Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Minister nomineer student vir beurstoekenning

Gepubliseer op: 20 Februarie 2019

Trazeen Mbidlana, ʼn eerstejaar BCom (Ondernemingsbestuur)-student by Akademia, is deur die Minister van Onderwys in die Wes-Kaap, Debbie Schäfer, vir ʼn beurstoekenning genomineer. Community Chest, ʼn niewinsgewende organisasie wat gefokus is op gemeenskapontwikkeling in die Wes-Kaap, het aangebied om die student te borg. Die beurs, ten bedrae van R35 000, wat ʼn hele jaar se studies by Akademia dek, vorm deel van die organisasie se Siyakubona-toekenningsprogram. Tydens ʼn geleentheid op Maandag 11 Februarie 2019 is die beurs deur die Minister van Onderwys by Mbidlana se voormalige skool, Hoërskool Grabouw, oorhandig.

Siyakubona, wat “ons sien jou” beteken, is ʼn uiters gepaste toekenning, aangesien die Mbidlana raakgesien is deur die gemeenskap vir haar harde werk op skool ten spyte van haar uitdagende omstandighede. Mbidlana beskryf dit as ʼn groot voorreg om die beurs te ontvang: “Hierdie beurs is werklik ʼn seëning vir my. Dit beteken baie want nou kan ek verder gaan studeer.” Akademia is saam met haar opgewonde oor die toekenning en wens haar alle voorspoed toe met haar akademiese reis.

Van links na regs: Ralston Parnell (Onderhoof – Hoërskool Grabouw), en Herold Bezuidenhout (Hoof – Hoërskool Grabouw), Trazeen Mbidlana (Akademia-student), Debbie Schäfer (Minister van Onderwys in die Wes-Kaap), en dr. Saretha Brüssow (Dekaan: Onderrig en leer by Akademia). Mbidlana, genomineer deur die Minister van Onderwys in die Wes-Kaap, ontvang ʼn beurstoekenning deur Community Chest tydens ʼn byeenkoms by haar voormalige skool, Hoërskool Grabouw.