Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Toppresteerders deel hul geheim

Gepubliseer op: 24 Mei 2017

Met goeie beplanning, selfdissipline en wonderlike ondersteuningstrukture het vyf van Akademia se studente as toppresteerders uit die stryd getree toe hulle hul kwalifikasies in April 2017 ontvang het.

Ilze Bakker het die beste gevaar in die BCom Ondernemingsbestuur, terwyl Anell de Beer as toppresteerder van die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie aangewys is. Suerica Pietersen het met die louere weggestap vir die Gevorderde Diploma in Projekbestuur, dr Dawie Oosthuysen vir die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde en Anika Miske vir die Diploma in Bemarking.

Waarom Akademia?

Ilze het besluit om vir die BCom Ondernemingsbestuur-graadprogram by Akademia in te skryf omdat die praktiese komponent en die programinhoud haar die geleentheid gebied het om haarself met nuwe bestuurskennis te verryk. “Akademia, wat onderrig in Afrikaans binne ’n perfekte na-uurse model vir voltyds werkende persone aanbied, was my eerste keuse.”

Anell het haar BCom Internasionale Handel en Bemarking-graad en die Nagraadse Onderwyssertifikaat in 2007 deur NWU in Potchefstroom voltooi. Nadat sy nog twee kursusse deur Unisa gedoen het, was sy nuuskierig om te sien hoe Akademia se klasse werk. Sy was beïndruk deur die manier waarop die werk stelselmatig deurgewerk word. “Die tien klasse per vak bied genoeg tyd om vrae aan die dosent te stel en die toetse en opdragte berei mens goed voor vir die eksamen.”

Suerica het in Kathu in die Noord-Kaap gewoon toe sy in 2016 met die Gevorderde Diploma in Projekbestuur begin het en het dit in Auckland, Nieu-Seeland voltooi, nadat haar gesin in Augustus 2016 daarheen verhuis het. Sy het vir die kursus ingeskryf om haar loopbaanmoontlikhede uit te brei, hoewel sy skertsend sê dat die hervestiging in Nieu-Seeland ’n projek in die kleine was wat sy moes bestuur.

Sy het aanklank by Akademia se kursus gevind, omdat die klasse in Afrikaans aangebied is. “Wat is dan beter as om ’n kursus in jou eie taal te voltooi?”

Dawie het ’n program gesoek wat na-uurse klasse aanbied, aangesien hy voltyds werk. “Dit was ook belangrik dat die sertifikaat van hoë gehalte is en die feit dat ek in my moedertaal onderrig kon kry was natuurlik ’n addisionele bonus.”

Sy prestasie is uitsonderlik, aangesien hy ’n babaseun ryker geword het slegs vier weke voor sy eindeksamen. Hy het vir al agt vakke ingeskryf om die kursus so gou as moontlik te voltooi en kon dit met die ondersteuning van sy gesin en baie genade baas raak – boonop as topstudent! “Goeie tydsbestuur en konstante toewyding tot die werk wat gedoen moet word was absolute vereistes.”

Anika woon in die Kaap en het besluit om by Akademia in te skryf omdat sy voltyds werk en daarom net deeltyds kon studeer en klasloop. “Die feit dat ek boonop in Afrikaans kon studeer was ’n groot bonus vir my.”

Die leerervaring

Volgens Ilze is die vakinhoud tydens klasse kundig aangebied en oorgedra. “Op tegnologiese gebied bly Akademia aan die voorpunt van ontwikkeling. Navrae word ook vinnig en akkuraat beantwoord en inligting behoorlik gekommunikeer.”

Suerica het die leerervaring by Akademia baie geniet. “Ek het al by ’n paar instansies studeer en verskeie kursusse bygewoon en kan dus met inagname van my vorige ervaring in alle eerlikheid sê Akademia het hulself oortref. Die hele kursus is baie professioneel aangebied. Dit is ook baie lekker om in jou eie huis en op jou eie tyd op Akademia se stelsel in te teken om studiemateriaal te bestudeer. Die klasbywoning was ’n absolute plesier. Klasse begin betyds en is ook baie professioneel aangebied, en die dosente was baie hulpvaardig en ondersteunend.”

Die onderrig in Afrikaans en ’n goed georganiseerde kampus het gesorg dat

Dawie sy leerervaring by Akademia positief gevind het. “Die kameraadskap tussen die studente help ook om enduit voluit aan te hou.”

Vir Anika bepaal die dosent wat ’n vak aanbied ’n student se leerervaring. Danksy die betrokkenheid van haar dosente het sy haar studies by Akademia positief ervaar.

Sleutel tot sukses

Ilze raai voornemende studente aan om hulle tot die pad wat voorlê te verbind, toegewyd te wees en ’n betroubare ondersteuningstruktuur te bou. “As jy die pad begin stap, doen dit onvoorwaardelik. Werk hard, werk deurlopend, werk na die beste van jou vermoë.”

Anell het sukses behaal deur behoorlik te beplan en selfdissipline aan die dag te lê. Haar raad aan studente is om goeie balans te handhaaf en pligsgetrou te werk. “Moenie tot die laaste nippertjie uitstel nie!”

Suerica se sleutel tot sukses was om nie agter te raak nie. “Nadat ek ’n klas bygewoon het, het ek huis toe gegaan en ’n mini-projekplan opgestel met sperdatums en tydlyne vir alles wat ek voor die volgende klas moet doen. As jy ten minste ’n uur se werk elke aand insit, bly jy op datum.”

Dawie se raad aan studente is om doelgerig te werk en ver vooruit te beplan, maar een dag of taak op ’n slag te vat, dit suksesvol af te handel en dan die volgende een aan te pak.

Anika skryf haar prestasie aan goeie voorbereiding toe. “Vir toetse en eksamens het ek elke hoofstuk in kleur opgesom. Opdragte het ek ook eers deeglik beplan en in fases afgehandel totdat ek gelukkig was met die finale opdrag. Dis belangrik om jou werk herhalend deur te gaan, want herhaling vestig die inligting in jou brein.”

Sy raai studente aan om ’n kursus aan te pak asof jy voltyds studeer en om toegewyd te wees. “Motiveer jouself met iets wanneer jy studeer, soos lekker eetgoed. Studies is al klaar ’n uitdaging, maak die omstandighede rondom die studies vir jouself lekker.”

Akademia wens hierdie vyf toppresteerders hartlik geluk met hul prestasies.