Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Sien die wintersonstilstand in jou skaduwee

Gepubliseer op: 18 Junie 2021

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van natuurwetenskappe by Akademia

Deur die eeue heen het mense opgemerk dat die skaduwees van voorwerpe, soos byvoorbeeld mense en bome, in jaarsiklusse geleidelik langer en dan weer korter word. Hier in Suid-Afrika is die skaduwees tans op hul langste – maar wat beteken dit presies?

Die as waarom moederaarde roteer (rotasie-as), asook die as waarom die aarde om die son wentel (omwentelingsas), is nie parallel nie, maar verskil van mekaar met ʼn hoek van ongeveer 23,5˚. Hierdie verskil het ʼn invloed op die hoek waarteen sonstrale die aardoppervlak bereik, en dus ook op die lengte van skaduwees. Hoe skuinser die sonstrale op die aardoppervlak inval, hoe langer word die skaduwees van voorwerpe, terwyl feitlik geen skaduwee sal voorkom wanneer die sonstrale loodreg op die aardoppervlak inval nie.

So byvoorbeeld gebeur dit een keer elke jaar dat die sonstrale loodreg op die Kreefskeerkring (breedtegraad van 23,5˚ noord) in die noordelike halfrond inval, waarna die invalshoek dan weer omdraai totdat dit weer op ʼn ander tydstip van die jaar loodreg op die Steenbokskeerkring (breedtegraad van 23,5˚ suid) in die suidelike halfrond inval. Die tydsduur van ʼn siklus tussen die maksimum invalshoeke van 90˚ by ʼn spesifieke breedtegraad is presies 365,25 dae, wat gelyk is aan een omwenteling van die aarde om die son. Dit is natuurlik die 23,5˚ kanteling van die aarde se rotasie-as wat hierdie siklusse tot gevolg het.

Die wintersonstilstand in die suidelike halfrond kom voor wanneer die aarde se rotasie-as só georiënteer is dat die Suidpool die verste van die son af is. Dit is dan ook die tydstip wanneer die sonstrale die skuinsste op die Steenbokskeerkring inval en wanneer die langste nag en kortste dag van die jaar voorkom. Al hierdie eienskappe kom jaarliks gedurende 20 of 21 Junie voor wanneer die draaipunt van die siklus bereik word – vandaar die woord “sonstilstand”. In 2021 word beraam dat die wintersonstilstand op Maandag 21 Junie om 05:31 sal voorkom.

Die wintersonstilstand verteenwoordig ook die draaipunt tussen die winter- en somerseisoen, en dit is daarom dat die gebeurtenis histories in baie kulture met groot feesvierings gepaardgegaan het, natuurlik in afwagting tot warmer toestande en nuwe groei.

Op 21 Junie 2021 sal ons skaduwees dan ook die langste wees as wat dit die hele jaar is. Gaan staan dus gerus buite en geniet jou lang skaduwee, want jy sal ʼn jaar moet wag voordat jy weer so lank sal wees!

Die wintersonstilstand verteenwoordig nie net die langste nag en kortste dag van die jaar nie, maar dit is ook op dié tydstip van die jaar wanneer jy die langste skaduwee sal hê.