Search
Close this search box.

Sakeplankompetisie lê die grondslag van my entrepreneuriese droom – Akademia-alumnus

Gepubliseer op: 22 Julie 2024

ʼn Jaar het verloop sedert Akademia-alumnus, Abigail Fourie en haar verlowingsbeplanningsbesigheid, The Perfect Moment, as die wenner van die instelling se gewilde BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie aangewys is. Dié spesialisdiens het dit ten doel om uitsonderlike verlowingsbeplanning en -ervaringsdiens te verskaf, en poog om die individualiteit van elke paartjie te verstaan en te vier.

Volgens Fourie het sy die verloopte tyd gebruik om haar bestaande sakeplan verder te ontwikkel en uit te brei. “Ek het sedert die aankondiging baie tyd spandeer aan deeglike marknavorsing en danksy hierdie strategiese fokus kon ek verskeie aspekte van my oorspronklike plan, waaronder praktiese uitvoerbaarheid en my beplande toetrede tot die mark, verder verfyn,” verduidelik Fourie. Sy voeg by dat hierdie verfyning gepaard gegaan het met die daarstelling van ʼn nuwe korporatiewe identiteit – iets wat Fourie as ʼn hoogtepunt beskryf.

Die waarde van die kompetisie kan volgens Fourie nie genoeg benadruk word nie. “Behalwe vir die onvergeetlike leerervaring en blootstelling, het my deelname aan die kompetisie vir my ʼn groter bewustheid van die werking van die besigheidsmark en my rol as entrepreneur daarin gegee,” sê Fourie. In die lig hiervan het Fourie tot die besef gekom dat The Perfect Moment nie vir die eerste vyf tot tien jaar vir haar ʼn primêre bron van inkomste sal kan wees nie. Dié besigheidsidee lê haar egter steeds baie na aan die hart en sy sal voortgaan om die voorbereidingswerk te doen om vlerke hieraan te gee en uiteindelik die mark met selfvertroue te betree.

Fourie het die prysgeld van R50 000 in ʼn rentelopende rekening geplaas en só groei dit om later as kapitaalinspuiting te dien vir die dag wanneer sy The Perfect Moment formeel bekendstel. Intussen brand haar entrepreneurskapsvlammetjie steeds helder, en het sy onlangs saam met haar verloofde, Werner Grundlingh, aan ʼn nuwe besigheidskonsep begin werk.

Oor haar eie onlangse verlowing sê Fourie dat alhoewel Grundlingh hom goed van sy taak gekwyt het, hy aan haar erken het dat ʼn verlowingsbeplanningsdiens, soos The Perfect Moment, baie handig te pas sou kom. “Dié erkentenis is net nóg ʼn bevestiging dat my besigheidsidee werkbaar is en ʼn besliste behoefte in die mark kan bevredig,” sê Fourie.

Met die bekendstelling van die 2024-kompetisie moedig Fourie, wat gedurende die mees onlangse kwalifikasieplegtigheid in Meimaand haar BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie behaal het, dat studente dié geleentheid met albei arms moet aangryp. Sy het veral die volgende lesse geleer:

  • Praktiese ervaring is die beste leermeester

Om self ʼn sakeplan van begin tot einde op te stel is ʼn waardevolle leerervaring. Dit gee jou as voornemende entrepreneur blootstelling aan marknavorsing en jy leer in dié proses om jou teikenmark na behore te identifiseer en uit te brei.

  • Deelname bevorder jou voorleggingsvaardighede

Deur jou sakeplan aan ʼn paneel beoordelaars voor te lê en te verdedig leer jou as entrepreneur om met selfvertroue op jou voete te dink, en hierdie proses help jou om jou plan voortdurend aan te pas en te verfris. Die terugvoer van die beoordelaars, beleggers en mentors dien ook as ʼn spieël waarin jy jouself en jou besigheid op ʼn kritiese en realistiese manier kan beskou.

  • Die waarde van besigheidsnetwerke is van onskatbare belang

As student, en toekomstige entrepreneur, is daar nie ʼn beter tyd om aan jou professionele netwerke te bou as juis nou nie. Hierdie netwerke gaan jou regdeur jou loopbaanreis handig te pas kom en is nóg ʼn platform wat jy kan gebruik om jou impak en relevantheid te help bepaal.

“Dit is goed om oor die toekoms te droom, maar niks gaan gebeur as jy nie ook jou moue oprol en werk maak van jou doelwitte en ideale nie,” meen Fourie. Sy wens die deelnemers van die 2024-kompetisie al die beste toe en sy is opgewonde om te sien waarmee die studente vorendag gaan kom.

Indien jy, soos Fourie, daarvan droom om ʼn loopbaan as entrepreneur te volg, doen vandag nog aansoek vir studie gedurende die 2025- akademiese jaar. Aansoeke word reeds ingewag.

The Perfect Moment spog met ʼn nuwe korporatiewe identiteit.
Abigail Fourie, wenner van verlede jaar se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie, werk steeds volstoom aan haar besigheid, The Perfect Moment.