Taalkonferensie: Afrikaans, ʼn taal met ʼn toekoms
Gepubliseer op: 25 Februarie 2022
Afrikaans is ʼn taal met ʼn toekoms. Dit is onlangs weer bevestig met Akademia se taalkonferensie wat ter viering van Internasionale Moedertaaldag op Maandag 21 Februarie by koshuis@Leriba gehou is. Die taalkonferensie is in persoon sowel as aanlyn gehou. Indien jy dit misgeloop het, kyk dit gerus steeds hier.
Dit was ʼn konferensie met ʼn sterk filosofiese ondertoon en het prof. Pieter Duvenage, dekaan van Fakulteit Geesteswetenskappe, het dit gepas afgeskop met die stelling: “Ons praat nie net taal nie, maar taal praat ons.” Die tema was so gepas op Internasionale Moedertaaldag en die belangrikheid van moedertaalonderrig is weer beklemtoon.
Onderwerpe soos taal en vryheid, taalnormaliteit van Afrikaans, Afrikaanse taalbeplanning en die grens van taal is deur ʼn interdissiplinêre span kundiges op die gebied van die filosofie, regte, sake en tale bespreek. Op die paneel was prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, prof. Koos Malan, regsdosent van die Universiteit van Pretoria, Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, dr. Annelise de Vries, Afrikaansdosent van Akademia en dr. Hercules Boshoff, dosent: Filosofie en Besigheidsetiek van Akademia.
Taal en vryheid
Prof. Goosen, het stilgestaan by die gedagte van taal en vryheid. “ʼn Taal waarin ons oor taal kan praat, is ʼn vrye taal. Taal vorm ons. Tale is vry en floreer as daar ʼn goeie grondslag is en in die gemeenskap uitgeleef word,” het Goosen gesê. Tale kom tot hulle reg wanneer die sprekers die goeie najaag. Prof. Malan het by Goosen aangesluit en verwys na die vryheid van die taalbepalings in wetgewing. “Die belofte is ryk in die taalbepalings, maar die uitvoering daarvan is arm.” Malan pleit vir taalnormaliteit, die vrye keuse van taal, en om Afrikaans vrylik op alle vlakke te kan gebruik.
Taalgemeenskap
Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het oor (taal)sake gepraat en met die gedagte gewoeker dat besighede eintlik ʼn kuns is, maar dit verg ook wysheid en dit kan nie los van ʼn taalgemeenskap gesien word nie. “Die opbou en behoud van kapitaal is waar kuns en wysheid versoen, en dit vereis ʼn gemeenskap en in ons geval beteken dit Afrikaans,” het Le Roux gesê. Die feit dat dit ʼn kuns is beteken nie dat ons dit nie akademies kan ondersoek nie, dit moet juis ook in Afrikaans by Akademia ondersoek word, het hy verder vertel. “ʼn Entrepreneur werk met ʼn toekomsverwagting en hulpbronne om iets beter te maak. Ons kan nie voorskriftelik wees oor tale aan ondernemings nie, maar ons kan die voordele van taal uitwys.”
Taalbeplanning
Dr. De Vries het haar toespraak vanuit ʼn praktiese aanslag verpak en het gepraat oor oplossings vir taalprobleme. Sy het verder uitgebrei oor taalbeplanning as vakgebied. Volgens haar is ʼn goeie oorsig oor die stand van taal nodig om behoorlik te kan beplan en die toekoms van Afrikaans te verseker.
“Afrikaans is ʼn goeie voorbeeld van taalbeplanning. Taalbeleid sonder implementering is futiel,” het De Vries gesê Afrikaans se puik taalbeplanning kan as inspirasie vir ander inheemse tale van Suid-Afrika dien om tot akademiese tale ontwikkel. Dr. Boshoff het verder oor grense en taal gesels. Tale, volgens Boshoff, het geen grense nie. “Daarom kan geen taal geskei word van ʼn ander een nie. As twee tale of meer aangeleer word dan bou daardie tale op jou moedertaal en so word ʼn nuwe wêreld ontdek, waar grense en tale mekaar oorvleuel.”
Die konferensie is met ʼn paneelgesprek afgesluit waarin die dringendheid rakende moedertale en die erkenning sowel as die bevordering daarvan na vore gekom het.