Search
Close this search box.

Internasionale Vriendskapsdag: Hoe vorm mens vriendskappe op die nauurse afstandsmodel?

Geskryf deur Megan Ferreira, Fontiepos-joernalis

Het jy al ooit gewonder hoe die nauurse studentelewe werk, of hoe vriendskappe op hierdie model gevorm word? Wel, vandag verduidelik die Fontiepos-span vir jou presies hoe om nauurse vriendskappe te kweek!

Vir alle nauurse afstandstudente is dit ʼn uitdaging om klas te loop via Teams-vergaderings omdat dit slegs via ʼn skerm plaasvind en jy nie die werklike reaksie van die ander persoon op die skerm kan sien nie. Dit is soms baie moeilik om enige vriendskappe te bou, siende dat die persoon aan die ander kant van ʼn skerm is en jy nie ʼn direkte gesprek met hom of haar kan voer nie.

Hierdie vriendskappe kan egter maklik gewoon gevorm word deur ʼn eenvoudige frase soos: “Hallo. Ek is Piet Pompies. Kan jy asseblief vir my verduidelik waar ek die klasskakel kan kry vir vanaand se klas?” Reik uit na iemand wat dieselfde program as jy studeer – dit vergemaklik die proses om ʼn vriendskap te kan vorm omdat daar reeds ʼn onderwerp is waarin beide belangstel – julle studierigting.

Nauurse vriendskappe kan ook gevorm word deur aan te sluit by die nauurse Boeke-en-bone-klub, waar studente mekaar leer ken en gesels oor spesifieke boeke, saam met ʼn lekker koppie boeretroos daarby. Dit gebeur ook deur die A-gemeenskap waar ʼn klompie studente bymekaar kom om mekaar beter te leer ken. Nauurse vriendskappe kan ook gevorm word by die eerstejaarkamp, waar studente saam hulle voete moet vind.

Alhoewel daar soms redelik afstand tussen jou en jou medestudente is, is daar steeds verskeie voordele aan nauurs vriendskappe verbonde. Julle kan mekaar ondersteun in moeilike tye en mekaar motiveer vir eksamens of selfs net geselsies aanknoop oor alledaagse kwessies.

In hierdie nuwe era waarin ons nou leef, is dit baie belangrik om die regte vriende te kies, wat altyd daar vir jou sal wees as ʼn sterk skouer in tyd van nood of sommer net as ʼn ekstra skouer vir bystand. Vriende is ook die gom wat ons almal aan mekaar hou en daarom is dit nodig om tyd daaraan te spandeer om nuwe vriendekringe op te maak en mekaar te ondersteun.

Nauurse vriendskappe is spesiaal en die Fontiepos-span hoop dat alle nauurse afstandstudente hul nauurse vriende en vriendinne behoorlik vier tydens vanjaar se Internasionale Vriendskapsdag op 31 Julie!

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.