Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Studente begin opvoedkundige speelgrot by Filadelfia Ark

Gepubliseer op: 20 Februarie 2019

Vyf Ondernemingsbestuurstudente, wat deel vorm van die Elitebeursprogram by Akademia, begin vanjaar ʼn speelgrot by die Filadelfia Ark niewinsgewende sorgsentrum, wat skuiling en voedsel vir hawelose en behoeftige mense bied. Die speelgrot het ten doel om vir kinders tussen die ouderdomme van vyf en nege ʼn veilige speelruimte te bied waar hulle toegang tot opvoedkundige speelgoed het, om sodoende lewensbelangrike intellektuele en motoriese vaardighede te ontwikkel. Die groepslede van die speelgrotprojek is Minette Nel, Yolandi Kruger, Marlette Smit, Nadine Slump en Franco Smith.

Hierdie groep studente het jaarliks sekere uitkomste waaraan hulle moet voldoen ten einde die Elitebeursprogram te voltooi. Een van die uitkomstes is om ʼn volhoubare projek, wat werklik ʼn verskil in die lewens van die gemeenskap sal maak, as groep aan te pak. Hierdie studente het vroeër vanjaar die speelgrotprojek aan ʼn paneel projekbestuurkundiges voorgelê en die konsep verder verfyn na aanleiding van die terugvoer wat hulle ontvang het. Die doel van hierdie projek is om ʼn daadwerklike verskil in die lewens van behoeftige kinders te maak, terwyl die studente hulle projekbestuurvaardighede op die proef stel en die geleentheid kry om hulle vaardighede prakties te ontwikkel.

Die studentegroep beplan om deur die loop van die jaar opvoedkundige speelgoed te versamel, fondsinsamelings te hou en die speelgrot kindervriendelik in te rig. Sodra die speelkamer goed ingerig is, sal die speelgrot deur vrywillige onderwysers van die Filadelfia Ark gekoördineer word. Die beoogde datum vir die bekendstellingsfunksie van die speelgrot is Vrydag 6 September.

Die publiek word uitgenooi om betrokke te raak deur opvoedkunde speelgoed te skenk of om finansiële bydraes te lewer om hierdie speel-en-leer-fasiliteit ʼn werklikheid te maak. Kontak gerus vir Nadine Slump by 082 929 6896 of stuur ʼn e-pos na nadine@akademia.ac.za om betrokke te raak.

Meer oor Filadelfia Ark

Filadelfia Ark is ʼn sorgsentrum geleë in die weste van Pretoria. Die sentrum is opgerig vir die gemeenskap deur die gemeenskap, om vir hawelose mense te sorg. Ongeveer 450 persone woon gratis by die sorgsentrum in houtwonings en word voorsien met drie maaltye per dag. Inwoners hou hulleself besig met die instandhouding en ontwikkeling van die sorgsentrum en omliggende areas deur self te boer, hout- en staalwerk te doen, en om tuin te maak en te kook. Ongeveer honderd kinders tussen die ouderdomme van een tot agtien jaar oud woon ook op die perseel. Besoek Filadelfia Ark se webblad vir meer inligting oor die sentrum.

Links na regs: Die groepslede van die speelgrotprojek – Minette Nel, Yolandi Kruger, Marlette Smit, Nadine Slump en Franco Smith – begin vanjaar ʼn veilige speelruimte, ten volle ingerig met opvoedkundige speelgoed, by die Filadelfia Ark sorgsentrum vir haweloses.