Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Vrystaat-jongboer Carine ʼn trotse Fontie

Gepubliseer op: 9 Julie 2024

Vir Carine Steenkamp (20) van Bothaville in die Vrystaat begin die lewe, soos die gewilde gesegde lui, presies daar waar die teerpad eindig en die Steenkamp-familieboerdery begin. Dié gemengde saai- en beesboerdery is die spil waarom Steenkamp se bestaan wentel, en sy meen dat dit ʼn groot voorreg is om dié roepingstaak saam met haar ouers te kan aanpak.

Ten einde haarself toe te rus om as jongboer ʼn aktiewe rol in die uitbouing en voortbestaan van die boerdery te help verseker, het Steenkamp vanjaar agter die boeke ingeskuif as ʼn eerstejaarstudent in die BCom (Finansiële Beplanning)-program by Akademia. Sy pak hierdie studie via die nauurse afstandsmodel aan.

Volgens Steenkamp kan sy die vaardighede en kennis wat sy in dié program aanleer prakties in haar daaglikse boerderybestuurspraktyke toepas terwyl die nauurse afstandsmodel haar die beweegruimte bied om haar ten volle in die boerdery uit te leef. “Ek kan, sonder om enige addisionele druk op myself te plaas, steeds bedags veilings en landbouskoue bywoon óf tot ná 19:00 saans op die plaas doenig wees,” verduidelik Steenkamp.

Akademia se Christelike inslag het die knoop vir Steenkamp as studietuiste deurgehaak. “As ʼn boer is jy baie afhanklik van die Skepper, en sy genade en voorsiening rig jou elke dagtaak,” sê Steenkamp en voeg by dat dit vir haar belangrik was om haar studie op dieselfde geloofsfondasie voort te bou. “Dit is natuurlik ook baie lekker om myself in Afrikaans verder te bekwaam en só my taal- en kultuurerfenis te omarm,” meen Steenkamp.

As jongboer is Steenkamp veral betrokke by die beesvertakking van die boerdery. In hierdie opsig wissel haar verantwoordelikhede van die versorging van die kalwers van die melkery, die administrasie van die geregistreerde vleisbeesstoet én die bywoon van en deelname aan verskeie landbouskoue. “Ek het reeds op skool tot die besef gekom dat ek ʼn tipiese naguil is, en daarom is dit nie moeilik om saans agter die lessenaar in te skuif om aandag aan my studieverpligtinge te gee nie,” sê Steenkamp. Sy verduidelik dat sy as deel van haar studieroetine elke aand tyd maak om ʼn hoofstuk in ʼn module te bestudeer, terwyl sy ook naweke gebruik om assesseringstake en voorbereiding te doen.

Steenkamp meen haar gunstelingmodule is Finansiële en Beleggingsbeplanning en dat dit vir haar lekker is om dit wat sy leer ook prakties in die boerdery te kan toepas. Laasgenoemde vergemaklik die leerproses omdat Steenkamp meen dat sy terselfdertyd nuwe akademiese kennis én waardevolle praktykservaring opdoen. Dit is dan ook die rede waarom sy die instelling onomwonde aan ander persone wat hulself reeds in die werkswêreld bevind sal aanbeveel.

Steenkamp sluit af deur te sê dat sy, waarskynlik vanweë haar liefde vir boerdery, altyd gemotiveer word deur die gesegde wat lui dat jy moet blom waar jy geplant is. “Niemand sê dat die lewe altyd net maklik gaan wees nie, maar jy het elke dag opnuut die keuse om te besluit of jy eerder op die onweerswolke gaan fokus óf op die reënboog van belofte,” sê Steenkamp. Sy motiveer haar medestudente én diegene wat ʼn studiedroom koester om ook hierdie gesindheid in te neem, werk te maak van hul doelwitte en só die toekoms met hoop tegemoet te stap.

Indien jy soos Steenkamp wil werk of ander belangstellings nastreef terwyl jy studeer, doen vandag nog aansoek vir nauurse afstandstudie in 2025.

Carine Steenkamp studeer die BCom (Finansiële Beplanning)-program aan Akademia via die nauurse afstandsmodel.
As ʼn jongboer is Steenkamp aktief betrokke by die Steenkamp-familieboerdery se stoetery.