Search
Close this search box.

Vyf vinnige feite oor Akademia-personeel

Gepubliseer op: 5 September 2022

Geskryf deur Marisha Hermann en Anien van Niekerk, Fontiepos-joernaliste

Die Fontiepos het vandeesmaand met twee topdosente by Akademia gaan gesels. Kom saam met ons op reis en leer meer oor Stephen Nel, dosent in Regsgeleerdheid, en dr. Chris-Mari Le Hanie, dosent in Opvoedkunde.

Stephen Nel – dosent: Regsgeleerdheid

  1. Waarom het jy hierdie beroep gekies?

Ek het ʼn passie vir onderrig en om mense te bemagtig. Verder is dit die grootste voorreg om my moedertaal op tersiêre vlak uit te bou en om deel te wees van ʼn hoëronderwysinstelling wat aanhou om nuwe hoogtes te bereik.

  1. Wat is jou stokperdjies?

Ek is mal oor radio en is al sedert my studentedae by verskeie radiostasies as omroeper betrokke. Ek geniet dit ook om saam met my vrou en mini-schnauzer te gaan stap. Deesdae spandeer ek ook graag tyd saam met ons pasgebore dogter, Dahlia.

  1. Wat is jou gunstelingroomysgeur?

Sjokoladegeur.

  1. Wat is jou gunstelingidioom en hoekom?

As dit pap reën, moet jy skep. Ek dink dit het iets met my groot eetlus te doen.

  1. Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?

Ek het by AfriForum gewerk en het hoofsaaklik op plaaslike regering en verskeie omgewingskwessies gefokus.

Dr. Chris-Mari Le Hanie – dosent: Opvoedkunde

  1. Waarom het jy hierdie beroep gekies?

Ek het al in my hoërskooldae geweet ek wil ʼn onderwyser word. My liefde vir leer, kinders, en om ʼn verskil te maak het die grondslag vir my besluit gevorm. In my derde jaar van universiteit het ek ʼn dosent gehad wat my geïnspireer het om ook ʼn dosent te word. Sy was sowaar ʼn rolmodel. Ek het daarna besluit om verder te studeer en het ook terselfdertyd gewerk. In kort het ek besef dat ek geroep is om ʼn dosent te wees en wil graag ook in hierdie beroep denke en harte aanraak en help vorm.

  1. Wat is jou stokperdjies?

Ek hou daarvan om foto’s te neem en potloodsketse te doen.

  1. Wat is jou gunstelingroomysgeur?

Ek eet nie roomys nie.

  1. Wat is jou gunstelingidioom en hoekom?

My pa het al ʼn paar jaar terug hierdie vir my genoem en dit het by my gebly deur al die jare, dit kan as ʼn nuutgeskape idioom gesien word:

Die vroeë voël vang die eerste wurm en die tweede muis kry die kaas. Alles het sy tyd en plek. Dit word alles deur die situasie bepaal. Jy moet dan die belangrike en ingeligte besluit neem om die voël of die muis te wees.

ʼn Ander gunsteling vir my is:

Enige iets is moontlik as jy hard genoeg probeer.

  1. Wat het jy gedoen voordat jy by Akademia begin werk het?

My loopbaan het begin as ʼn deeltydse dosent by die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waar ek onder andere Kurrikulumstudies, Assessering, Besigheidstudies, Ekonomie en Ekonomiese Bestuurswetenskappe-metodiek gedoseer het vir BEd- en NGOS-studente. Ek het ook die geleentheid gekry om skool te kan gee by Laerskool Goudkop in Klerksdorp waar ek vir graad 4-7-leerders EBW, Tegnologie, Sosiale Wetenskappe en Lewensoriëntering onderrig het. Daarna het ek my loopbaan in die hoëronderwys-konteks hervat as die Hoof van Institusionele Kwaliteit en Akademiese Steun by Aros in Pretoria, waar ek verantwoordelik was vir programontwikkeling en gehalteversekering. Ek het ook later die pos as senior dosent in Kurrikulumstudies, Assessering en Navorsing by Aros beklee. Tans is ek ʼn senior dosent by Akademia en doseer onder andere die volgende Onderrig en Leer in die Opvoedkunde-konteks vir die NGOS-studente, Opvoedkunde 2A, Akademiese Vaardighede en Algemene Pedagogiek 2B vir die BEd-studente.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.