Gepubliseer op: 31 Julie 2025
Geskryf deur prof. Gawie du Toit, hoof van Akademia se Paarl-kampus.
Die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike taal, as deel van die #Afrikaans100-feesprojek, is steeds in volle swang. Akademia, as ʼn trotse Afrikaanse onafhanklike hoëronderwysinstelling, skaar homself opgewonde by verskeie ander Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe om dié merkwaardige hoogtepunt te vier. Een van die maniere waarop die instelling hierdie feesviering gestand doen, is by wyse van sy toegewyde jaartema vir 2025: Afrikaans en tuis.
Die ontstaan van Afrikaans het plaasgevind in ʼn veelrassige, meertalige en koloniale konteks waar verskillende kultuurgemeenskappe met mekaar in aanraking gekom het. Teen die laat 1800’s het Afrikaans begin ontwikkel van omgangstaal na ʼn skryf- en kultuurtaal. Hierdie proses het sy aanvang geneem in die Paarl, waar Arnoldus Pannevis se insigte gelei het tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875. Onder leiding van ds. SJ du Toit het die GRA en die Eerste Afrikaanse Taalbeweging begin om Afrikaans as selfstandige taal te bevorder – in godsdiens, opvoeding en publikasies. Hul publikasies, soos Die Afrikaanse Patriot, Ons Klyntji en Die Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal, het die eerste bewuste Afrikaanse letterkunde aan die publiek bekendgestel.
Die letterkundige hoogtepunt van hierdie fase word gekoppel aan Eugène Marais en Jan FE Celliers, wie se gedigte aan die begin van die 20ste eeu die vermoë van Afrikaans as literêre medium bevestig het. Albei digters het bande met die Paarl en Wellington gehad.
Die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, geïnspireer deur dokumentasie van SJ du Toit, het onder leiding van Gustav Preller, Totius en JJ Smith die grondslag verder uitgebou. Afrikaans het gegroei tot ʼn taal van onderwys, regspleging en akademie. Met die aanstelling van JJ Smith en DF Malherbe aan bekende universiteite het Afrikaans ʼn tuiste in hoër onderwys gevind, en het hulle ʼn generasie akademici en skrywers gelei om Afrikaans as taal van hoër onderwys en letterkunde te vestig. Die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal in 1925 en die Bybelvertaling van 1933 het dié taal se kulturele en geestelike status bevestig – ʼn nalatenskap wat op Paarlberg in graniet verewig is.
Wat besonder opvallend is, is die sentrale rol van Wes-Kapenaars – veral in die Paarl – as pioniers én rentmeesters in die ontwikkeling van Afrikaans van ʼn omgangstaal tot ʼn volwaardige hoëfunksietaal. Hulle het ʼn blywende bydrae gelewer tot die verankering van Afrikaans in onderwys, akademie, administrasie, regspraak, media, literatuur en godsdiens. Afrikaans is vir baie die eerste draer van liefde, veiligheid en identiteit.
Dit laat ʼn mens tuis voel, want daarin hoef jy jouself nie te vertaal nie – jy word verstaan én erken. Afrikaans as moedertaal bied genuanseerde selfuitdrukking en kulturele verankering. In 2025 – die eeufees van Afrikaans as amptelike taal én 125 jaar van die GRA – simboliseer die bekendstelling van Akademia se Paarl-kampusadres ʼn betekenisvolle tuiskoms en ʼn voortsetting van hierdie nalatenskap.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.