Search
Close this search box.

Windhoek-ma en -seun albei trotse Fonties met ʼn gedeelde regsdroom

Gepubliseer op: 9 Desember 2024

Dit is sonder twyfel ʼn baie spesiale dag wanneer jy jou kwalifikasie verwerf en dié hoogtepunt boonop met jou vriende en familie kan deel. Vir René van Wyk (52) en haar seun, Juan Viljoen (28), sal hierdie vooruitsig ekstra spesiaal wees wanneer hulle oor twee jaar sáám oor die verhoog kan stap tydens Akademia se kwalifikasieplegtigheid.

Dié ma-en-seun-duo van Windhoek in Namibië is albei tans tweedejaarstudente in die LLB-program, en voltooi hul studie via die instelling se nauurse afstandsmodel deur gebruik te maak van die e-leeropsie. Beide meen dat die aanpasbaarheid van dié onderrigleermodel dit vir hul moontlik maak om ʼn balans tussen hul bedrywige leefstyl en hul studieverpligtinge te vind. Volgens Van Wyk het sy tydens die koronaviruspandemie en die gepaardgaande grendeltyd, waartydens die gasvryheidsbedryf waarin sy haarself bevind lamgelê is, begin nadink oor verdere studie. “Ek het op Akademia se sosialemediavoetspoor afgekom, en was dadelik opgewonde,” onthou Van Wyk en voeg by dat sy toe begin het om in alle erns navorsing oor deeltydse studiemoontlikhede te doen. “Ek het vir Juan van Akademia vertel en kort voor lank was dit ʼn maklike keuse om te maak om dié instelling as ʼn studietuiste vir beide van ons te kies,” sê Van Wyk.

Volgens Van Wyk, ʼn geleentheidsbeplanner wat reeds die afgelope twintig jaar aan die stuur van haar eie besigheid staan, maak haar studie deel uit van ʼn sabbatsreis wat sy tans onderneem. Sy vertel dat sy ná skool met ʼn BA (Regte)-program by ʼn ander universiteit begin het, maar dat sy as jong student voor die “lekkerte van studentwees” geswig het. Toe haar seun dus aandui dat hy in ʼn loopbaan in die regte belangstel, is haar eie belangstellingsvlam opnuut aangevuur. “Ek het besluit om óók weer agter die boeke in te skuif, deels omdat ek steeds ʼn regsdroom koester én omdat ek my seun op sy studiereis wou ondersteun en bemoedig,” verduidelik Van Wyk

Op sy beurt meen Viljoen, wat in die korttermynversekeringsbedryf werksaam is, dat Akademia se Afrikaanse aanslag sy belangstelling geprikkel het. Hy vertel dat hy op ʼn gereelde basis gekonfronteer word met mense wat wil weet waarom hy nou juis kies om in sy moedertaal te studeer as die howe hoofsaaklik in Engels funksioneer. Sy antwoord hierop is dat hy ongelooflik baie leer omdat hy die tyd neem om Engelse handboeke en gepaardgaande regspraak vanaf Engels na Afrikaans te vertaal. Op hierdie manier word die boekkennis deeglik begrond en kan hy, by wyse van moedertaalonderrig, die inligting maklik konseptualiseer en sy eie maak. “Ek vind dié proses baie leersaam en ek wéét dat ek op hierdie manier ʼn besliste tweetalige voorsprong vir myself skep,” verduidelik Viljoen.

Viljoen vertel dat sy familie altyd grappenderwys meen dat ʼn loopbaan in die regte hom soos ʼn handskoen pas omdat hy gebore is om te stry. Op ʼn meer ernstige noot vertel hy dat die regte, politiek en sosiale geregtigheid hom nie net na aan die hart lê nie, maar ook vir hom baie interessant is. Hiermee saam fassineer antropologie (die studie van mense) hom terdeë en verteenwoordig die LLB-program ʼn samevoeging van al dié belangstellingsvelde.

As dit kom by hulle gedeelde studiereis, getuig beide dat daar wel ʼn mate van mededinging tussen hulle is, maar dat alles in ʼn gesonde gees gedoen word. “Natuurlik werk ons hard, nie net om deur te kom nie, maar ook vir spogregte!” lag Van Wyk. Sy vertel dat haar seun haar gou jammer kry as sy minder punte vir ʼn werksopdrag of toets kry, maar dat haar moederhart warm klop as Viljoen goed presteer.

Hul gesamentlike studiereis is egter nie die eerste avontuur wat hierdie ma en seun saam aanpak nie. Van Wyk en Viljoen het al vir ses maande saam voetgeslaan (backpacking) in Argentinië. Oor dié spesiale tyd saam raak Van Wyk liries en vertel dat sy en haar seun nie net op mekaar aangewese is nie, maar mekaar ook baie goed verstaan. “Soos die lewe sy gang maak, raak geleenthede vir avonture, hetsy vir vakansie of vir studie, minder. Ouers moet werk, kinders word groot en almal se verantwoordelikhede word meer. Ek is baie dankbaar vir dié tyd wat ek saam met my seun kan spandeer,” sê Van Wyk.

Viljoen meen dat hul studiereis beslis hul ouer-kind-verhouding versterk, omdat hulle sáám dié onbekende trotseer. Hy verduidelik dat omdat hulle verskillende belangstellings binne die regte het, hulle ook baie by mekaar leer.

Praktiese advies vir ander Fonties wat werk en studeer

Oor werk én studeer is albei dit eens dat hoewel dit aanvanklik uitdagend is, dit tóg makliker word en beslis die moeite werd is. Hulle deel graag die volgende advies met ander werkende Fonties:

  • Wees toegewyd aan jou einddoel. Hierdie toegewydheid sal die opofferings die moeite werd maak en help om te verseker dat jy nie jou studiegeld in die water gooi nie. Besef en maak vrede met die feit dat jy oor naweke en vakansies agter die boeke sal moet inskuif. Die wete dat jy egter ná die suksesvolle voltooiing van jou studie jou drome sal kan verwesenlik maak al dié harde werk beslis die moeite werd.
  • Bestuur jou tyd goed, en jy sal ʼn gesonde balans kan tref. “As ʼn gesinsman kan ek kwaliteit-tyd saam met my gesin spandeer, tyd afknyp vir sosiale verpligtinge, my musiekstokperdjie beoefen én steeds ʼn goeie puntestaat volhou,” sê Viljoen.
  • Iewers gaan iets op die grond val en agterweë bly. Skep moed en leer uit jou foute. Moenie dat ʼn tydelike uitdaging jou droom oor die langtermyn kortwiek nie.

Indien jy soos Van Wyk en Viljoen óók ʼn studiedroom wil verwesenlik, doen vandag nog aansoek vir studie tydens die 2025- akademiese jaar. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting.


René Van Wyk en Juan Viljoen is méér as net ma en seun, hulle is ook mede-Fonties wat vanjaar hul tweedejaar van LLB-studie voltooi het.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.