Search
Close this search box.

Van toeka se bordkryt na klaskamer in die kuberruimte

Gepubliseer op: 24 Mei 2024

Die Fakulteit Opvoedkunde het die afgelope week gestalte gegee aan Akademia se leuse ad futurum per fontes oftewel na die toekoms deur die bronne. Dr. Pierre Edwards het op 21 Mei tydens sy openbare lesing ʼn interessante en boeiende blik oor die geskiedenis van Afrikaans as onderrigtaal gegee. Edwards is die bekleër van die instelling se ereleerstoel in onderwysleierskap aan die Fakulteit Opvoedkunde. Hierdie lesing het die fakulteit se jaarlikse opvoedkundesimposium (die volgende dag) op 22 Mei ingelui waartydens daar op die kernaspekte van afstandsonderrig in die digitale era gefokus is.

Openbare lesing

Tydens die openbare lesing het Edwards die klem laat val op Suid-Afrikaanse kampvegters vir Afrikaanse onderwys gedurende die vorige eeu, waaronder FW Reitz, Paul Kruger en Marthinus Steyn. Hy het dit gestel dat daar in werklikheid “niks nuut onder die son is nie”, en dat hedendaagse kampvegters vir Afrikaanse onderwys baie gemeen het met hul eweknieë van ʼn eeu tevore. Hierdie gemeensaamheid word nie net geïllustreer deur die uitdagings van die dag nie, maar ook die “merkwaardige pioniersgees” wat steeds geopenbaar word.

“Die reis van Afrikaans as ʼn onderwystaal strek van die oorsprong van Afrikaans as ʼn taal van die mense, tot by sy posisie vandag as ʼn dinamiese en lewenskragtige taal van kennis en geleerdheid,” sê Edwards. Hy meen voorts dat die uitdagings wat Afrikaans vandag in die gesig staar Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe herinner aan die volharding en vasberadenheid van die kampvegters van ouds. “Hierdie baanbrekers het staande gebly teen ongekende teenstand en ontberings, en het nooit opgehou om te glo in die krag van Afrikaans nie. Hul nalatenskap is ʼn herinnering dat ons, te midde van uitdagings, ook ʼn ligpunt van hoop en moed kan wees,” verduidelik Edwards.

Hy het sy lesing afgesluit deur te sê dat die voorbeelde uit die verlede as ʼn riglyn vir die toekoms gebruik moet word. “Laat ons saamwerk en saam strewe na ʼn toekoms waar Afrikaans as ʼn onderrigmedium ʼn bron van trots en vreugde is vir almal wat daarmee verbonde is,” sluit Edwards af.

Dr. Pierre Edwards is die bekleër van Akademia se ereleerstoel in onderwysleierskap in die Fakulteit Opvoedkunde.
Dr. Pierre Edwards, Susan O Reilly (departementshoof: Opvoedkundestudies) en prof. Gawie du Toit (dekaan: Fakulteit Opvoedkunde).

 

Opvoedkundesimposium

Die tema van vanjaar se simposium, soos aangebied deur die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, het op die kernaspekte van afstandsonderrig in die digitale era gefokus.

Die sprekers was dr. Kristien Andrianatos, senior dosent by die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit (NWU), prof. Geoffrey Lautenbach, medeprofessor by die Departement van Wetenskap en Tegnologie-onderwys aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), prof. Christo van der Westhuizen, professor by die Departement van Wetenskap en Tegnologie-onderwys aan UJ, asook dr. Nic de Jager, dosent in die Departement Professionele Studies by Akademia.

Hierdie sprekers het vanuit hul onderskeie vakgebiede en ervaring in afstandsonderrig ʼn bestekopname gemaak van waar afstandsonderrig tans is, hoe toeganklik dit is en hoe dit bestuur kan word. Die sprekers was dit eens dat geleenthede soos hierdie simposium broodnodig is om mense bewus te maak van die unieke aard en uitdagings van afstandsonderrig in die digitale era.

Andrianatos het in haar aanbieding klem gelê op die menslike aspek van afstandsonderrig. Haar groot uitdagings is hoe ʼn dosent teenwoordig bly en hoe om passiewe leer teen te werk. Sy het voorbeelde gegee van aktiwiteite wat diskoers aanmoedig en genoem dat dit ʼn voortdurende proses om die regte tegnologiese toepassings te vind. Daar is ook die uitdagings wat bekostigbare data en beurtkrag betref. Volgens Andrianatos is dit ʼn voortdurende leerproses.

Daar moet volgens Lautenbach veral aandag gegee word aan outentieke assessering in die digitale era. Hy het voorbeelde gegee uit sy ervaring in die ontwikkeling van ʼn aanlyn meestersgraad in Inligtings- en Kommunikasietegnologie. Volgens hom moet assessering nie net ʼn blote weergee van inligting wees nie, maar dit moet juis diepgaande en betekenisvolle leer aanmoedig. Lautenbach het die rol van die studente in die leerproses beklemtoon – dit is belangrik om die insette van studente oor die onderrigstyl te kry.

Van der Westhuizen het in sy aanbieding by Andrianatos aangesluit oor die raamwerk vir die gemeenskap van ondersoek vir afstandsonderrig, maar hy het veral gefokus op leerdergesentreerde en probleemgebaseerde leer. Volgens hom moet dosente ʼn kopskuif maak as hulle in die digitale omgewing klasgee, want dit is nie net ʼn blote digitale weergawe van die tradisionele klaskamer nie. Daar moet doelbewus beplan word om binne vervlegde- en aanlynleeromgewings op ʼn leerbestuurstelsel optimaal te onderrig en te assesseer.

De Jager het sy passie oor multimodaliteit met die gehoor gedeel. Dit is vir hom belangrik dat studente hulle kennis in verskeie modusse soos gedrukte media, beelde, grafika of musiek ook kan weergee. Hy het in sy aanbieding ʼn oorsig gebied oor die onderrigstrategieë en algemene praktyke wat tans in Akademia se afstandsonderrigmodel toegepas word. De Jager het spesifiek na die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS)-program verwys en die geleenthede wat aanlyn studie vir nagraadse studente bied. Ten spyte van die voordele van onderrig in die digitale era, is daar ook uitdagings wat die hoof gebied moet word. Hy waarsku dat die oormatige gebruik van digitale tegnologieë nadele vir die studente en dosente kan inhou.

Die sprekers het tydens die paneelgesprek beklemtoon dat afstandsonderrig kundigheid verg en dat dosente baie beter moet beplan as vir tradisionele klasse. Aanlyn afstandsonderrig kom nie sonder uitdagings nie, maar dit kan die hoof gebied word met opleiding aan dosente en goeie administratiewe ondersteuning. Dit is veral belangrik dat die leerbestuurstelsel vaartbelyn moet wees en dat die studente en dosente moet weet hoe die proses werk en wat van hulle verwag word. Afstandsonderrig in die digitale era is nie meer net toekomsmusiek nie, dit is reeds hier en die aanvraag daarvoor word steeds groter.

Die sprekers tydens die simposium is, van links: prof. Christo van der Westhuizen, dr. Kristien Andrianatos, prof. Godfrey Lautenbach en dr. Nic de Jager.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.