Akademia vier twee jaar van koffiewinkelsukses

Gepubliseer op: 17 April 2025

Op 17 April 2025 vier Akademia die tweede bestaansjaar van sy immergewilde koffiewinkel, Sowel As*. Dié bymekaarkom plek vir dosente, Fonties en kuiergaste – plaaslik én internasionaal, het oor die bestek van die afgelope 24 maande net méér as 13 450 warm drankies bedien. Gedurende hierdie tyd het die koffiewinkel, wat op die instelling se Leriba-kampus gesetel is, óók as gasheer vir meer as 70 institusionele geleenthede en spesiale gebeurlikhede gedien. In kort: Sukses met élke koppie boeretroos en peuselhappie!

Hierbenewens het die aantal baristas van vier na sewentien gegroei, is die spyskaart aansienlik uitgebrei, spog dié koffiewinkel met sy eie handelsmerkprodukte én is daar ʼn tweede koffiewinkel op ʼn ander Akademia-perseel gevestig. Laasgenoemde verwys na Sowel As by koshuis@Jordan wat vroeër vanjaar op ʼn luisterryke wyse sy deure oopgeswaai het.

ʼn Viering van tuiswees

“As ek vandag terugkyk op die gewildheid en sukses van Sowel As is ek daarvan verseker dat dié koffiewinkel soveel méér is as ʼn blote kuierplek. Dit is in wese ʼn daadwerklike viering van die instelling se kenmerkende tuisweesatmosfeer,” sê Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings. Ter illustrasie hiervan vertel Swanepoel dat studente tussen klasse by die koffiewinkel aandoen om gesellig saam te kuier en bordspeletjies speel. Personeel aan die ander kant ontvang graag gaste hier, terwyl dit ook as ʼn gewilde vergaderplek en saamwerkruimte benut word.

Volgens Swanepoel is dit voorts ook lekker om eerstehands te sien hoe die koffiewinkel bydra tot die vaardigheidsontwikkeling van Fonties wat as baristas diens doen. “Nie net leer die studente hoe om met kliënte om te gaan nie, maar hulle leer óók hoe om onder druk koelkop te bly en op hul voete te dink,” vertel Swanepoel en voeg laggend by dat dit soms nogal besig kan raak, en dat dit kophou verg om bestellings reg en vinnig te bedien. Op die koop toe verdien die studente ook ʼn ekstra inkomste wat nooit te versmaai is nie.

ʼn Bederf vir élke soettand

Behalwe vir die genoemde groei en ontwikkeling, is die koffiewinkel se uitgebreide spyskaart nóg ʼn hoogtepunt. Vandag kan besoekers weglê aan ʼn verskeidenheid versnaperinge waaronder sjokoladebruintjies, pofryskoekies, mini-kaaskoekies en koekiefudge. Warm en koue drankies, soos melkskommels en freezos, is óók beskikbaar.

Volgens Catherine-May Trollip, koördineerder: Institusionele projekte en ondernemings, bly cappuccino’s die gewildste warmdrankie terwyl koffie-freezos in die warmer maande koning kraai. Wat eetgoed betref bly die koekiefudge ʼn gunstelingversnapering.

Koffieplesier van Gauteng tot in die Paarl

En wat word vir Sowel As in die vooruitsig gestel? Swanepoel antwoord opgewonde dat daar gróót planne en drome in die pyplyn is. Laasgenoemde sluit onder meer ʼn mobiele koffietrokkie in asook ʼn uitbreiding na die instelling se Paarl-kampus in 2026. Hierbenewens word daar hard gedink én gewerk om nóg nuwe spyskaartitems en handelsmerkprodukte bekend te stel.

Besoek gerus Die Winkel om Sowel As se handelsmerkprodukte – ʼn stylvolle reisfles en voorskoot, te besigtig.

*Sowel As se naam simboliseer Akademia se aansluiting by die klassieke universiteitswese, waar denke sowel as die hart gevorm word.

ʼn Tweede Sowel As-koffiewinkel het vroeër vanjaar sy deure by die instelling se Jordan-perseel (wat ʼn tuiste is vir drie Akademia-inwoonkoshuise) in Centurion oopgeswaai. Dié geleentheid is op ʼn luisterryke wyse deur personeel en studente gevier.
Sedert Akademia se koffiewinkel, Sowel As, sy deure in 2023 vir die eerste keer oopgemaak het, het dié gesogte koffiewinkel reeds méér as 13 450 koppies boeretroos verkoop.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.