Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Wêreldboeke- en Kopieregdag: Verseker só die volhoubare toekoms van die boekbedryf

Gepubliseer op: 23 April 2024

Geskryf deur Karien Brits en Sarita Blignaut, taalpraktisyns by Akademia.

Dit is vir ʼn hoëronderwysinstelling soos Akademia belangrik om op 23 April Wêreldboeke- en Kopieregdag te vier. Boeke en veral die inhoud van die boeke is uiteraard belangrik vir enige akademikus en student. Dit is egter nie so eenvoudig soos om ʼn boek van die rak af te haal of op jou Kindle af te laai nie. Die uitgee van akademiese boeke is ʼn tydsame en moeisame proses. Die manuskrip word na ewekniebeoordelaars vir kommentaar gestuur en dan word dit weer deeglik deur ʼn teksredakteur onder hande geneem om feite- en taalfoute uit te stryk.

Kom ons staan eers stil by die datum waarop hierdie dag gevier word. Dit is die sterfdag van Miguel de Cervantes (Spaanse skrywer), Inca Garcilaso de la Vega (Spaanse digter) asook William Shakespeare (Engelse dramaturg). Tog is daar ʼn kinkel in hierdie kabel. Hulle is inderdaad al drie in 1616 oorlede maar nie op dieselfde dag nie. Al word die sterfdag as 23 April aangegee, is Shakespeare en sy twee Spaanse kollegas tien dae uit mekaar oorlede. Die rede daarvoor is dat Spanje en Engeland op daardie stadium verskillende kalenders gebruik het. Spanje het toe reeds die gregoriaanse kalender gebruik en Engeland het nog die juliaanse kalender gebruik.

In ʼn era waarin inligting op die punte van ons vingers is, is die versoeking groot om te dink dat die inligting (in e-boekformaat of afskrifte van ʼn hardekopie) gratis versprei mag word. Dit verklaar dalk die WhatsApp-groepies wat veral in pandemietyd ontstaan het. Dit is egter nie net onwettig nie, maar dit het ook katastrofiese gevolge vir die boekebedryf as daar so onverantwoordelik met hierdie inhoud omgegaan word.

Met elke onnadenkende en onwettige aanstuur, krimp die skrywers en die span (soos taalpraktisyns, grafiese ontwerpers en vakkundiges) agter die skrywers, se salarisse. Dit hou in dat ons skrywers en ander kundiges op die lang termyn sal verloor. Ons mag dalk nog boeke hê, maar dit mag dalk nie meer betroubare inhoud hê nie. En ja, ons moet beslis nog inhoud wat deur kunsmatige intelligensie (KI) gegenereer word nagaan. Ons kan nie net blindelings alles glo wat deur KI gegeneer word nie. Die mens word te lui om te dink asook te bang om hulle eie opinies te formuleer. Gewoonlik word daar eerste gekyk na wat ander se opinie is, eerder as jou eie opinie vorm deur gesaghebbende bronne te raadpleeg. Skrywers spandeer soveel tyd daaraan om ʼn teks te produseer wat goeie inhoud bevat en om so ʼn sinvolle bydrae tot die lesergemeenskap te maak.

Terug na die sterfdag van ons skrywers. Indien ons nie redakteurs het wat saam met die skrywers die feite nagaan nie, mag ons dink dat Cervantes, De la Vega en Shakespeare op dieselfde dag oorlede is. In hierdie geval maak tien dae seker nie so baie saak nie, maar as dit by tien millimeter of R10 miljoen in ander vakgebiede kom, mag dit ʼn reuseverskil maak.

Kom ons respekteer ons skrywers se kopiereg en knyp maar eerder ʼn paar rand af om ons boeke op ʼn wettige wyse aan te skaf. Op hierdie manier verseker ons die volhoubare toekoms van die boekbedryf asook die integriteit van die inhoud van hierdie boeke. Dit is tog lekker om ʼn boek in die hand te hê en lekker te kan lees.

Karien Brits en Sarita Blignaut, taalpraktisyns by Akademia, glo dat boekmakers vergoed moet word om die toekoms van betroubare inhoud te verseker.