Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-dekaan aangestel as hoofredakteur van Natuurwetenskappe-vaktydskrif

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, is met ingang Maart 2023 aangestel as die hoofredakteur van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT). Hierdie invloedryke vaktydskrif, wat reeds internasionale blootstelling geniet, word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) uitgegee.

Volgens Rautenbach is dit vir hom ʼn geweldige groot eer om by die bekende Suid-Afrikaanse wetenskaplikes en vorige redakteurs, Strasheim, Eloff en Greeff, die redakteurskap van die SATNT oor te neem. “Dit het juis in ʼn tydperk gebeur waar Afrikaans as vaktaal onder groot druk verkeer, wat natuurlik uitdagings bied. Ek word egter geïnspireer deur die geskiedenis van die joernaal wat die toekomspad meer sinvol maak.”

Die SANTN bestaan al sedert 1982, alhoewel die vaktydskrif se geskiedenis so ver terugstrek as 1922. Die SATNT is ʼn akademiese vaktydskrif en is dus hoofsaaklik op akademici en navorsers van die natuurwetenskappe-veld gerig. Dit is egter ook beskikbaar vir die algemene publiek.

Die doel van die SATNT is drieledig, naamlik:

  • Om ons kennis ten opsigte van die natuurwetenskappe en tegnologie uit te brei deur ʼn oop-toegang eweknie-beoordeelde wetenskaptydskrif beskikbaar te stel waarin Suid-Afrikaanse navorsingsresultate gepubliseer kan word vir internasionale blootstelling en sitering.
  • Om vir Afrikaanssprekende wetenskaplikes die geleentheid te bied om navorsingsresultate in hul moedertaal te kan publiseer.
  • Om die Afrikaanse natuurwetenskaplike en verwante tegnologiese vaktaal te onderhou en verder uit te brei.

Alle inhoud word ná aanvaarding onmiddellik as artikels aanlyn gepubliseer. Volgens Rautenbach ondersteun die tydskrif dus die beginsel dat vrye toegang tot navorsing die wêreldwye uitruiling van kennis bevorder. Die volledige artikels sedert 1982 word ook in die SATNT-argief op hul webtuiste gestoor en beskikbaar gestel vir verdere navorsing en verwysing in meeste van die wêreld se groot bibliografiese databasisse. Buiten die aanlyn publikasie van artikels, word alle Afrikaanse artikels een keer per jaar in die vorm van ʼn gedrukte tydskrif uitgegee en onder die lede van die SAWWK versprei.

Rautenbach as redakteur is verantwoordelik om om te sien na die gehalte, relevansie, impak en verspreiding van die tydskrif. Hy sal ook toesien dat die doelstellings van die tydskrif nagestreef en bereik word. Hy word ondersteun deur ʼn redaksionele raad wat uit 25 hoogsaangeskrewe akademici landswyd bestaan. Die SATNT word tans deur Medpharm Publikasies in Centurion uitgegee waar Robyn Marais as tydskrifbestuurder aangestel is.

Volgens Rautenbach ontvang die SATNT graag manuskripte in Afrikaans of Engels wat handel oor Suid-Afrikaans-verwante navorsingsresultate uit ʼn wye gebied van navorsing in die natuurwetenskappe en tegnologie. “Manuskripte wat in Engels ingedien word, word egter ná aanvaarding in Afrikaans vertaal, terwyl Afrikaanse artikels ʼn Engelse opsomming bevat of ook in Engels vertaal kan word indien die outeur dit verkies, om sodoende internasionale blootstelling aan die artikel te verleen,” sluit Rautenbach af.

Akademia wens hom alle voorspoed toe in sy nuwe rol om die vaktydskrif na selfs hoër hoogtes te neem.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, is onlangs verkies as hoofredakteur van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie.