Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student lééf haar droom as storieverteller op die radio uit

Gepubliseer op: 12 April 2024

Akademia-student, Amoné Schoombie (20), is van nature nuuskierig oor die wêreld rondom haar, is passievol oor die mediabedryf, is lief vir Afrikaans en is op die koop toe gaande oor die kuns van storievertelling. Om die redes was die instelling se BA (Joernalistiek en Kommunikasie)-program van meet af vir Schoombie ʼn wenkombinasie.

“Daar is vir my niks lekkerder as om in my vrye tyd ʼn boek nader te trek en nuwe kennis op te doen nie,” sê Schoombie en voeg by dat sy, as ʼn toekomstige joernalis, veral die dinamika van ʼn goeie storie geniet. Volgens Schoombie het ʼn goeie storie die vermoë om emosies op te roep en optrede te beïnvloed. As ʼn toekomstige joernalis droom sy daarvan om as ʼn impakvolle Afrikaanse storieverteller vir haar ʼn plek in die plaaslike mediabedryf uit te kerf.

Schoombie is reeds goed op dreef om haar mediadroom te verwesenlik. Sy het in Desember 2022 as ʼn intern by die nasionale radiostasie, RSG, begin werk. Sedertdien het sy nie net die geleentheid gehad om haar praktiese én tegniese vaardighede agter die skerms op te skerp nie, maar kon sy ook eerstehands ervaar wat dit behels om ʼn radioaanbieder te wees. Sy vertel dat sy aanvanklik gehelp het met die vervaardiging van opleidingsvideo’s en dat dié aanvanklike taak vir haar die baan gewerp het om in 2023 op ʼn kontrakbasis by dié uitsaaireus te begin.

“Ek is tans in die bevoorregte posisie om as radioaanbieder, vervaardiger, navorser en teksskrywer by RSG te werk – iets wat vir my ongelooflik lekker is. Ek het ook reeds ses programme vir die stasie se opvoedkundige program, Kompas, vervaardig en aangebied,” vertel Schoombie. Sy voeg by dat die moedertaalonderrig wat sy by Akademia ontvang haar in staat stel om hierdie take met selfvertroue aan te pak omdat sy haarself na behore kan uitdruk en opdragte met begrip verstaan.

Haar gunstelingvakke is Kommunikasiebestuur en Joernalistiek en sy vertel dat alhoewel hierdie vakke wat inhoud betref baie verskil, dit aan haar ʼn wonderlike idee gee van hoe die praktyk daarvan uitsien. Schoombie moedig medestudente aan om ook reeds terwyl hulle studeer in hul toekoms te belê deur internskappe te doen. “ʼn Internskap gaan nie daaroor om ʼn salaris te verdien nie, maar eerder om jou mondering as ʼn toekomstige beroepspesialis te verbeter,” verduidelik Schoombie. Sy voeg ter illustrasie by dat haar ervaring as ʼn intern by RSG nie net haar beroepsgereedheid bevorder het nie, maar ook haar sagte vaardighede help ontwikkel het. Hierdie vaardighede sluit in kommunikasie, navorsing en skryfvaardighede. “Praktiese ervaring gee jou ʼn voorsprong in die wêreld van werk en laat jou toe om jou toekomstige loopbaan te toetsbestuur,” sê Schoombie.

As dit kom by die keuse van Akademia as ʼn studietuiste meen Schoombie dat die instelling se ondersteunende en dinamiese leeromgewing ʼn groot trekpleister vir enige voornemende student is. Hiermee saam meen sy dat die instelling se verbondenheid tot onder meer moedertaalonderrig, akademiese uitnemendheid en die Christelike geloof ʼn eiesoortige en gesonde grondslag vir studente lê. “Die hulpvaardige en vriendelike personeel is nóg ʼn rede om die instelling as ʼn studietuiste te oorweeg omdat dié gesindheid ʼn omgewing help skep waarin studente akademies en persoonlik kan floreer,” sê Schoombie.

Sy sluit af deur te sê dat sy opgewonde is oor die toekoms en dat sy daarvan droom om sommer eersdaags soos haar mediahelde, Mariëtta Kruger en Ruben Delmage, die stories van Suid-Afrikaners van oraloor met luisteraars sal kan deel – stories van durf, waagmoed, humor en verbondenheid.

As ʼn toekomstige joernalis droom Amoné Schoombie daarvan om as ʼn impakvolle Afrikaanse storieverteller vir haar ʼn plek in die plaaslike mediabedryf uit te kerf.