Search
Close this search box.

Taaldag 2023: Hoe sê ʼn mens “lekker” in ʼn ander taal ?

31 Augustus 2023

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

14 Augustus was Afrikaanse Taaldag en ons het die geleentheid gehad om Afrikaans as taal te vier. Taal speel ʼn belangrike rol in beide ons kommunikasievaardighede en ons identiteit. Sonder taal sou dit nie moontlik wees om gedagtes, idees en gevoelens met ander mense te deel nie. Taal is ook ʼn belangrike instrument in onderwys, omdat moedertaalonderrig leerders die geleentheid gee om beide hulle selfvertoue en hulle begripsvermoë te verbeter.

By Akademia het ons die loslit-lekker voorreg om in Afrikaans onderrig te ontvang. Afrikaans as taal beteken vir elke mens iets anders. Afrikaans is vir my die taal van kerk, vakansie, musiek en Kersfees saam met familie. Ek was nuuskierig om te hoor wat die taal vir ander Fonties beteken en het ʼn paar menings gevra oor Afrikaans. Hier is ʼn paar van die antwoorde:

“Afrikaans is my moedertaal, Afrikaans kom al ʼn lang pad. Al is ons taal nie so oud soos ander tale nie, verdien ons ook die vryheid om ons eie taal te praat. Daar is geen ander taal wat sulke snaakse woorde soos Afrikaans het nie. Die lekkerste deel daarvan om by Akademia te studeer, is die feit dat Akademia altyd die jongmense betrokke hou en dit voel asof daar nooit ʼn stil oomblik op kampus is nie. Moedertaalonderrig bied aan my die geleentheid om myself meer gemaklik uit te druk. Ek sal ook graag wil hê dat my kinders die geleentheid moet kry om in Afrikaans onderrig te ontvang. Ek was eens ontneem van daardie geleentheid, maar nou as nagraadse student by Akademia het ek weer die voorreg om in Afrikaans te studeer.” – Liani Coetzer, nagraadse Onderwyssertifikaat-student by Akademia.

“Afrikaans is my moedertaal. Ek is trots daarop om elke dag die geleentheid te hê om Afrikaans te praat. Om dit met ander mense te deel is die beste ding sedert gesnyde brood. Dit laat my eg Suid-Afrikaans voel. Die feit dat ons taal ook nog so jonk is, en dit steeds elke dag beoefen word, maak my hart warm en gelukkig, net soos ʼn lekker koppie boeretroos en beskuit. Die lekkerste deel daarvan om by Akademia te studeer is dat ek in my moedertaal kan skryf. Die bestaan van hierdie instelling maak my baie opgewonde oor die toekoms van moedertaalonderrig. Ek sien uit vir ons kinders om ook die geleentheid te kry om hier te kom studeer.” – Megan Ferreira, LLB-student by Akademia.

Fonties droom, dink en doen in Afrikaans.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.