Search
Close this search box.

Wat is ʼn vrou?

31 Augustus 2023

Geskryf deur Juné Jordaan, Fontiepos-adjunkredakteur

Wat is ʼn vrou? ʼn Ma, ʼn dogter, ʼn ouma, ʼn vriendin of ʼn tannie.

ʼn Vrou voorsien die gevoel van ʼn warm varsgebakte brood uit die oond met botter, sy is beeldskoon soos die sonstrale wat in die oggend die bome se blare kielie. Haar flambojante stem klink soos ʼn engelekoor wat sing en aanduiding gee dat alles in plek is. Die reuk van haar parfuum vul die lug waarin sy teenwoordig is tesame met haar aansteeklike glimlag.

ʼn Vrou is ʼn sagte hart wat altyd luister en ʼn pleister plak op jou skrape. ʼn Vrou is iemand wat haarself tweede plaas sodat sy geluk in haar geliefdes se oë kan sien. Iemand wat weet hoe om sterk te staan en terselfdertyd haar kwesbaarheid te ontbloot. ʼn Vrou is iemand wat sal veg tot die dood wanneer daar onreg aan iemand vir wie sy lief is gedoen word. Sy is die gom wat ʼn gesin aanmekaar hou; die hartklop van ʼn huis. In tye van nood kan ʼn vrou intree en die storm in iemand se hart kalmeer. ʼn Vrou is die stukkie waarna harte verlang as sy afwesig is. ʼn Vrou bring hoop vir die wat nie ʼn uitweg kan sien nie en bring sekerheid in ʼn onsekere wêreld. Sy stap dansend in ʼn doodgewone lewe in en kikker dit op met haar liefde en omgee.

Haar kinders weet dat niks te groot is vir Mamma om te hanteer nie en haar man besef dat sy sy hande sterk hou in moeilike tye. Haar dogter kyk op na die sterk vrou wat sy is en die lewenslus wat sy selfs in die moeilikste van tye het. Haar ma is trots op die vrou wat sy is en verheug haar in die potensiaal wat haar dogter besit. Haar vriendinne verbly hul in die oor wat sy bied om te luister, die skouer om op te huil en die antwoorde op hul vrae.

Wat is ʼn vrou? ʼn Vrou is ʼn ma, ʼn dogter, ʼn ouma, ʼn vriendin, maar ook soveel meer as net dit. Daarom verdien vroue ʼn maand om die hoendervleis-oomblikke te vier wat vanuit hulle ontstaan spruit, en om dankie te sê vir al die trane wat hulle vang, die glimlagte wat hulle inspireer en die onvoorwaardelike liefde wat hulle ten koste van hulself bied. ʼn Vrou is ʼn onbeskryflike mens met ʼn onbeskryflike invloed op elkeen se lewens.

ʼn Vrou is ʼn ma, ʼn dogter, ʼn ouma, ʼn vriendin, maar ook soveel meer as net dit.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.