toegewyde navorsingskip, naamlik die SA Agulhas, beskikbaar vir aktiewe navorsing oor die Suidelike Oseaan waar Suid-Afrika nie net basisse bedryf op beide Gough- en Marioneiland nie, maar ook by die SANEA IV-basis op Antarktika self.

Met hierdie fasiliteite spog Suid-Afrika steeds met een van die beste en mees uitgebreide weerdienste in Afrika. Met ons verbeterde weervoorspellings wat deesdae uitgereik word in die vorm van impakvoorspellings, doen ons nie gestand aan die tema van vanjaar se Wêreldweerkundedag nie, maar ook aan die vervulling van die visie van die WWO.

Prof. Hannes Rautenbach (links) was in 2002 deel van ʼn ekspedisiespan wat op die SA Agulhas-navorsingskip na Antarktika gevaar het. Dit is Suid-Afrika se plig om nie net oor die land nie, maar ook oor die groot Suidelike Oseaan inligting in te samel.