Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

SR vir 2021 gerat vir die jaar

Gepubliseer op: 4 Februarie 2021

Akademia se Studenteraad (SR) vir 2021 is opgewonde en gereed met nuwe idees en planne om die jaar se studenteaktiwiteite, ten spyte van die pandemie, steeds beter as ooit te vore te maak. Senior studente is tydens oriëntering op 23 Januarie terug verwelkom, en eerstejaars skop hulle akademiese reis op 15 Maart af. Akademia se eerste voltydse kampusaanbod neem ook vanjaar vir die eerste keer aanvang, en word daar ʼn verskeidenheid geleenthede deur die SR beplan om by te dra tot ʼn verrykende kampuservaring.

Die SR se doelwit is om lojale ambassadeurs te wees en ʼn nou pad saam met elke student te stap om sodoende ʼn sterk studentekultuur te vestig. Ongeag wat gebeur met die inperkingsmaatreëls is hierdie studenteleiers gerat om die propvol SR-kalender die lig te laat sien – al beteken dit dat kleiner sosiale byeenkomste of aanlyn metodes van sosialisering moet plaasvind.

Die studenteaksies se datums word in onderskeidelik die voltydse en nauurse jaarbeplanners op die webblad beskikbaargestel. Studente kan uitsien na ʼn gereelde pretstap, ʼn jaarlikse studente-gholfkompetisie, ʼn putt-putt-toernooi, aksiesportwedstryde, gemeenskapsprojekte, ʼn damesoggend, ʼn manne-aand, studentekuiers, en nog meer.

Die SR-portefeulje is soos volg toegeken:

  • Lindy Steyn – Voorsitter
  • May-li Swanepoel – Ondervoorsitter
  • Nikkie Kriel – Sekretaris
  • Wilu Wessels – Tesourier en Bemarking
  • Michael Schutte – Sosiaal en Kultuur (Nauurs)
  • Sanchia van der Merwe – Sport (Nauurs)
  • Japie Theron – Sport (Kampus)

 

Lindy Steyn, SR-voorsitter vir 2021 en BCom (Ondernemingsbestuur)-student by die Centurion-studiesentrum, wat reeds verlede jaar as lid op die SR gedien het, noem dat daar talle lesse geleer is vir hoe dinge vanjaar aangepak word. “Niemand kon voorsien dat ons ʼn wêreldwye pandemie sou ervaar nie en kon ons nie noodwendig vooraf beplan vir inperkingsmaatreëls nie.”

Steyn reken dat verlede jaar se SR hulleself, gegewe die omstandighede, uitstekend van hulle taak gekwyt het en dat die nuwe span verder daarop sal uitbou. “Ongeag wat vanjaar gebeur is ons voorbereid en opgewonde om die vernuwende idees binne die toegelate perke te implementeer. Ons wil verbeter in elke moontlike afdeling deur goeie vertrouensverhoudinge met studente te kweek, beter studente-ondersteuning te bied en dit werklik ʼn jaar vir die boeke te maak”.

Haar advies aan studente wat vir die eerste keer by Akademia aansluit is om hard te werk om hulle studies te voltooi, maar om te onthou om ook pret te hê deur aan studente-aksies deel te neem. “Akademia bied ʼn ongelooflike netwerk, so gryp die geleentheid aan en moenie bang wees om nuwe mense te ontmoet nie. Hier bou ons lewenslange vriendskappe en netwerke en smee bande met toekomstige werkgewers en selfs sakevennote.”

Met so dinamiese SR-span kan Akademia nie anders as om uit te sien na wat alles beplan word nie. Vanjaar word talle tradisies gevestig terwyl studente saam met personeel skryf aan Akademia se geskiedenis!

Kloksgewys van links: Lindy Steyn (Voorsitter), May-li Swanepoel (Ondervoorsitter), Nikkie Kriel (Sekretaris), Sanchia van der Merwe (Sport – Nauurs), Michael Schutte (Sosiaal en Kultuur – Nauurs), Japie Theron (Sport ¬– Kampus), Wilu Wessels (Tesourier en Bemarking).