*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 15 Februarie 2026
Geskryf deur dr. Jaco du Toit, departementshoof: Rekenaarwetenskappe aan Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe
Wêreldrekenaardag word vanjaar op 15 Februarie gevier. Op dié dag word die kollig opnuut op rekenaartegnologie geskyn, asook op nuwe industrietendense, die kundiges wat die inligtingstegnologiebedryf definieer, en die belangrikheid van voortgesette gehalteopleiding.
In ʼn snelveranderende tegnologiese wêreld word ons gekonfronteer met die realiteit dat baie persone hulself deesdae as ʼn programmeerder beskou. Hierdie selfbeskouing het so ʼn groot impak op die bedryf dat die term daarvoor, naamlik skynprogrammering (vibe coding) in 2025 deur die Collins English Dictionary as die woord van die jaar aangewys is.
Skynprogrammering en die skeptisisme wat daarmee gepaard gaan
Skynprogrammering is die vermoë om met behulp van kunsmatige intelligensie (KI) rekenaarprogramme te kan skryf. Dit laat persone toe om vir ʼn kletsbot ʼn stel normale instruksies, in welke taal ook al, te gee en só ʼn program te skryf wat weliswaar as ʼn werkende stelsel gebruik kan word.
Skynprogrammering dra daartoe by dat programmeringsvaardighede binne die bereik van Jan Alleman is. Enige persoon wat vandag iets soos ʼn sigblad gebruik, sal die blad se funksionaliteit kan verryk deur programmering. Net so sal persone wat herhalende take op ʼn rekenaar moet doen met betreklike min moeite in staat wees om diesulke take met behulp van ʼn kletsbot en ʼn basiese rekenaarprogram vir hulself te vergemaklik.
Probeer dit gerus self: Vra jou gunstelingkletsbot om vir jou ʼn sakrekenaartoepassing te skryf. Jy sal sien dat die kletsbot sommer gou vir jou die programkode vir dié toepassing sal skryf. Méér nog, hierdie kode sal werk en jy sal gevolglik ʼn sakrekenaar ryker word. Baie geluk, jy is nou vir alle praktiese doeleindes ʼn programmeerder, al verstaan jy nie ʼn enkele programmeringsbeginsel nie.
Dit is egter nie so maklik om vir ʼn kletsbot te vra om vir jou ʼn meer komplekse program, soos byvoorbeeld ʼn personeelbestuurstelsel, te skryf nie. Die rede hiervoor is dat die kletsbot nie duidelik weet wat jy in so ʼn bestuurstelsel soek nie en gevolglik nie aan die komplekse aard van die versoek kan voldoen nie.
Die belofte wat skynprogrammering, in sy eenvoudigste vorm en toepassing, voorhou is myns insiens egter nog nie bewaarheid nie. Selfs by wyse van skynprogrammering word die sogenaamde programmeerder gekonfronteer deur vele uitdagings, soos byvoorbeeld om sy/haar stelsel duidelik in ʼn gekose taal uit te druk. In kort: die rekenaartegnologiebedryf is – met rede – skepties oor die gebruik van skynprogrammering.
Die vraag na eienaarskap en verantwoordbaarheid
Skynprogrammering mag dalk die programmeringsproses versnel, maar daar moet steeds aan die vraag na eienaarskap en verantwoordbaarheid (in terme van die geskryfde kode) aandag gegee word.
ʼn Rekenaarprogram is nie ʼn statiese ding nie, en die proses is nie eenmalig nie. Gebruikers se behoeftes verander voortdurend; foute kan in die koderingsproses insluip, en die kode kan tot sekuriteitsprobleme lei. Al hierdie faktore moet in berekening gebring word én die geskryfde kode moet doelgerig onderhou word. In praktyk beteken dit dat iemand steeds die detail in die kode moet verstaan sodat foute effektief reggestel kan word en funksionaliteit bygevoeg kan word.
Wie neem eienaarskap en verantwoordbaarheid as ʼn kletsbot die kode geskryf het? Die kletsbot? Beslis nie!
Die waarde van goed opgeleide programmeerders
Die vraag waarmee ons na dese gekonfronteer word, is of programmeerders voortaan wel by opleiding in die rekenaarwetenskappe kan baat. Het ons nie ʼn punt bereik waar KI hierdie tegniese kenners gaan vervang nie?
Die antwoorde op hierdie vrae is multidimensioneel van aard. Hoewel die programmeerder se werk deur KI vergemaklik kan word, moet daar steeds ʼn vlees-en-bloed persoon wees om eienaarskap en verantwoordelikheid van geskryfde kode te neem. Programmeerders moet steeds foute in kode kan herken, kan regmaak en sekuriteitskwessies hanteer. In die lig hiervan word goed opgeleide stelselontwerpers en -argitekte baie belangrik om seker te maak dat komplekse stelsels noukeurig ontwerp en saamgestel word. Hierdie analitiese en bestuursverantwoordelikhede kan nie aan ʼn kletsbot toegeken word nie.
Stel jy belang in ʼn loopbaan as ʼn programmeerder? Akademia se BSc (Rekenaarwetenskappe)-program sal jou in staat stel om jouself in dié beroepsveld te onderskei. Studieaansoeke vir 2027 open op 1 April.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.