Wat is die gevolge van die moontlike openbaring van topvlaksalarisse?
Gepubliseer op: 29 Nobember 2021
Daar is onlangs ʼn voorstel gemaak om die Maatskappywet te wysig wat sal veroorsaak dat werkgewers die vergoeding van hul werknemers bekend sal moet maak. #KennersPraat met Rika Niewoudt gesels met dr. Erik Heppell, dosent in Regsgeleerdheid by Akademia, oor hierdie warm tema.
- Wat behels die onlangse voorstel ter wysiging van die Maatskappywet?
Waarskynlik is die mees kontroversiële aspek van die konsepwysigingswetsontwerp die vereistes wat handel oor die vergoeding van direkteur- of senior bestuurslede van maatskappye in staatsbesit en publieke maatskappye. Hiervolgens moet hierdie maatskappye nie net die vergoeding van direkteure of senior bestuur openbaar nie, maar moet die vergoeding deur die meerderheid aandeelhouers goedgekeur word voordat dit in werking tree.
- Hoekom dan die vereistes ten opsigte van topvlakmaatskappyvergoeding?
Die praktiese doel daarvan is om onder andere deursigtigheid in maatskappye te bevorder, spesifiek met betrekking tot die vergoeding van topvlakbestuur. Die deursigtigheid word ook gerugsteun deur die toenemende seggenskap wat belanghebbendes (aandeelhouers) in die vergoeding van topvlakbestuurslede het.
In die breër konteks het die wetgewing ten doel om sosiale geregtigheid te bevorder en ongelykheid (spesifiek ten opsigte van inkomste-differensiasie) in maatskappye te verminder.
- Is ongelyke vergoeding, lone en salarisse werklik ʼn probleem?
Ongelyke vergoeding, lone en salarisse is op sigself nie ʼn probleem nie. Inteendeel ongelyke vergoeding, lone en salarisse, kan as insentief (aansporing) gebruik word vir individue om verbetering na te streef. Die beter vergoeding wat teenwoordig is as daar ongelyke vergoeding in organisasies is, kan as insentief dien om ʼn beter werk te kry, harder te werk, beter en meer uitgebreide opleiding en onderrig te ontvang en om jouself te spesialiseer in ʼn beroepsveld. Ongelykheid in vergoeding kan self-innovasie, ontwikkeling en vooruitgang stimuleer omdat hierdie aspekte potensieel beloon kan word deur middel van hoër vergoeding, lone en salarisse.
In van die sosialistiese lande in die tagtigs was daar min differensiasie van vergoeding, lone en salarisse in die arbeidsmark wat beteken het dat daar min of geen insentief vir werknemers was om verbetering na te streef nie. As ek harder gewerk het, meer produktief was of beter opleiding ontvang het as my kollegas was dit nie noodwendig dienooreenkomstig beloon met beter vergoeding nie. Min of geen differensiasie in loon en salarisstrukture mag daarom nadelige gevolge inhou vir produktiwiteit, ontwikkeling, innovasie en algehele ekonomiese groei.
Alhoewel ongelyke vergoeding, lone en salarisse op sigself nie problematies mag wees nie is uitermatige ongelykheid in terme van vergoeding, lone en salarisse ʼn wesenlike probleem omdat dit bydra tot algehele inkomste-ongelykheid en algehele ongelykheid. Hierdie ongelykheid hou verband met: sosiale onrus en probleme, misdaad, politieke onstabiliteit, lae beleggersvertroue, armoede, misbruik van natuurlike hulpbronne, swak vooruitgang in onderwys en menslike ontwikkeling wat lei tot verswakte vooruitgang in gesinsbeplanning, gesondheidsprobleme asook verlaagde algehele individuele welstand, om slegs ʼn paar aspekte te noem.
- Is die oorweging van hierdie tipe van wetgewing uniek tot Suid-Afrika?
Nee, dit is nie uniek tot net Suid-Afrika nie. Internasionaal is daar ʼn aktiewe beweging na meer sosiaal verantwoordelike besigheidspraktyke waarvan regverdige vergoedingverspreiding in maatskappye toenemend op gefokus word as ʼn manier om sosiale geregtigheid te bevorder.
- Sal die aanneming van hierdie wetgewing sinvol wees in Suid-Afrika?
As daar gekyk word na die rasionaal van die wet ten opsigte van die vermindering van ongelykheid en meer regverdige inkomsteverspreiding in maatskappye, in die konteks van ons strukturele ongelykheid in Suid-Afrika, dan blyk die wetgewing sinvol te wees op papier.
Maar vir die wetgewing om werklik sinvol te wees, moet dit toepassing vind en ʼn werklike effek hê op die grond waar die wetgewing ongelyke inkomsteverspreiding en algehele ongelykheid moet affekteer. Die praktiese realisasie van die wetgewing is onder andere afhanklik van twee faktore:
Navorsing wys dat ongelykheid en ander sosio-ekonomiese probleme die beste hanteer word deur holistiese wetgewende raamwerke wat saamwerk om verbetering te bewerkstellig. Met ander woorde hierdie wetgewing moet deel vorm van ʼn groter plan waar ander wetgewing saam gebruik word om hierdie probleme te hanteer anders gaan die wetgewing waarskynlik nie ʼn merkbare effek in die groter sosio-ekonomiese Suid-Afrikaanse konteks hê nie.
Die doeltreffendheid van wetgewing hang grootliks van die toepassing daarvan af. Sonder toepassing is wetgewing moontlik net van akademiese belang. In Suid-Afrika en ander ontwikkelende lande sukkel ons in die algemeen om ons wetgewing effektief toe te pas wat beteken dat daar heel dikwels grootskaalse probleme met nakoming mag wees.
Luister hier na die podsending, #KennersPraat, waar dr. Heppell hierdie tema bespreek.