Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-daghuise sit beste voetjie voor met splinternuwe handelsmerke

Gepubliseer op: 24 April 2024

Akademia se nuwe dames- en mansdaghuise, Huis Daglelie en Huis Karoo, het onlangs te midde van groot opgewondenheid hul nuwe handelsmerke bekendgestel.

Daghuise het dit ten doel om vir studente wat deel van die instelling se voltydse kampusmodel is, maar nie in ʼn koshuis bly nie, die geleentheid te bied om die pret van die koshuis- en studentelewe te geniet. Op hierdie manier kan die studente koshuisaksies, dinees en alle kultuur- en sportfunksies van die daghuise bywoon en só deel vorm van ʼn unieke en besondere koshuiskultuur.

Huis Daglelie

Gedagtig aan die naam, is Huis Daglelie se handelsmerk tekenend van skoonheid en vroulikheid. Die daglelie-embleem herinner ook aan vernuwing, deursettingsvermoë, onafhanklikheid en selfstandigheid. Volgens Lizari Bothma, primaria van dié daghuis, verteenwoordig die nuwe handelsmerk nie net dié daghuis se toetrede tot Akademia se bruisende koshuis- en studentelewe nie, maar ook ʼn verbondenheid tot vriendskap, aanvaarding, waardigheid en versorging. “Die dames van Huis Daglelie is méér as net vriendinne, hulle is rentmeesters wat met verantwoording na mekaar omsien. Binne hierdie band is elke “Lelie” daartoe verbind om die goeie, die ware en die skone in stand te hou, te beskerm en daarop voort te bou,” verduidelik Bothma.

Huis Daglelie se korporatiewe kleure is ligpers, donkerpers en liggrys. Hierdie kleurpallet word simbolies gekoppel aan koninklikheid en ambisie.

Die waardes waarop Huis Daglelie gebou is, sluit in waardigheid, barmhartigheid en toewyding. Hierdie waardes is soos ʼn goue draad deur al die daghuis se aktiwiteite verweef. Volgens Michelle van Niekerk, die daghuis se koshuisouer, is dit ʼn “ongelooflike voorreg” om deel van Huis Daglelie se totstandkoming te wees. “Ek is trots om my met dié daghuis te vereenselwig en dit is só lekker om te sien hoe die huiskomiteelede ontwikkel en tot hul reg kom. Elkeen van ons dra met trots die embleem van die daglelie, en sien saam daarna uit om van krag tot krag te groei,” sê Van Niekerk.

Die huiskomitee van Huis Daglelie is: Bothma (primaria), Carlien Slabbert (onderprimaria), Kayla Roets, Niné Roets, Sonika Telepis en Johmari Janse van Rensburg.

Huis Daglelie se nuwe handelsmerk.
Die bestuurspan van Huis Daglelie is, van links, Michelle van Niekerk (huisouer), Sonika Telepis, Johmari Janse van Rensburg, Carlien Slabbert, Lizari Bothma, Niné Roets en Kayla Roets.

Huis Karoo

Die handelsmerk van Huis Karoo spreek tot die ryke verskeidenheid, aanpasbaarheid en volharding wat met die uitgestrekte Karoovlaktes vereenselwig word. Hiermee saam spreek die Gemsbok-embleem simbolies tot die majestueuse aard van een van Suid-Afrika se mees erkende en geliefde boksoorte.

Volgens Trevan Lang, primarius van dié daghuis, word integriteit, respek, deursettingsvermoë, openheid en goeie sportmanskap as hul waardes gehuldig. Lang verduidelik dat, getrou aan die instelling se vormingsideaal, dié daghuis daartoe verbind is om die denke én die hart van hul lede te vorm. “Die lede van Huis Karoo is broers en daarom is ons verbonde tot ʼn sterk gemeenskapsgevoel. Ons is hier om te dien én te presteer, en dit is vir ons belangrik om ons waardes doelgerig uit te lééf,” sê Lang.

Huis Karoo se korporatiewe kleure is donkergroen, sonsak, goud en sand, en herinner aan die aardse kleurskema wat in die Karoo te vinde is. Die simboliek van hierdie aardse eenvoud ontsluit ʼn stille krag.

Huis Karoo se koshuisouer, Stephen Nel, meen dit is ʼn groot eer en voorreg om deel te wees van die geskiedkundige nalatenskap wat met die totstandkoming van dié daghuis gepaard gaan. “Die huiskomitee neem die eerste tree op hul pioniersreis en dit is lekker om te sien hoe die komitee die waardes van die daghuis omarm,” sê Nel. Hy voeg by dat die daghuis reeds ʼn groot indruk gemaak het by geleenthede soos die eerstejaarskonsert asook die eerstejaarsportgeleenthede.

Die huiskomitee van Huis Karoo is: Lang (primarius), David Burger (onderprimarius), Lodewyk Willemse en Niel Bekker.

Huis Karoo se nuwe handelsmerk.
Huis Karoo se bestuur is, van links, Niel Bekker, Lodewyk Willemse, David Burger, Trevan Lang en Stephen Nel (huisouer).