Search
Close this search box.

Besoek die Erfenisstigting se museumteater vandag nog!

Geskryf deur Marisha Hermann, Fontiepos-joernalis

In 1902 skryf ʼn jong dame aan haar pa oor die plant van koring, en die gehoor plant saam. Beelde van ou Afrikaners hou jou dop en duisende name gryp jou hart aan. By die Toekomsbou-museumteater kan jy binne 120 minute, 120 jaar van die Afrikaner-geskiedenis beleef. Hierdie interaktiewe museumteater sal sorg vir trane, glimlagte en besonderse herinneringe.

Dié museumteater by die Voortrekkermonument se Erfenissentrum is die eerste van sy soort in die Suidelike Halfrond. Die museumteater bestaan uit twaalf tonele uit die oogpunt van die Afrikanervrou, en besoekers word in elke toneel betrek.

“Dit was regtig ʼn unieke ervaring en ek het soveel geleer oor goed wat ek nie eers geweet het in ons geskiedenis gebeur het nie. Ek sal dit regtig aanbeveel vir enige iemand wat meer oor ons geskiedenis wil leer en wat tans gebeur in ons land,” sê Carlien Slabbert, ʼn Akademia-student.

Karla Hoogendoorn, aktrise in die toneel, sê sy is opnuut trots en oortuig daarvan dat elkeen met trots en hoop uit die teater sal stap. Eduan Naudé, die ander akteur in die toneelstuk, moedig elkeen aan om die museumteater te besoek aangesien dit ʼn konkrete bewys is dat Afrikaners dit elke keer regkry om op te staan.

Die Toekomsbou-museumteater kan besoek word teen R150 vir volwassenes en R100 vir kinders. Besprekings kan hier aanlyn gedoen word op die Voortrekkermonument se webtuiste.

Tonele word uitgevoer in die vorm van ʼn museumuitstalling by die Toekomsbou-museumteater.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.