ʼn Uitstaande groep natuurwetenskaplikes vat hande in ʼn multidissiplinêre dieregesondheidsprogram
Gepubliseer op: 1 Maart 2022
Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe
Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, is uitgenooi om deel te vorm van ʼn uitstaande groep natuurwetenskaplikes, in onder meer veeartsenykunde, mikrobiologie, klimaat en die landbou, wat deur ʼn volhoubare multidissiplinêre program nuwe navorsing oor grasspoorgeïnduseerde lewersiekte (sporidesmin-induced liver disease) sal doen. Die inisiatief sal bekendstaan as die SILD-program, en sal gelei word deur dr. Anthony Davis van die Humansdorp veeartsenykundekliniek.
Grasspoorgeïnduseerde lewersiekte is veral ʼn probleem onder melkbeeste. ʼn Fungus wat op verlepte gras voorkom, stel die giftige spore vry, waarna dit deur die bees geëet word, die dier se lewer aantas en daarna verantwoordelik is vir veluitslae soos gesigekseem. Alhoewel die siekte melkproduksie noemenswaardig benadeel, weet ons nog baie min oor die sleutelfaktore in die klimaat-grond-gras-bees-ketting wat aanleiding gee tot die siekte.
Die stigtingsvergadering van die SILD-groep het op 23 Februarie 2022 by Melk Suid-Afrika se hoofkantoor in Pretoria plaasgevind, waar daar in diepte gesprek gevoer is oor die navorsingsroete wat gevolg gaan word. Die hoofkomponente van die navorsing sluit die volgende in:
- ʼn Klimaatstudie waar historiese data gebruik sal word om die optimale groei-omgewingstoestande van die fungus en spoorvrystelling te identifiseer.
- ʼn Studie om te bepaal of die analise van historiese lewerbiopsies gebruik kan word om ʼn beter diagnose van die siekte te kan maak.
- ʼn Studie oor die voorkoms van die fungus en die gepaardgaande giftige spore op verlepte gras op melkplase in die Oos-Kaap.
- ʼn Studie om die ekonomiese impak van die siekte op die melkindustrie te bepaal.
Die navorsingsgroep sal gereeld kommunikeer en beoog om selfs die navorsingsveld uit te brei soos wat nuwe ontdekkings gemaak word. “Dit is vir die Fakulteit Natuurwetenskappe ʼn groot eer om op hierdie manier ons kennis met van die beste wetenskaplikes in Suid-Afrika te deel, en om sodoende ʼn beter natuur- en leefomgewing vir al ons gemeenskappe te skep,” sê Prof. Rautenbach.