Search
Close this search box.

Ou Griekse wysgere praat Afrikaans

Gepubliseer op: 8 Februarie 2023

Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates het onlangs by Akademia Uitgewery verskyn. Dié Afrikaanse vertaling deur die emerituspredikant, dr. Piet Boshoff, bied aan die Afrikaanse leser toegang tot ʼn skatkis van filosofiese kennis. Karien Brits van die Akademia Uitgewery het met Boshoff gesels oor die vertalingsproses, hoekom die werk gelees moet word en wat die leser te wagte kan wees.

Akademia bou as hoëronderwysinstelling voort op die ideale van die klassieke universiteitswese waarvan die wortels in ou Griekeland is. Dit is nie net belangrik dat Akademia-studente kennis neem van die Griekse wysgere nie, maar ook dat hierdie wysgere vir die Afrikaanse student toeganklik gemaak moes word. Daarom het Akademia Uitgewery dr. Piet Boshoff genader om Plato se dialoogtrilogie uit die Grieks te vertaal.

Waarom juis die Griekse werke van Plato oor Sokrates?

Die Grieke was daarvan oortuig dat hulle die ware mensekennis ontdek het, dit wat die mens tot mens maak en dit is dat hy wesenlik die redelike wese is. Dit onderskei hom van ander wesens en dat hy aan die dink raak, skep die moontlikheid dat hy sy bestemming as mens kan verwesenlik. Sokrates is die man wat deur die eeue die erkenning kry dat hy aan hierdie oortuiging gestalte gegee het. Self het hy niks op skrif nagelaat nie. Sy leerling, Plato, het die taak aanvaar om Sokrates se insigte op skrif te stel en met sy eie insigte uit te brei. Daarmee het Plato die “prins onder die filosowe” volgens Cicero (106-43 v.C.) geword. As woordkunstenaar is Plato net so uitstaande as filosoof. Vir die Grieke het filosofie alles ingesluit wat deesdae onder wetenskappe verstaan word. Hulle lê daarmee die fondament van Westerse wetenskaplike ontwikkeling as deel van die Westerse kultuur. Staande in hierdie dampkring het ons seker die plig om van hierdie erfenis van ons rekenskap te gee.

Waarom is dit juis in Afrikaans vertaal?

Die ernstige student van hierdie filosofie mag hom nie tevrede stel met sekondêre bronne nie; hy behoort van die skoon water te drink. Vir dié wat Grieks nie self magtig is nie, kan hierdie Afrikaanse vertaling min of meer direkte toegang tot die oorspronklike bron bied. Dit sê ek sonder om daarmee die indruk te laat dat vertaling ʼn maklike onderneming is. Ek het my bes gedoen om Sokrates aan ʼn verjongingskuur te onderwerp en om hom Afrikaans te laat praat. Terselfdertyd word die ou aanspraak dat Afrikaans die ingewikkeldste wetenskaplike argumente onder woorde kan bring ook beproef.

Wat kan die leser verwag?

Teen 421 v.C. het ʼn ingrypende verandering in Sokrates se lewe plaasgevind. Chairefoon, sy maat van kleins af, het die orakel van Delphi gevra of daar iemand in Griekeland is wat wyser as Sokrates sou wees. Die Puthia, die priesteres van Apollo, antwoord toe dat niemand wyser is nie. Sokrates het hom toe voorgeneem om te bewys dat die orakel verkeerd is. Uiteindelik moes hy tot die gevolgtrekking kom dat die orakel tog gelyk het.

In sy ondersoek maak hy gebruik van wat bekend geword het as die Sokratiese ironie. Daarin doen hy homself voor as die onkundige wat graag van sy gespreksgenoot wil leer. So hang hy aan Eutuphro se lippe sodat niks van wat Eutuphro sê miskien op die grond sal val nie. Maar op elke stelling van Eutuphro maak hy ʼn teenstelling. Op hierdie manier wil hy ʼn selfkritiese benadering by die ander kweek.

Vir Sokrates is ware kennis die kennis van algemene begrippe. Hy is die eerste denker wat groot waarde geheg het aan definisievorming. ʼn Definisie het die funksie om af te baken. Daarom is die uitgangspunt van Sokrates se gesprekke nie die sogenaamde aanvaarde opvattings nie. Die opvattings moet juis ondersoek en beproef word om by die wesenlike van die saak uit te kom. Langs hierdie weg word die lesende student na ʼn baie belangrike ontdekking en bydrae van die Griekse denkers tot die Westerse beskawing gelei. Die bepaling van die regte begrippe maak gesprek tussen mense moontlik en lei so tot onderlinge begrip.

Vir Sokrates gaan dit nie om ʼn filosofie as sisteem nie, maar daarom dat daar deelname moet kom, daar moet gefilosofeer word. Hy beskryf daarom die Atheners as ʼn groot en volbloedperd wat deur sy grootte ietwat traag geraak het en nou deur hom, wat Sokrates is, in die rol van ʼn soort perdevlieg wakker geklits moet word.

Sokrates vergelyk sy roeping as gesprekvoerder met die beroep wat sy ma as vroedvrou beoefen het. In sy geval kom dit neer op ʼn geestelike verloskunde. So lei Sokrates vir Krito in die derde dialoog tot op die punt waar hy die insig wat sluimerend in hom teenwoordig is, na vore bring en teenoor Sokrates erken: Toemaar, Sokrates, ek het niks meer op te merk nie.

U is ʼn emerituspredikant. Watter rol het dit in die vertalingsproses gespeel?

Oor die algemeen is dit waar dat dit altyd die godsdiens is wat mense aan die vertaal sit. Sedert die Kerkhervorming van die sestiende eeu het daar opnuut ʼn aanmoediging tot hierdie werk gekom. Die Nuwe Testament het in 1516 vir die eerste keer in druk in Grieks verskyn. En van protestantse predikante is verwag om die Bybel in sy oorspronklike tale te lees. Dat die vertaling van Plato in Afrikaans juis in ʼn pastorie sou begin, hoef niemand te verbaas nie. Waar anders?

Die gelowige leef in twee ryke. In die ryk van Jesus Christus waar Hy met sy woord, die evangelie, sy genade en vergewing, en geloof regeer. En in die ryk van God, die Skepper wat oor regverdiges en onregverdiges laat reën en met die wet regeer en waar die menslike verstand sy weg moet vind à la Sokrates. Die Gees van God leer ons om tussen hierdie twee ryke te onderskei.

Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates is ʼn waardevolle boek om by jou filosofieskatkis te voeg. Klik gerus hier om jou kopie op Die Winkel te bestel.

Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates is ʼn waardevolle boek om by jou filosofieskatkis te voeg.
Dr. Piet Boshoff is ʼn emerituspredikant wat Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates uit Grieks na Afrikaans vertaal het.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.