Search
Close this search box.

Besigheidswerkswinkels en netwerkgeleenthede ook in Noordwes en Wes-Kaap aangebied

Gepubliseer op: 27 Augustus 2024

Bevind jy jouself in die Noordwes of die Wes-Kaap? Indien wel, stel jy daarin belang om jou sakevaardighede op te skerp? Miskien wil jy graag ʼn onderneming begin, óf jy wil nuwe lewe in jou bestaande onderneming blaas. Hoe dit ook al sy, Akademia se Vlymskerpbesigheid in ʼn japtrap: Werkswinkels en netwerkgeleenthede is pasgemaak vir jou.

Gegewe die sukses van die eerste aflewering van dié inisiatief in Bloemfontein en die Moot in Pretoria, sal dié inisiatief ook onderskeidelik op 5 September en 7 November 2024 in Potchefstroom en die Paarl aangebied word. Tydens hierdie geleenthede sal die fokus op kennisverryking en professionele ontwikkeling val, en sal aangeleenthede soos finansies, bemarking en innovasie aandag geniet. Die volgende werkswinkels sal deur Akademia-dosente, as vooraanstaande kenners op hul onderskeie gebiede, aangebied word:

  • Verskerp jou finansiële vaardighede deur Shaun Coetzee
  • Die inskerp van bemarkingsbeginsels deur Salomien Boshoff
  • Die opskerp van innovasie vir jou besigheid deur Johann Smit

Die geleenthede sal soos volg plaasvind:

  • Potchefstroom: Donderdag 5 September

2 Owls Guesthouse in Thabo Mbeki-weg AA12 vanaf 08:30 tot 17:00

  • Paarl: Donderdag 7 November

Akademia se Paarl-sentrum (Historium) in Pastorielaan 11, Esterville vanaf 08:30 tot 17:00

Die koste beloop R450 per individuele kaartjie en daar is ʼn groepkorting beskikbaar teen R2 000 vir ʼn groepbespreking van vyf mense. Jou kaartjie sluit alle werkswinkels, ʼn netwerkgeleentheid, verversings en ʼn opleidingspakkie in. Om teleurstelling te voorkom, word jy vriendelik versoek om jou sitplek vroegtydig te bespreek deur jou kaartjie op Die Winkel aan te koop.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, het hierdie werkswinkels en netwerksessie dit ten doel om nie net belangstellendes met nuwe en bykomende vaardighede toe te rus nie, maar ook om opnuut energie los te maak en só hul sakevernuf na nuwe hoogtes te neem. “Doen jouself, jou besigheid én jou span ʼn guns en kom leer by die kenners terwyl jy óók die geleentheid het om met ander besigheidslui skouers te skuur, jou professionele netwerk uit te brei én as ʼn impakmaker in jou gemeenskap die voortou te neem,” sê Swanepoel.

Indien daar enige verdere vrae is, stuur gerus ʼn e-pos na akaprojekte@akademia.ac.za.

Deelnemers aan Akademia se Vlymskerpbesigheid in ʼn japtrap: Werkswinkels en netwerkgeleenthede in Bloemfontein het verskillende beroepsvelde verteenwoordig. Hierdie velde het onder meer georganiseerde landbou, die mediese bedryf, klein en medium-grootte ondernemings, die regswese en die onderwyssektor ingesluit.
Die interaktiewe aard van die geleentheid laat deelnemers toe om prakties met die inhoud om te gaan.
Shaun Coetzee is ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe en beskik oor omvattende ervaring in onder meer die mynbou-, verbruikersgoedere-, herwinning- en vervaardigingsektore – plaaslik en internasionaal.
Salomien Boshoff is ʼn dosent in Ondernemingsbestuur en het ʼn passie vir bemarking. Sy is ʼn bewese kursusaanbieder en het reeds verskeie toekennings hiervoor ontvang. Boshoff geniet ook erkenning vir haar samewerkingsooreenkomste met besighede.
Johann Smit is ʼn dosent in Ondernemingsbestuur en is ʼn bewese besigheidskonsultant. Sy navorsingsfokus is innovasiebestuur.