Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia woon Raad op Hoër Onderwys se Kwaliteitsbevorderingskongres by

Gepubliseer op: 1 Maart 2019

Dr. Saretha Brüssow, dekaan: Onderrig en leer, en Liana Venter, registrateur van Akademia, het die Raad op Hoër Onderwys se Kwaliteitsbevorderingskongres, wat vanaf 26 tot 28 Februarie gehou is, bygewoon. Die kongres se tema was “Die bevordering van akademiese integriteit in hoër onderwys”. Dit was vir Akademia gepas om die kongres by te woon, aangesien die instelling voortdurend strewe om op ʼn uitnemende wyse aan die behoefte vir professionele opleiding te voorsien. Akademiese integriteit is een manier waarop Akademia hierdie doelwit nastreef.

Akademiese integriteit word hoog aangeskryf met die oog op geloofwaardigheid, asook om mededingendheid en die gehalte van hoëronderwyskwalifikasies te handhaaf en uit te bou. Verskeie areas waarin akademiese integriteit ʼn rol speel is deur paneelbesprekings en voordragte in oënskou geneem. Daar is ook gefokus op die filosofiese, konseptuele en teoretiese diskoerse oor akademiese integriteit en ondersoek gedoen na die akademiese integriteit van kurrikula en kwalifikasie­standaarde, onderrig en leer, assessering en sertifisering, navorsing en publikasies, praktyke wat akademiese integriteit bedreig, en die goeie praktyke wat gevolg kan word vir die bevordering van akademiese integriteit in die hedendaagse universiteitswese.

Akademia het met verskeie Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings van beide die openbare en private sektor skouers geskuur. Verteenwoordigers van die lidlande van die streeksorganisasie, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, onder andere van Botswana, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe het ook as hoofsprekers en aanbieders opgetree.

Akademia is vol ywer om ons akademiese integriteit verder uit te bou en toenemend maniere te vind om aan die voorpunt van hoër onderwys in suidelike Afrika te wees.

Van links na regs: Dr. Saretha Brüssow (Dekaan: Onderrig en leer by Akademia), dr. Amani Saidi (Direkteur: Kwaliteitsversekering en bevorderingskoördineerder van die Raad op Hoër Onderwys), en Liana Venter (registrateur by Akademia) tydens die Raad op Hoër Onderwys se Kwaliteitsbevorderingskongres wat vanaf 26 tot 28 Februarie 2019 gehou is.