Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia koop “professor” ter viering van akademiese hoof se 70ste verjaarsdag

Prof. Danie Goosen, wat sedert 2019 die rol as akademiese hoof by Akademia beklee, word beskou as een van die vooraanstaande lewende Afrikaanse filosofiese denkers. Hy vier op 12 April vanjaar ʼn merkwaardige mylpaal – sy sewentigste verjaarsdag. Ter viering van hierdie dag het Akademia die woord “professor” in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gekoop. Akademia besit reeds verskeie woorde in die WAT nadat woorde soos universiteit, alumni, dekaan, pionierswerk, studentelewe, koshuis en kortkursus reeds aangekoop is.

Die instelling het dié woord aangekoop as simboliek van waardering vir die uitsonderlike bydrae en leierskap van Goosen in die uitbou van Akademia se vormingsuitdeaal wat aansluit by die klassieke universiteitswese, sowel as die oordrag daarvan na die breër gemeenskap.

Die WAT se definisie van die woord “professor” is soos volg: “dosent met die hoogste status of titel aan ʼn universiteit”. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is die instelling dankbaar en trots om te kan weet dat Goosen die definisie van ʼn professor op ʼn uitnemende wyse beliggaam.

Visser stel dat Akademia met Goosen se verjaarsdag nie net sy sewentigste jaar op aarde vier nie, maar ook sy fenomenale werk aan die instelling. “Op 70 is sy dryfkrag om aan Akademia ʼn klassieke aard en karakter te gee, uitsonderlik. Sy vermoë om moeilike en abstrakte konsepte en idees oor te dra aan verskeie gehore – van studente tot kollegas – val my op,” sê Visser.

In 2020 het die Akademia Uitgewery ʼn internasionale gedenkbundel genaamd Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen onder redakteurskap van Koos Malan, Johann Rossouw en Carel Boshoff uitgegee. Die bundel bied ʼn ryke samevatting van die persoonlike beskouings en die agtergrond van Goosen se lewe, sy bemoeienis met politieke teologie, sy verdieping in politieke filosofie, en sy hantering van konsepte soos “gemeenskap” en “identiteit”. Die boek is aanlyn op Die Winkel te koop.

In die voorwoord van dié boek verwys die samestellers na Goosen soos volg: “Danie Goosen is ʼn besondere begaafde mens – ʼn mens wat langs die intellektuele en persoonlike weg wat hy bewandel ook die sonderlinge gawe van die goeie oordeel by uitnemendheid geslyp het. Sy begaafdheid en sy afgeronde goeie oordeel het van Goosen ook ʼn dankbare en gelowige mens gemaak. As dankbare, begaafde mens is hy ook ʼn mededeelsame mens – iemand wat mildelik die sonderlinge kennis, ervaring en insig wat hy op sy elliptiese reis opgedoen het, deel.”

In ʼn onlangse toespraak, het Goosen oor die rol van ʼn professor besin. Hy het genoem dat die woord “professor” vir die eerste keer in die 14de eeu gebruik is. Hy het verder verwys na die term as ʼn leermeester of onderwyser van die hoogste orde wat ervaring, kennis, insig en wysheid verteenwoordig. “ʼn Professor het vanweë sy gesag bo die gemiddelde uitgestyg en aan studente ʼn voorbeeld gestel waarna hulle kon oplewe.” Volgens Akademia vervul Goosen, wat dié titel al 26 jaar lank dra, die rol in sy volle betekenis.

“Baie geluk aan prof. Danie met sy verjaarsdag. Mag die Here hom ryklik seën en mag sy werk in Akademia van krag tot krag groei,” wens Visser hom toe.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof by Akademia en ʼn vooraanstaande denker in die filosofie. Hy vier vanjaar op 12 April sy 70ste verjaarsdag.
Akademia het die woord professor by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal gekoop ter viering van professor Danie Goosen, akademiese hoof, se verjaarsdag. Liana van Rooy, registrateur, oorhandig die sertifikaat aan Goosen tydens ʼn funksie.