Akademia se Paarl-kampus: Nóg ʼn bousteen ter bevordering van die Afrikaanse universiteitswese

Gepubliseer op:  15 Oktober 2025

Met die amptelike bekendstelling van Akademia se nuwe kampus in die Paarl het dié onafhanklike Afrikaanse hoëronderwysinstelling nie net ʼn moderne kampusfasiliteit onthul nie, maar simbolies nóg ʼn bousteen ter bevordering van die Afrikaanse universiteitswese neergelê. Die Paarl-kampus* geleë in Bredastraat 1, Esterville, is op Woensdag 15 Oktober 2025 op ʼn luisterryke wyse aan die media, die gemeenskap en voornemende studente bekendgestel. Studente wat op die voltydse kampusmodel studeer sal vanaf 2026 hul studie hier kan begin, terwyl studente wat via die nauurse afstandsmodel studeer en van die instelling se sentrumnetwerk gebruik maak ook hier sal inskakel.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, verteenwoordig die kampusbekendstelling in wese die gewaarwording van ʼn gekoesterde vertrouensverhouding tussen die instelling en die groter Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe in die Wes-Kaap. Hierdie verhouding word versterk deur ʼn gedeelde toekomsgerigtheid, ʼn roepingsgedrewe diensbaarheid en die grootse potensiaal wat deur moedertaalonderrig ontsluit word.

Visser vertel dat die vestiging van hierdie kampus van meet af as ʼn saamspanprojek gekenmerk is. “Die gemeenskap van die Paarl en die breër Boland het van die begin af saam met ons gedroom. Sakeondernemings, alumni, ouers, ondersteuners en vennote het hande gevat – met raad, hulpbronne en geloof in die instelling se visie. Hierdie kampus behoort nie net aan Akademia nie; dit behoort aan elkeen in die gemeenskap wat in die waarde van moedertaalonderrig glo.”

Die gemeenskap as die wieg van moedertaaluitbouing

Op sy beurt gee prof. Gawie du Toit, hoof van die Paarl-kampus, erkenning aan die voorlopers van moedertaalonderrig en meer so die rol van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe in die Paarl en die Wes-Kaap. “Die Afrikaanse taalbeweging is hier gebore en die mense van hierdie streek – onderwysers, digters, denkers en gelowiges, het deur hul toewyding gewys dat moedertaalonderrig nie ʼn voorreg is nie, maar ʼn verantwoordelikheid wat deur gemeenskappe gerig moet word. Die bekendstelling van die Paarl-kampus is, in die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal en 125 jaar ná die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), as’t ware ʼn oomblik in die geskiedenis waar die kringloop voltooi word. Hierdie kampus pols die hartklop van die Afrikaanse taal en is ʼn trotse baken vir kennis, kultuur, gemeenskap en taal,” sê Du Toit.

Hy voeg by dat daar vir Akademia ʼn dieper betekenis opgesluit lê in elke uitbouingsgeleentheid, hetsy die bekendstelling van sy Paarl-kampus óf die ontwikkeling van sy wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria. “Afrikaans leef in die klas, maar ook in die gemeenskap – in ons denke, ons drome en ons diens aan mekaar,” sê Du Toit. “Dit is ons droom dat hierdie kampus ʼn tuiskoms sal wees vir die Afrikaanse studente– ʼn plek waar ons saam aan nuwe stories van hoop en uitnemendheid sal skryf,” sê Du Toit.

Gemeenskapstemme

“Sonder die gewilligheid van Afrikaanse rolspelers om, te midde van toenemende staatsverval en -vervreemding, onafhanklike gemeenskapsinstellings tot stand te bring, loop ons die gevaar om getuies van ʼn potensiële algehele ineenstorting te raak. Akademia as hoëronderwysinstelling help bou aan ʼn keerwal teen onkunde en intellektuele vervlakking.” – Heindrich Wyngaard, voorsitter: Kaapse Forum en seremoniemeester tydens die bekendstellingsgeleentheid.

“Die bekendstelling van Akademia se Paarl-kampus is ʼn groot oomblik, nie nét vir die Paarl en die Wes-Kaap nie, maar vir die hele Suid-Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Hierdie kampus is die vervulling van ʼn droom en die aanvang van uitsonderlike geleenthede vir kennisverkryging en groei binne ʼn eie taal- en geloofsmilieu. Akademia is ʼn simbool van hoop en is tekenend van die krag wat daar in samewerkende gemeenskappe opgesluit lê. Mag die instelling van krag tot krag gaan en mag uitnemendheid sy deel wees vir geslagte wat volg.” – André Verhoog, bestuurslid: Paarl Vallei Prinsipale Vereniging wat tydens die bekendstellingsgeleentheid die instelling namens die gemeenskap in die Paarl verwelkom het.

“Drakenstein is ʼn ideale tuiste vir kennisgedrewe instellings, soos Akademia, te danke aan ons munisipale gebied se gevorderde infrastruktuur en sakeondersteuningsdienste. Die bekendstelling van Akademia se Paarl-kampus in dié gebied dra voorts tot die verdere verwesenliking van die munisipaliteit se doelwitte van ekonomiese groei en vaardigheidsontwikkeling by. Laasgenoemde versterk die gebied se ruim aanbod van hoëronderwysinstellingskampusse en naskoolse onderrig.” – Raadslid, Stephen Korabie, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit. 

Só sien die kampus daaruit

Die kampusfasiliteite sien soos volg daaruit:

  • lesingslokale en verskeie saamwerkruimtes;
  • ʼn ten volle toegeruste biblioteek;
  • ʼn Sowel-As-koffiewinkel;
  • Die Winkel (vir die verskaffing van Akademia-handelsmerkprodukte); en
  • toegangsbeheer en veilige parkering.

Die kampus sal ʼn aanvang neem met ʼn personeelkorps van 52 voltydse personeellede. Die instelling is reeds in die proses om poste vir die Paarl-kampus te vul en daar word beoog om uiteindelik 25 akademiese personeel en 27 afdelingspersoneel vir 2026 op die perseel in diens te hê. Dit word in die vooruitsig gestel om teen 2028 bykans 88 voltydse personeel op die kampus werksaam te hê. Daar word voorts voorsien dat 340 eerstejaarstudente in 2026 op die kampus verwelkom sal word. Dié getal sal teen 2032 die 2 000-kerf oorskry.

Wat die akademiese programverskeidenheid betref sal daar, soos in die geval van die Pretoria-kampus, programme vanuit al vyf die instelling se dinamiese fakulteite aangebied word.

*Die kampusbekendstelling volg nadat die instelling vroeër vanjaar voorwaardelike goedkeuring vanaf die Raad op Hoër Onderwys (RHO) se Hoëronderwysgehaltekomitee (HOGK) vir die Paarl-kampusfasiliteit ontvang het.

Akademia se Paarl-kampus is op Woensdag 15 Oktober 2025 op luisterryke wyse aan die media, die gemeenskap en voornemende studente bekendgestel.
Belanghebbendes en gaste klink ʼn glasie op die amptelike bekendstelling van Akademia se Paarl-kampus. Dié kampus is geleë te Bredastraat 1, Esterville, en sal sy eerste groep voltydse kampusstudente in 2026 verwelkom.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.