Wêreldpoësiedag: ʼn Maatskaplike noodsaaklikheid
Gepubliseer op: 16 Maart 2022
Geskryf deur Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia
Dit is dalk toevallig dat Wêreldpoësiedag en Menseregtedag op dieselfde dag gevier word, maar daar is tog ʼn besonderse simboliek daaraan dat ons dit saam op 21 Maart in Suid-Afrika kan vier. Letterkunde, en poësie in die besonder, is nie net iets moois wat ons kan bewonder nie, maar dit is ʼn maatskaplike noodsaaklikheid. Die Nederlandse kunstenaar, Herman Bieling, verwoord dit soos volg tydens die swaar en armmoedige tussenoorlogse tydperk in Rotterdam: “De nood is groot, de kou is bar, om een aalmoes smeekt een bibberend kind. Kunst is geen luxe, doch sociale noodzakelikheid.”
Wêreldpoësiedag is in 1999 deur Unesco ingestel om in hulle woorde “een van die mensdom se mees kosbare vorme van kulturele en linguistiese uitdrukking en identiteit” te vier. Poësie spreek van ons gedeelde waardes en is ʼn kragtige katalisator vir gesprek en vrede. Op Menseregtedag is poësie ʼn kunsvorm wat mense bymekaar laat kom, maar dit is ook ʼn spieël wat voor ons as samelewing opgehou word. Poësie verwoord die stryd om menseregte wat taalregte insluit.
Hiervan is een van Breyten Breytenbach se gedigte ʼn sprekende voorbeeld.
die tongvervreemding
wanneer jy die moedertong
in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg
verduister jy my geheue
maak jy dat ek as vreemdeling
en sonder ʼn eie paar skoene
die toekoms moet ondergaan
wat ek nie meer fatsoeneer nie
wat ek nog net interpreteer
en nie penetreer nie
wanneer jy die taal
van my wegneem
ruk jy die hart uit my drome
om dit te vervang
met die mondmaniere
van ʼn tong wat nog net
die blinde werk van miere kan doen
wanneer jy van my ʼn massasyfer maak
om soos ʼn gefuikte papegaai
te pik-pik na sy nabootsing
maak jy dat ek ʼn weesmens is
in die leë huis van my vaders
sonder taal om my afwesigheid te beween
As Afrikaanssprekendes moet ons poësie lees én skep om die mooi in ons stukkende wêreld raak te sien en oop te maak. Dit is soos ʼn skalpel in die operasiekamer van die lewe wat soms eers moet seermaak en wegsny om heel te maak. Ons kan met ons moedertaal en die verantwoordelike uitleef van ons taalregte, die vervreemding teëwerk waarvan Breyten Breytenbach in sy gedig praat. Daarom sluit ek, met apologie aan Breyten, graag so af:
die tongversoening
wanneer jy die moedertong
in my mond water gee
bring jy die wêreld terug
verhelder jy my geheue
maak jy dat ek as bekendeling
en met ʼn eie paar skoene
die toekoms kan binnegaan
wat ek weer kan fatsoeneer
en nie net hoef te interpreteer nie
Bronne:
Unesco. 2021. World Poetry Day. https://en.unesco.org/commemorations/worldpoetryday [Datum van gebruik: 15 Maart 2022].
Versindaba. 2016. PEN Afrikaans Nuusbrief: November 2016. https://versindaba.co.za/2016/12/04/pen-afrikaans-nuusbrief-november-2016/ [Datum van gebruik: 15 Maart 2022].