Search
Close this search box.

Vyf vinnige feite oor Akademia-personeel

Gepubliseer op: 27 Julie 2022

Geskryf deur Marisha Hermann, Fontiepos-joernalis

In hierdie uitgawe vind ons meer uit oor ’n paar van ons nauurse Nagraadse Onderwyssertifikaat-dosente: Daleen Botha, Jhani Pottas en Esmé Leus.

Daleen Botha, dosent: Opvoedkundige sielkunde

Hoekom het jy hierdie beroep gekies?

In die tweede semester van my studies in maatskaplike werk, het ek tydens ʼn praktiese sessie met ʼn groep graad 3-dogters by ʼn naskoolsentrum besluit dat ek eerder vir hul ʼn onderwyser wil wees as ʼn maatskaplike werker.

Wat is jou stokperdjies?

Ek hou van lees, stap en hekel – tydens COVID-19 was my eerste twee maskers gehekel.

Wat is jou gunstelingroomysgeur?
“Mint”.

Wat is jou gunstelingidioom en hoekom?
’n Klap van die windmeul weg hê. Reeds sedert my skooldae is dit ʼn gunstelingidioom vir my en een van my vriendinne. Daar word só na mense verwys wat kortmouklere in die winter dra.

Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?
Ek was ʼn dosent verbonde aan STADIO Higher Education.

Daleen Botha, dosent: Opvoedkundige sielkunde.

 

Jhani Pottas, dosent: Opvoedkunde

Hoekom het jy hierdie beroep gekies?

Dit was nog altyd my droom om ʼn dosent te wees en ʼn rol te speel in die onderrig en opvoeding van onderwysers. Om dit in my moedertaal te kan doen by Akademia is ʼn bonus!

Wat is jou stokperdjies?

Ek hou van kitaar speel, hekel, bak en om nuwe stokperdjies aan te leer. Ek is ʼn groot aanhanger daarvan om ʼn verskeidenheid dinge te probeer en in die proses nuwe vaardighede te leer.

Wat is jou gunstelingroomysgeur?

“Pistachio” (veral Woolies sʼn).

Wat is jou gunstelingidioom en hoekom?

Dit is net die oortjies van die seekoei – dit beteken dat iets ʼn teken van iets groter is. Ek sien graag die positiewe daarin raak; iets kleins kan die begin van groot dinge wees. Ons moet nooit ons eie waarde om ʼn bydrae te kan lewer, onderskat nie.

Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?

Ek was vir agt jaar ʼn hoërskoolonderwyseres wat Natuurwetenskappe en Lewenswetenskappe gegee het.

Jhani Pottas, dosent: Opvoedkunde.

 

Esmé Leus, dosent: Rekenaarvaardighede

Hoekom het jy hierdie beroep gekies?

Ek het ʼn passie vir IT en jongmense.

Wat is jou stokperdjies?

Ek geniet dit om boek te lees en te stap in die natuur.

Wat is jou gunstelingroomysgeur?

Aarbei.

Wat is jou gunstelingidioom?

Die appel val nie ver van die boom af nie.

Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?

Ek het ook klas gegee by ’n ander instansie.

Esmé Leus, dosent: Rekenaarvaardighede.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.