Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

32-jarige LLB-student bewys jy is nooit te oud om te droom nie

Geskryf deur Marisha Hermann, joernalis by die Fontiepos

Op 32-jarige ouderdom is Sabine Engelke dalk ouer as die meeste eerstejaarstudente op kampus, maar vir dié LLB-student is ouderdom glad nie ʼn uitdaging nie.
Sy het as jong dogtertjie reeds vir almal gesê sy gaan eendag ʼn prokureur word, en vandag is sy besig om dié droom te verwesenlik.

Alhoewel sy gefokus was op haar droom, was die reis tot hier nie altyd maklik nie. Alvorens sy ʼn Fontie geword het, het haar loopbaanreis verskeie afdraaipaadjies gevolg, en het sy onder meer as verpleegster, debiteureklerk en entrepreneur diens gedoen. Haar passie vir haar droom het egter nooit verdwyn nie en sy studeer tans LLB, want haar einddoel is om geregtigheid in die wêreld te help bewerkstellig.

Engelke is energiek en leergierig. Sy hou daarvan om vir ure aaneen artikels te lees, en poog om ʼn volronde mens te wees deur haarself toe te rus met alle inligting tot haar beskikking. Sy handhaaf ʼn goeie roetine en maak seker dat sy balans in haar lewe prioritiseer.

Sy vertel dat sy graag iets konstruktiefs wou doen wat toekomswaarde het. Sy kon nie meer net ander tevrede stel nie, maar moes haarself begin gelukkig maak deur haar LLB-kwalifikasie aan te pak. Haar dogtertjie en man ondersteun ook haar nuwe reis ten volle.

Alhoewel daar ʼn ouderdomsgaping tussen haar en medestudente is, geniet sy dit vreeslik baie om by Akademia te studeer. Sy geniet dit om in Afrikaans te kan studeer en waardeer die kleiner studentegemeenskap. Haar ervaring by Akademia is een van respek vir jou medestudente. Haar raad aan ander studente is om op die Spens (die aanlyn leerbestuurstelsel) te speel en dit goed te leer ken. Sy raai hulle ook aan om nie bang wees om vrae te vra nie. Verder deel sy graag die raad om nie druk op jouself te plaas oor foute van die verlede nie.

ʼn Mens weet nooit wat die toekoms vir jou inhou nie, maar jy kan wel aanhou droom. Wie weet? Miskien word die droom van jóú kinderjare ook ʼn werklikheid!

Sabine Engelke is ʼn 32-jarige eerstejaarstudent op Akademia se Centurion-kampus.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.