*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 15 Februarie 2026
Geskryf deur Eugene Steyn, junior dosent: Rekenaarwetenskappe aan Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe
Die impak van rekenaars en die gepaardgaande tegnologieë het reeds, en is steeds besig, om die wêreld ingrypend te verander. Dink maar net aan die gemak waarmee globale skakeling plaasvind, verhoogde doeltreffendheid danksy geoutomatiseerde prosesse, die waarde van data-analisering en die ongelooflike wyse waarop kunsmatige intelligensie (KI) ingespan word vir onder meer opleidingsverdieping in sektore soos gesondheidsorg en onderwys.
Op Wêreldrekenaardag, wat op 15 Februarie gevier word, word daar internasionaal gefokus op die vele interessante ontwikkelings in die veld van rekenaarwetenskappe. Een só ʼn ontwikkeling is wolkverwerking (cloud computing).
Wolkverwerking in ʼn neutedop
Wolkverwerking verwys na die “opaanvraaggebruik” van gedeelde rekenaarhulpbronne oor ʼn netwerk, gewoonlik die internet, op ʼn betaal-volgens-gebruiksbasis. In die verlede moes besighede etlike miljoene rande spandeer om veilige ruimtes te huur om hul datasentrums te huisves. Vandag, danksy die ontwikkeling en uitbreiding van wolkverwerkingstegnologie kan hierdie infrastruktuur vinnig, doelgerig en met buigsaamheid op ʼn wêreldwye skaal opgestel word.
Die grootste rolspelers in dié veld sluit in Amazon Web Services (AWS), Microsoft Azure en Google Cloud. Talle van die webtoepassings wat ek en jy daagliks gebruik word op hierdie platforms gehuisves. Verskeie KI-toepassings, soos byvoorbeeld gewilde taalmodelle, word ook by wyse van hierdie platforms ontwikkel en gehuisves. Akademia se aanlyn leerbestuurstelsel, die Spens, word op AWS gehuisves. Laasgenoemde platform het die wolkverwerkingskonsep ongeveer twintig jaar terug op groot skaal begin ontwikkel en uitrol. Vandag verteenwoordig AWS een van die voorloperprodukte in die Amazon-portefeulje met ʼn omset van bykans $33 miljard (R600 miljard) in die vierde kwartaal van 2025.
Gerat en gereed vir die toekoms van rekenaarwetenskappe
Akademia se Departement Rekenaarwetenskappe, soos gesetel in die Fakulteit Natuurwetenskappe, is gerat en gereed vir die opwindende toekoms van rekenaarwetenskappe. In die lig hiervan word wolkverwerking as deel van die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program, en meer spesifiek die sagteware-ontwikkelingstroom, aangebied.
Hierdie toegewyde module is geskoei op onderskeidelik die Comptia Cloud+ en AWS Certified Cloud Practitioner sertifiserings, en bied aan studente ʼn gulde geleentheid om nie nét die gebruik van hierdie platforms te bemeester nie, maar ook om self as toekomstige rekenaarwetenskaplikes hierdie gesogte sertifiseringsstatus te bekom.
Akademia is ʼn geregistreerde lid van die AWS Academy en hierdie status verleen aan die instelling vrye toegang tot verskillende kursusse wat gratis aan studente beskikbaar gestel kan word. Studente kan ook soos gevolg van Akademia se lidmaatskap baat by spesiale aanbiedings soos afslag op eksamenbewyse vir hul persoonlike sertifisering as AWS-platformkundiges.
Die eerste student wat dié sertifisering suksesvol verwerf het, is Cindy Botha. Ná die voltooiing van die wolkverwerkingsmodule het Botha die AWS-hulpbronne benut en bestudeer en haar eksamenbewys deur Akademia aangekoop. Sy is nou ʼn trotse AWS Certified Cloud Practitioner.
Diesulke sertifiserings verteenwoordig ʼn ongelooflike waardetoevoeging tot studente se professionele arsenaal, en is net nóg ʼn voorbeeld van hoe wêreldklas opleiding in rekenaarwetenskappe die boustene van suksesvolle loopbane verteenwoordig. Hierdie boustene en gepaardgaande professionele afronding onderskei Akademia-studente in die werksplek en getuig van die instelling se verbintenis tot uitnemendheid.
Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar open op 1 April. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.