Search
Close this search box.

Studentekomitees by Akademia help om studentegemeenskap te verenig

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Die verskeie studentekomitees by Akademia speel ʼn integrale rol om die Fontie-ervaring te verbeter en ʼn gevoel van gemeenskap op kampus en by die sentrums te kweek. Die komitees, wat elk ʼn spesifieke fokus en verantwoordelikheid het, werk saam om die bruisende studentelewe-ervaring uit te bou, Akademia se beeld te bevorder, akademiese sukses te ondersteun, en om sosiale en sportdeelname onder Fonties aan te moedig.

Hiermee ʼn kort opsomming van die werksaamhede van elke komitee:

Die sosiale komitee is daaraan toegewyd om aktiwiteite te reël wat tot alle Fonties se studentelewe-ervaring bydra. Van formele byeenkomste soos die Primus Chorum en die Fontiebal, tot meer informele byeenkomste soos die Draai-braai (waar studente braai en sokkie), verseker hierdie komitee dat alle Fonties die geleentheid kry om die beste van hulle studiejare te maak. Dit word gedoen deur ʼn bruisende en dinamiese sosiale omgewing te skep waar studente nuwe vriende kan maak en hul plek binne die groter Akademia-gemeenskap kan vind.

Die gemeenskapskomitee fokus daarop om eenheid onder studente te skep en reik ʼn helpende hand uit na die breër gemeenskap. Hulle organiseer geleenthede en inisiatiewe wat liefdadigheidswerk behels, soos Omgeeweek, fondsinsamelingsaksies, skenkings en gemeenskapsdiensprojekte. Hierbenewens dien die komitee voorts as ʼn platform van waar kommunikasie, samewerking en probleemoplossing in die vooruitsig gestel word ten einde ʼn positiewe studenteomgewing vir almal op kampus te skep.

Die akademiese komitee verteenwoordig die akademiese belange en navrae van alle Fonties. Hulle werk ten nouste saam met die studenteraad en die fakulteite om ʼn bevorderlike leeromgewing te handhaaf en erkenning aan akademiese prestasies te gee. Hulle missie is om ondersteuning en erkenning aan die studentegemeenskap te bied deur diens en leierskap, in ooreenkoms met die waardes van Akademia.

Die kultuur- en erfeniskomitee vier en bewaar die trotse tradisies en erfenis van Akademia en die instelling se omliggende gemeenskap. Hulle organiseer feeste, optredes, werkswinkels, uitstallings en lesings om kruiskulturele begrip en waardering te bevorder. Daarbenewens fokus die komitee daarop om die historiese grondlegging van die instelling se erfenis te dokumenteer en te deel deur samewerking met plaaslike historici, navorsers en gemeenskapslede.

Die bemarkingskomitee neem beheer van die beplanning, implementering en evaluering van alle studente-bemarkingstrategieë en -inisiatiewe by Akademia. Met die oog daarop om bemarkingspogings met algehele besigheidsdoelwitte te belyn, ontwikkel dié komitee bemarkingsplanne, bepaal toepaslike bemarkingskanale en koördineer aktiwiteite soos advertensies, skakelwerk en digitale bemarking binne die studentegemeenskap.

Laastens, maar beslis nie die minste nie, speel die sportkomitee ʼn deurslaggewende rol in die bevordering en ondersteuning van sportaktiwiteite by die instelling. Hulle werk tans saam met verskeie sportkoördineerders om die uitbouing en doeltreffendheid van sport by Akademia te verseker. Die komitee verskaf leiding en ondersteuning aan koördineerders, hou toesig oor sportverwante aksies, en bevorder effektiewe kommunikasie met spanne, afrigters en atlete.

Die Akademia-studentegemeenskap is dankbaar vir al hierdie komitees wat hard werk om die studentelewe uit te bou, te koördineer en te implementeer. Ons sien uit na alles wat julle by Akademia gaan vermag. Indien jy deel van ʼn komitee wil vorm, reik gerus uit na die studenteraad of komiteeleiers.

Die sportkomitee tydens die prestige-sportbyeenkoms by Akademia.

 

Die bemarkingskomitee tydens ʼn vergadering by Seattle Coffee.

 

Die sosiale en gemeenskapskomitee verkoop kolwyntjies om ʼn Akademia-skoonmaker finansieel by te staan.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.