Search
Close this search box.

Só balanseer ʼn Fontie sy studies en entrepreneurskap

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Om terselfdertyd ʼn student en ʼn besigheidseienaar te wees, kan ʼn uitdagende maar lonende ervaring wees. Willem Albertyn is ʼn 20-jarige Akademia-student wat BCom (Ondernemingsbestuur) studeer terwyl hy terselfdertyd as entrepreneur aan die stuur van sy eie besigheid staan.

Albertyn se entrepreneursreis het begin toe hy tydens ʼn deeltydse werk by ʼn koffiestalletjie meer oor verkope en besigheidsbestuur geleer het. Dit het hom die geleentheid gebied om te sien hoe ʼn besigheid werk en hy het ʼn sakeplan begin opstel om avokadogeregte te maak en te verkoop.

Om sy studies en besigheid te balanseer, vereis effektiewe tydsbestuur. Volgens Albertyn prioritiseer hy sy akademiese verpligtinge veral gedurende eksamentyd, bo dié van sy besigheid. As hy nie tyd agter sy boeke spandeer nie, is hy besig om stelsels te implementeer om sy besigheidsbedrywighede meer vaartbelyn te maak.

Die waardevolle inkomste uit sy besigheid, tesame met die magdom praktiese kennis wat Albertyn tydens sy studies inwin, onderskei hom van sy eweknieë. Sy studies by Akademia het sy denke vernuwe en sy besigheidsvernuf verbeter. Sy besigheid floreer weens wedersydse goeie verhoudings met verskaffers en kliënte wat vir hom van kardinale belang is.

Sy doelwit is om voldoende ondervinding op te doen om sy toekomstige indiensneembaarheid te verbeter. Dit verg egter noukeurige balans en toewyding. Hy beplan om vir kompetisies in te skryf om verdere blootstelling vir sy besigheid te kry en hoop om oor die volgende vyf jaar na verskillende gebiede uit te brei sodat sy avokadobesigheid regoor Suid-Afrika kan floreer.

Hy raai aspirant studente-entrepreneurs aan om geduld aan die dag te lê, aangesien die bou van ʼn suksesvolle besigheid tyd neem. Hy stel voor om ʼn konsep te vind wat goed werk, daaraan toegewyd te bly en daarby te hou totdat die besigheid slaag.

Albertyn se reis toon die moontlikhede en uitdagings van jong studente en entrepreneurs. Sy passie, toewyding en vermoë om tyd doeltreffend te bestuur het hom in staat gestel om studentwees en entrepreneurskap albei gelyktydig aan te pak. Deur sy opleiding te benut, het Albertyn se besigheid gefloreer, en hy leer steeds waardevolle lesse langs die pad. Aspirant-studente-entrepreneurs kan inspirasie uit sy storie put en die pad van akademie en besigheid navigeer met ʼn gefokusde ingesteldheid en bereidwilligheid om te leer en aan te pas. Die Fontiepos raai alle studente en personeel aan om hom en sy besigheid te ondersteun!

Willem Albertyn is ʼn tweedejaarstudent in BCom (Ondernemingsbestuur) met sy eie besigheid, Will Grow.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.