Search
Close this search box.

Skaakdag: Wat is jou skuif?

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

Is ons net in skaak of is ons reeds in skaakmat?

Internasionale Skaakdag val vanjaar, soos elke jaar, op 20 Julie. Hierdie datum is gekies omdat die Internasionale Skaakfederasie in 1924 op hierdie dag gestig is. Skaak is ʼn unieke spel aangesien dit bestaan uit ʼn kombinasie van strategiese vaardighede wat oor tyd ontwikkel kan word, en soms speel blote geluk ʼn rol in die uitkoms van die spel.

Die woord skaakmat kom van die Persiese woord “shah mat”, wat beteken dat die koning verslaan is. Alhoewel skaak ʼn heerlike, uitdagende bordspel is, kan ons baie waardevolle lewenslesse daaruit leer.

Die agt pionne is die stukke wat gewoonlik die meeste gedurende ʼn skaakspel gebruik word. Pionne word aanvanklik beskou as slegs die stukke wat die belangriker rolspelers soos die koning en die koningin moet beskerm, maar as die speler ʼn pion aan die opponent se kant van die skaakbord kan kry, kan die pion aan enige ander stuk, behalwe ʼn koning, verander. Om ʼn pion te laat promoveer verg geduld, strategie en ʼn bereidwilligheid om opofferings te maak: drie vaardighede wat ʼn mens nodig het om sukses in die lewe te behaal. Die skuiwe van pionne kan vergelyk word met ons gewoontes en aksies – goeie gewoontes en proaktiewe aksies lei gewoonlik tot sukses.

Die koning kan nie soveel sigbare indrukwekkende skuiwe maak soos van die ander stukke nie, maar sonder die koning is die spel verlore. Vir ons is dit ook belangrik om te verstaan hoe onmisbaar die rol van die Koning in ons lewens is.

Die loper kan verwys na die uitdagings en skuiwe wat ons in ons geestelike lewens moet maak, die toring na ons fisiese uitdagings, en die koningin na ons groot drome. Maar sonder ʼn Koning is alles verlore en die spel onmoontlik.

Skaak is inderdaad ʼn interessante metafoor vir die lewe, en alhoewel ons elke nou en dan voel asof ons in skaakmat geplaas is, het ons gewoonlik die kans om die lewensspel voort te speel. ʼn Predikant het per geleentheid verduidelik dat selfs wanneer iemand doodgaan, en ons voel of ons in skaakmat is, het die Skepper altyd nóg ʼn skuif: Die ewige lewe.

20 Julie is Skaakdag. In ons lewens is elke dag skaakdag. Wat is jou volgende skuif?

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.