Vakante poste
Daar is geen poste tans beskikbaar nie.
Bemarking en Kommunikasie
Akademia is ʼn geregistreerde onafhanklike hoëronderwysinstelling in Centurion met twee onderrigleermodelle, naamlik die voltydse kampusmodel en die nauurse afstandsmodel. Akademia brei steeds uit en het ʼn pos vir ʼn grafiese ontwerper in die Bemarking en Kommunikasie-afdeling beskikbaar. Om te kwalifiseer word ʼn honneurs- of vierjaargraad in grafiese ontwerp, illustrasie of multimedia-ontwerp vereis. ʼn Verdere voorvereiste vir die pos is ʼn minimum van vier jaar se ervaring in die skep van grafiese ontwerpe deur ontwerpsagteware van Adobe Creative Cloud (Illustrator, InDesign en Photoshop) te gebruik. Kennis en ervaring in ontwerptegnieke, begrip van die verskillende vereistes van ontwerp vir gedrukte en digitale media, die drukproses en hoe verskillende ink en afwerkings werk, asook die uitvoering van ontwerpprojekte vanaf konseptualisering, uitrol tot voltooiing van die ontwerp is ook ʼn vereiste. Die ervaring in die skep van moodboards, die ontwikkeling van handelsmerke en die skep van animasies sal in die ideale kandidaat se guns tel.
Die grafiese ontwerper sal verantwoordelik wees vir, onder andere die ontwikkeling van kreatiewe ontwerpidees saam met die breër span en om grafiese ontwerpe te skep vir multimedia wat drukmedia, digitale media en video’s insluit. Daar sal van die ideale kandidaat verwag word om ook die instelling se korporatiewe identiteit te handhaaf en in stand te hou, sowel as navrae en versoeke wat verband hou met grafiese ontwerpe te hanteer. Die neem en redigering van foto’s sal ook deel van die kandidaat se take vorm.
Die kandidaat moet kennis van Akademia, en van die hoëronderwysomgewing in die algemeen hê en moet oor die volgende beskik: ʼn sterk aanvoeling vir visuele uitleg en die nuutste tendense daaroor, kommunikasie- en interpersoonlike vaardighede, die vermoë om onder druk te werk en te prioritiseer, ʼn oog vir detail, akkuraatheid, die uitvoering (onafhanklik en in ʼn span) van ontwerpprojekte, handhawing van goeie menseverhoudings, sowel as professionaliteit en ʼn positiewe ingesteldheid. Heg asseblief ʼn portefeulje en/of skakel na die portefeulje by jou aansoek aan.
Klik hier om vir die pos aansoek te doen en om die portefeulje in te dien. Aansoeke moet voor of op 20 Mei 2025 ingedien word. Stuur ʼn e-pos na personeelnavrae@akademia.ac.za indien jy probleme met die skakel ervaar.
Akademia is ʼn geregistreerde onafhanklike hoëronderwysinstelling in Centurion. Akademia het ʼn voltydse pos vir ʼn senior taalpraktisyn met bykomende uitgewerytake beskikbaar. Die pos is in die Bemarking en Kommunikasie-afdeling se kommunikasiespan geleë. Om te kwalifiseer word ʼn honneursgraad in taalkunde/tale/Afrikaans vereis, terwyl ʼn meestersgraad of ʼn addisionele kwalifikasie in toegepaste taalstudie of redigering in die kandidaat se guns sal tel. ʼn Verdere voorvereiste vir die pos is ʼn minimum van agt jaar se ervaring in redigering en vertaling, kennis van taalstrukture en -konvensies, ervaring in taalversorging en vertaling van dokumente in Afrikaans en Engels, asook die gebruik van akademiese terminologie. Ervaring in die uitgewerswese en taalondersteuning vir akademiese publikasies is wenslik vir die pos.
Daar sal van die kandidaat verwag word om ʼn verskeidenheid taalondersteuning te bied, wat insluit: taalredigering, proeflees en vertaling; skakeling met taalnetwerke; verslagdoening; hantering van institusionele taalnavrae; ondersteuning bied t.o.v. die instelling se taalbeleid en -strategie; die uitvoering van taalprojekte; die aanbied van interne taalopleiding; byhou van die instelling se taalkundige stylgids om konsekwente taalgebruik en styl te verseker; en die opbou van ʼn vertaalgeheue vir Akademia deur vertalingsagteware te gebruik. Die rol vereis ook dat die kandidaat bykomende take sal verrig in die koördinering van die Akademia Uitgewery se publikasies. Dié take sluit in: koördinering en fasilitering wat insluit publikasiebeplanning; gehalteversekering van publikasies; skakeling met drukkers en medewerkers; betrokkenheid by publikasiebemarkingsveldtogte; en befondsingsvoorleggings.
Die kandidaat moet kennis van Akademia en die hoëronderwysomgewing in die algemeen hê en, onder andere, oor die volgende beskik: uitsonderlike interpersoonlike vaardighede, goeie skakel- en kommunikasievaardighede, prioritiseringsvermoë, taal- en skryfvaardighede, inisiëringsvaardighede, sowel as ʼn oog vir detail. Die persoon moet ook ʼn positiewe ingesteldheid, dryfkrag en motivering hê, en moet goed in ʼn span funksioneer én onafhanklik kan werk.
Klik hier om vir die pos aansoek te doen. Slegs Afrikaanse CV’s word aanvaar. Aansoeke moet voor of op 23 Mei 2025 ingedien word. Neem kennis dat slegs aansoeke wat deur middel van die skakel ingedien word, oorweeg word. Stuur gerus ʼn e-pos na personeelnavrae@akademia.ac.za indien jy probleme met die skakel ervaar.
REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE