Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Opgradering van optiesevesel verbeter Akademia-studente se leerervaring

Gepubliseer op: 29 Maart 2017

Selfs vinniger internet, topgehalte video’s, ekstra skerp beelde en intydse interaktiewe klasse word nou aan Akademia se studente gebied, nadat die optiesevesellyne van 2 megagrepe na 80 megagrepe opgradeer is.

Hierdie toonaangewende tegnologiese vooruitgang verseker dat al elf Akademia se landswye studiesentrums nou die vele voordele van vinnige internetspoed en uitstekende tegnologie kan geniet. Waldemar Blanché, hoof van opvoedkundige tegnologie by Akademia, sê die beter optiesevesellyne bied aan die studente en dosente soveel meer opsies. “Dosente kan nou staan en rondbeweeg terwyl hulle klasgee en studente kan vinnig en maklik reageer. Die interaktiewe aard van die klasse bied aan ons studente ’n uitstekende afstandsleerervaring, aangesien dit voel asof jy werklik deel van die klas is en nie net ’n toeskouer nie.”

Toe Akademia in 2012 sy deure oopgemaak het, het elke studiesentrum met ’n halwe megagreep se ADSL-lyn gefunksioneer. In 2014 het Suid-Afrikaanse besighede na optiesevesellyne oorgeskakel en Akademia het ook spoedig sy tegnologie verbeter, met elke studiesentrum wat toe aansienlik beter met 2 megagrepe gefunksioneer het. Die mees onlangse opgradering is ’n tegnologiese sprong wat Akademia op die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling hou en die groeiende studentekorps in elke opsig bevoordeel.

Akademia se onderrigmodel kombineer ’n klaservaring met afstandsonderrig. Studente woon klas by, maar kan kies by watter van die elf studiesentrums regoor die land hulle dit wil doen. Alle klasse is regstreeks met mekaar, sowel as met een van vier professionele ateljees by Akademia se hoofgebou waar die dosent gesetel is, in verbinding. Studente sien op een groot skerm die klasnotas, en op ’n tweede skerm word die dosent lewensgroot vertoon.

Kontaksessies duur ongeveer vyftig minute, en studente kan aan die klas deelneem deur eenvoudig ’n hand op te steek en ’n vraag te vra. Sagteware bring outomaties so ’n student na die voorgrond van die videovoer in ander klasse, byna asof die vraag in dieselfde lokaal gevra is. Op soortgelyke wyse kan die dosent studente vrae aan enige student in enige van die klasse rig, en word die bespreking regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar.

Die ateljees vanwaar die dosente klasse aanbied is met gevorderde tegnologie ingerig. Voor dosente verskyn al die verskillende klasse op groot televisieskerms, waar dosente studente kan identifiseer vir vrae en opdragte. Digitale penne dra wat dosente ook al op die papier voor hulle skryf oor na die skerms in studiesentrums. Terselfdertyd is klank- en videoingenieurs deurentyd in die beheerkamer besig om klank, video en ander tegnologiese aspekte te monitor en optimaliseer.

Na klasse word die opnames geredigeer en binne enkele dae op Akademia se digitale leerruimte, die Spens, vir studente beskikbaar gemaak. Hier kan studente video-opnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om later weer as ’n potgooi te luister.