Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Aletha draf nauurse kwalifikasie kaf terwyl sy voltyds werk

Gepubliseer op: 12 April 2024

Akademia-alumnus, Aletha Marx (55), het met ʼn huppel in haar stap oor die verhoog geloop tydens vanjaar se kwalifikasieplegtigheid. As nauurse student het Marx haar LLB-kwalifikasie in vier jaar voltooi terwyl sy voltyds by Akademia gewerk het en só bewys dat waar ʼn wil is, daar beslis ook ʼn weg is.

“Ek is baie trots op my prestasie en dankbaar dat ek dit kon doen met die ondersteuning en aanmoediging van my familie, my mede-Fonties en kollegas. Harde werk word altyd beloon en dit is vir my lekker om te besef dat ek deur my deursettingsvermoë ʼn lansie kon breek vir ouer studente,” sê Marx.

Marx is reeds die afgelope agt jaar werksaam by Akademia en is die bestuurder: Studente- en akademiese administrasie. Volgens haar was die besluit om via die instelling se nauurse afstandsmodel te studeer ʼn voor die hand liggende keuse. “Aan die een kant het dié onderrigleermodel my toegelaat om as ʼn ouer student my studiedroom na te jaag, terwyl ek terselfdertyd myself steeds in my voltydse beroep kon verdiep. As jy my vra is dit voorwaar ʼn wen-wen-situasie!”

Die keuse om die LLB-program te volg spruit voort uit Marx se voorliefde vir Familiereg. “Daar is soveel kinders wat deur die optrede van hul ouers benadeel word, en méér nog families wat uitmekaarspat as gevolg van ondeurdagte besluite en dade. Dit is my droom om, toegerus met my LLB-kwalifikasie, ʼn verskil in diesulke situasies te kan bewerkstellig en só te help toesien dat reg en geregtigheid seëvier,” verduidelik Marx. Sy vertel voorts dat sy derhalwe vir Familiereg veral ook aanklank gevind het in vakke soos Deliktereg en Bewysreg.

Marx skryf die sukses van haar studie toe aan goeie selfdissipline. Sy voeg by dat hoewel dit nie altyd maklik óf lekker is om agter die boeke in te skuif of opdragte te voltooi as mense om jou langnaweke geniet nie, dit elke opoffering werd is. “As ek vandag terugkyk oor my studietydperk dan is ek baie dankbaar teenoor Akademia se kundige dosente wat werk op ʼn praktiese en logiese wyse verduidelik. Hierdie verbondenheid van akademici tot die akademiese prestasie van elke student kan nie genoeg beklemtoon word nie,” meen Marx.

Op die vraag of sy enige wenke het vir ander werkende persone wat ook hul studiedrome wil najaag, sê Marx dat goeie beplanning belangrik is. “Neem bestek van jou huidige situasie, insluitende jou sosiale verpligtinge en gesinslewe. Begin klein deur jou aantal modules te beperk om jou lewensstyl te pas. Studeer liewer ʼn jaar of wat langer en verseker só dat jy jou studie en jou lewe voluit kan geniet.” Sy meen voorts dat Akademia ʼn studietuiste sonder weerga is, en dat die nauurse afstandsmodel persone wat voltyds werk soos ʼn handskoen pas. “Akademia bied hul studente baie ondersteuning, nie net akademies nie, maar ook emosioneel en sosiaal. As ʼn Fontie word jy as volronde mens ontwikkel, ongeag of jy gister matriek geskryf het of soos ek, donkiejare terug,” verduidelik Marx.

Marx vertel opgewonde dat sy haarself eendag in die regswese wil vestig, maar dat sy vir eers haar rol by Akademia geniet. “Dit is regtig ʼn hoendervleisoomblik as jy besef dat jy deel is van iets veel groter as jouself. Om dié rede is dit vir my baie opwindend om as ʼn Akademia-personeellid saam te mag bou en vorm gee aan ʼn hoëronderwysinstelling wat baanbrekerswerk verrig vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe,” sê Marx.

Akademia-alumnus, Aletha Marx, het die LLB-kwalifikasie via die nauurse afstandsmodel in die voorgeskrewe tyd van vier jaar voltooi terwyl sy voltyds gewerk het.