Gepubliseer op: 23 Januarie 2025
Johan Grobbelaar (27), haker van die Springbokke en Blou Bulle, is rateltaai op die rugbyveld. Hy beweeg vinnig en sy ingooie is akkuraat. Wat baie ondersteuners dalk nie weet nie is dat dié boerseun van die Paarl óók ʼn trotse Fontie* is.
Grobbelaar, wat in 2015 aan die Hoërskool Paarl Gimnasium gematrikuleer het, woon reeds die afgelope nege jaar in Pretoria en pak vanjaar sy laaste module in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program by Akademia aan. Hy studeer via die instelling se nauurse afstandsmodel en maak gebruik van die e-leeropsie. “My rugbyskedule hou my baie besig, en gedurende die laaste ses maande van 2024 was ek byvoorbeeld slegs vir vier weke by die huis,” vertel Grobbelaar en voeg by dat die e-leeropsie dit vir hom moontlik maak om vanuit ʼn hotelkamer waar hy homself ook al mag bevind aandag aan sy studie te gee. Hy kan ook vanaf enige plek ter wêreld toets skryf en eksamens aflê.
“Ek is dankbaar vir die platform wat Akademia vir my en soveel ander studente bied om ons studie in Afrikaans te mag aanpak. Om dié rede is ek opgewonde oor die instelling se groei en toekomstige uitbreiding na onder meer die Wes-Kaap,” sê Grobbelaar. Hy is dit verder eens dat ʼn groot deel van Akademia se sukses toegeskryf kan word aan die vriendelikheid en behulpsaamheid van die personeel asook die feit dat die administratiewe stelsels effektiewe skakeling vergemaklik.
As Grobbelaar oor sy toekomsplanne praat, skemer dit duidelik deur dat hy, soos hy tereg na homself verwys, ʼn boerseun in murg en been is. Dit is sy droom om ná afloop van sy rugbyloopbaan homself as die vyfde generasie Grobbelaar op hul familieplaas, Modderkloof, in die Wes-Kaap te vestig. Hy meen voorts dat sy huidige studierigting hom goed toerus vir die besigheidsaspek van boerdery asook enige besigheidsgeleenthede wat hulself in die toekoms mag voordoen.
“Ek besef al te goed dat ek nie vir altyd professioneel sal kan rugby speel nie, en dat ʼn rugbyspeler se loopbaan relatief kort is. Om dié rede is dit goed om ʼn akademiese kwalifikasie te hê waarop ek kan terugval,” sê Grobbelaar. Hy voeg by dat dit raadsaam is vir enige jong sportpersoon om goed oor sy/haar toekoms te besin, en daarom vroegtydig voorsiening te maak vir die toekoms. Hy is dit eens dat sportlui se werksloopbaan eers na behore aanbreek ná afloop van hul uittrede uit sport. “Vir nou geniet ek my rugbyloopbaan. Ek is jonk en gesond en wil soveel tyd as moontlik op die veld deurbring voordat ek ander uitdagings aanpak,” meen Grobbelaar.
Alhoewel nauurse afstandstudie Grobbelaar se besige skedule komplementeer, erken hy dat dit harde werk, deursettingsvermoë en selfdissipline verg. Hy verduidelik dat hy, ondanks die wanpersepsie wat baie mense huldig, nie net twee tot drie ure per dag met rugby besig is nie. Om hierdie rede spandeer hy tyd in die aand aan sy studieverpligtinge. Een van sy grootste uitdagings is om op Saterdae aan assesseringsgeleenthede deel te neem, juis omdat hy dan juis óf vir die Bulle óf vir die Springbokke uitdraf. “Jy máák dit egter werk, en ek probeer my bes om ʼn balans tussen my skedule en my studie te tref,” sê Grobbelaar.
As hy ʼn brokkie advies vir voornemende studente het wat ook wil studeer terwyl hul voltyds werk óf ander belangstellings navolg, is dit om sy/haar passie uit te lééf. “As jy passievol is oor iets is dit maklik om jouself te motiveer en só sal jy kan deurdruk al het jy baie hooi op jou vurk,” verduidelik Grobbelaar. En as dit kom by passie, wéét Grobbelaar waarvan hy praat. Hy speel reeds vanaf 2016 rugby by die Bulle en het reeds drie Springbok-toetse onder sy belt, ná hy in 20 Julie 2024 sy debuut teen Portugal gemaak het.
Oor die vraag hoe dit voel om die groen en goud oor sy kop te trek, antwoord Grobbelaar dat dit ʼn voorreg én ʼn groot droom is wat verwesenlik is. “Ek wou nog altyd ʼn Springbok wees, maar ek het nooit daarop staatgemaak om so lank professioneel te speel nie. As ek terugkyk oor my loopbaan is ek ongelooflik dankbaar vir elke geleentheid wat na my kant gekom het, veral by die Blou Bulle. Dit is natuurlik ook ʼn reuseverantwoordelikheid om jou land op dié vlak te verteenwoordig, veral gegewe hoe trots die Suid-Afrikaanse ondersteuners is,” vertel Grobbelaar. Hy sluit af deur te sê dat dit vir hom ʼn eer is om ʼn positiewe bydrae op die veld te maak en só die Bok-erfenis gestand te doen.
*Fontie verwys na studente wat aan Akademia studeer.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.