Search
Close this search box.

Vinnige feite oor Akademia se nuwe studenteraad

31 Augustus 2023

Geskryf deur Marisha Hermann, Fontiepos-joernalis

Die nuutverkose studenteraad is gereed om die jaar aan te pak. Ontmoet jou passievolle studenteraad deur ’n paar vinnige feite oor hulle te lees.

SR: Voorsitter – Myrtle Endley

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel is swart, omdat ek dit saam met houtskool tandepasta gekoop het.

  • Wat is jou grootste vrees?

Die feit dat alles tot niet gaan, en meeste van wat ek in my eie lewe en die mense rondom my se lewens doen beteken regtig nie veel nie, maak my bang.

SR: Adjunkvoorsitter (voltyds) – Johannes van Jaarsveld

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel is blou en wit. Ek weet nie, my ma het dit gekoop.

  • Wat is jou grootste vrees?

’n Slang.

SR: Adjunkvoorsitter (nauurs) – Desiré Fourie

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel is rooi – nie omdat dit my gunstelingkleur is of dit enigsins mooi is nie – maar omdat ek van ’n klipharde tandeborsel hou, en dit al was wat Checkers gehad het.

  • Wat is jou grootste vrees?

Spinnekoppe – ek dop selfs my kussing om voor ek gaan slaap, vir ingeval daar dalk een wegkruip.

SR: Bemarking (voltyds) – Demarco Robinson

  1. Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel is groen, want Kyle du Toit het die blou een gevat.

  1. Wat is jou grootste vrees?

Geel rubberhandskoene.

SR: Sport – Christiaan Wessels

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

Swart, want ek hou van ʼn sagte tandeborsel en hy was toevallig swart.

  • Wat is jou grootste vrees?

Diep water in die aand.

SR: Studenteaktiwiteite (nauurs)– Chanellé Booyens

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My eenvoudige Oral-B-tandeborsel kom voor as ʼn ligte skakering van blou, amper deursigtig, saam met harde wit haartjies. Dit behels gevolglik ʼn swart-op-wit-verduideliking van, “Die winkel het pienk en blou tandeborsels gehad; my gunstelingkleur is blou.”

  • Wat is jou grootste vrees?

My grootste vrees is dat ek niks is wanneer ek sterf nie, ʼn vrees vir uitwissing. As ʼn perfeksionis is ek veral geneig om onrealistiese hoë verwagtinge vir myself te stel; ek is dus bang ek gaan dood sonder dat ek my ware doel in die lewe gevind het.

SR: Verenigings – Louisa Visser

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel is blou. Ek het nog nie regtig gewonder hoekom hy blou is nie, maar ek het hom beslis gekies, omdat ek die meeste van hom hou. Blou is my gunstelingkleur, omdat dit my laat dink aan die natuur. Ek sal nou nie sê dat ek elke oggend oor die natuur droom wanneer ek my tande borsel nie, maar dit is tog interessant om te dink dat ek onbewustelik die babablou tandeborsel gekies het bo die grasgroen, bloedrooi of Barbie-pienk een.

  • Wat is jou grootste vrees?

Alhoewel ek baie avontuurlustig is en mal is oor enige soort uitdaging, is my grootste vrees beslis om vasgevang te wees in ʼn kamer vol spinnekoppe en ander insekte soos in die klassieke Indiana Jones-film. Ek kan nie dink hoe ek dit sal oorleef nie.

SR: Projekte – Kyle du Toit

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel is blou, want Demarco Robinson het die groen een gevat.

  • Wat is jou grootste vrees?

My grootste vrees is ʼn padda of enige vorm daarvan.

SR: Gemeenskap – Hanri Noëth

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel is blou en wit, want dit was die volgende een in die boksie.

  • Wat is jou grootste vrees?

My grootste vrees is definitief slange en wurms ek kan letterlik nie.

SR: Bemarking (nauurs) – Elcke Katzke

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel is wit en grys. Die kleur van ʼn tandeborsel maak nie eintlik jou tande skoon nie, so ek is min gepla. Asseblief net niks neon nie.

  • Wat is jou grootste vrees?

Oppervlakkig: Leeus! Ek sal letterlik op die grond neerval en sê: “Eet my”, en nie eers probeer vlug nie. Diep: Om nie te probeer nie Nie te probeer om hard te werk nie, nie te probeer ʼn taak suksesvol aan te pak nie en nie probeer om daar te wees vir my familie en vriende nie. Probeer is die beste geweer (wat ek gaan probeer gebruik om my vrees vir leeus te oorwin).

SR: Kuns en Kultuur – Miné Hermann

  • Watter kleur is jou tandeborsel en hoekom?

My tandeborsel by die huis is pienk en geel. Die logiese rede daarvoor is, omdat dit anders moet lyk as my sussies se tandeborsels sodat ons nie deurmekaar raak nie. My tandeborsel by die koshuis is ligte pienk en wit, want een van my gunstelingkleure is ligte pienk.

  • Wat is jou grootste vrees?

Ek het ʼn groot vrees om oor ʼn besige straat te loop, want ek vertrou glad nie motoriste nie.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.