Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia vier Internasionale Moedertaaldag saam met die wêreld

Gepubliseer op: 20 Februarie 2019

Internasionale Moedertaaldag word sedert 2000 regoor die wêreld jaarliks op 21 Februarie gevier. Hierdie gedenkdag het ten doel om groter bewustheid te skep oor die belangrikheid van die behoud en ontwikkeling van alle tale. Een van die uitstaande kenmerke van die mensdom is die groot hoeveelheid tale wat ons praat, iets wat kleur, diepte en sin aan ons gedeelde menswees gee. Akademia vier saam met talle taalgemeenskappe dwarsoor die wêreld hierdie rykdom van tale.

Volgens studies is daar na raming vandag 6 000 tale wat wêreldwyd gepraat word, maar ten minste 43% daarvan kan binne enkele geslagte uitsterf.[1] In die globale era is dit veral die kleiner tale wat deur groot tale soos Sjinees, Engels, Arabies en Spaans verdring word – gegewens wat deur Unesco se taalatlas weerspieël word.

“Akademia hoop dat Internasionale Moedertaaldag daartoe sal bydra dat gemeenskappe dwarsoor die wêreld daadwerklike stappe sal neem om die lewensvatbaarheid van hul onderskeie tale te verseker. Trouens, ons droom daarvan dat die verskillende tale nie net sal oorleef nie, maar dat hulle – soos die ou Griekse denkers reeds gesê het – ook goed sal lewe,” sê prof. Danie Goosen, akademiese hoof by die Afrikaanse hoëronderwysinstelling.

Goosen beskryf sy moedertaal, Afrikaans, as ʼn “gemeenskaplike tuiste” vir die wat die taal praat. “Akademia verlei in die besonder deur haar talle segswyses, haar kwinkslae, haar aardsheid, maar ook haar gesofistikeerdheid.” Akademia, nou in haar agste bestaansjaar, bou voort aan Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal. “Een van ons groot uitdagings vandag is om Afrikaans so te versorg dat haar skoonheid nie verlep nie, en dat sy haar aantrekkingskrag as taaltuiste behou,” verduidelik Goosen verder.

Ondanks ʼn groot hoeveelheid kundiges wat reeds op die opvoedkundige voordele van moedertaalonderrig gewys het, is daar ʼn tendens by openbare universiteite om Engels as die enigste onderrigtaal aan te neem. Al is die wêreldtaal Engels, plaas Akademia steeds klem op Afrikaans as onderrigtaal. Dié instelling ontken glad nie die belangrikheid van Engels in die internasionale universiteitswese nie. “Ons studente móét vaardig in Engels kan wees. Indien die grondslag in jou eie moedertaal egter nie goed ontwikkel word nie, is dit baie moeiliker om vaardigheid in ander tale te ontwikkel,” verduidelik Goosen.

Akademia is onbeskaamd ʼn Afrikaanse hoëronderwysinstelling, maar sy ontken daarmee nie die noodsaak van veeltaligheid nie. Inteendeel, met haar klem op Afrikaans maak sy dié vaardigheid juis moontlik. Daarom sal Akademia nou en in die toekoms voortbestaan en voortbou met haar fokus op moedertaalonderrig.

[1] http://www.unesco.org/languages-atlas/index.php