BCom-graad in Finansiële Beplanning 2018-08-07T10:18:51+00:00

BCom-graad in Finansiële Beplanning

Die Baccalaureusgraad in Finansiële Beplanning bemagtig die student om die beginsels van ekonomie, beleggingsbestuur en finansiële beplanning te verstaan en om dié beginsels in die praktyk toe te pas. Dit rus studente toe met kennis en vaardighede in beginsels en praktyk van ekonomie, finansiële bestuur, finansiële rekeningkunde, verskillende aspekte van sakebestuur en beleggingsbestuur en aanverwante dissiplines. Die student word ook voorberei vir verdere studies in ekonomie of finansiële bestuur.

WAT KAN EK MET MY BCOM-GRAAD IN FINANSIËLE BEPLANNING DOEN?

Die Baccalaureusgraad in Finansiële Beplanning rus studente toe met kennis en vaardighede in beginsels en praktyk van ekonomie, finansiële bestuur, finansiële rekeningkunde, verskillende aspekte van sakebestuur en beleggingsbestuur en aanverwante dissiplines. Tipiese rigtings waarin studente kan gaan werk sluit in lang- en korttermyn versekeringswese, finansiële beplanning, ekonomie of finansiële bestuur.

WAT BEHELS DIE KWALIFIKASIE?

NKR (NQF) vlak 7

370 krediete

SAQA ID-nommer: 99642

PROGRAMINLIGTING

KWALIFISEER EK VIR ‘N BCOM-GRAAD IN FINANSIËLE BEPLANNING?

KLIK HIER

KWALIFISEER EK VIR ‘N BCOM-GRAAD IN FINANSIËLE BEPLANNING?

KLIK HIER

MODULES

Die vak bied aan student kennis oor hoe die ekonomie in sy geheel funksioneer, die beginsels van hoe mense ekonomiese besluite neem en hoe die verskillende sektore in die ekonomie op mekaar inwerk.

Die vak bied aan student ’n deeglike begrip vir die basiese beginsels en praktyke op die gebied van finansiële beplanning en beleggingsbestuur. Die vak verduidelik konsepte soos die finansiële beplanningsproses, persoonlike finansiële bestuur en tydwaarde van geld in verhouding tot die beleggingsbestuursproses en sekuriteitsmarkte. ’n Begrip vir hierdie konsepte is noodsaaklik om meer gevorderde finansiële beplanning en beleggingsbestuurtegnieke en -teorieë toe te pas en te kombineer.

Die doel van die vak is om studente aan die belangrike morele kwessies wat in verskeie sakekontekste na vore tree, bloot te stel; om ‘n begrip vir die morele, maatskaplike en ekonomiese omgewings waarbinne hierdie probleme voorkom te ontwikkel; om etiese konsepte wat relevant tot die oplossing van hierdie probleme is bekend te stel; en om die ontwikkeling van die nodige redeneringsvermoë en analitiese vaardighede om die probleme suksesvol op te los, te bevorder.

Hierdie vak behandel die voorbereiding van finansiële verslae vir enkel entiteite. Die verslae word binne ‘n konseptuele en regulatoriese raamwerk saamgestel, met ‘n begrip vir die verskeie alternatiewe wat waardering betref, asook die rol van wetgewing en van rekeningkundige standaarde. Deur rekeningkundige tegnieke en stelsels toe te pas, kan rekeninge vir verskillende soorte bedrywe en vir spesifieke transaksies voorberei word. Die meting van finansiële prestasie deur die berekening an basiese ratio’s word behandel, asook die noodsaaklikheid om die nodige beheermeganismes vir rekeningkundige stelsels te verstaan en toe te pas deur na interne beheer en die aard van foute en bedrog te kyk.

Die vak bied ’n oorsig oor die bestuur van sakeondernemings in die Suid-Afrikaanse sakeomgewing. Dit behandel die beginsels waarvolgens organisasies hulpbronne en aktiwiteite vir maksimale winsgewendheid kan bestuur. Die vak bied ook ’n inleiding tot die verskeie gespesialiseerde areas van bestuur, naamlik menslikehulpbronne, bemarking, openbare betrekkinge, finansies, prosesse, aankope en verskaffing.

Die vak verskaf ’n oorsig oor die elementêre bestuurswetenskaplike tegnieke wat ʼn bestuurder in werklikheid moet toepas.

Hierdie vak sal studente bemagtig om die beginsels van mikro- en makro-ekonomie toe te pas. Dit gee agtergrond oor monetêre, finansiële en openbare ekonomie. Dit werp lig op die belangrikheid van internasionale en nasionale finansies en die rol van openbare ekonomie. Die vak gebruik teorie, empiriese en beleidsraamwerke om probleme te analiseer. Dit dek ook Suid-Afrikaanse finansiële markte en hoe die verskillende instellings binne die plaaslike finansiële stelsel werk, asook die verskillende markte in die plaaslike ekonomie en die instrumente wat binne daardie markte verhandel word. Laastens analiseer die vak die rol wat die regering binne ’n markekonomie behoort te speel.

Die vak bied ’n oorsig oor die basiese beginsels en sfere van rekeningkunde, finansiële rekeningkunde en verslaggewing.

Die vak bied ’n diepliggende begrip vir finansiële teorie en praktyk binne die Suid-Afrikaanse konteks, asook ’n omvattende oorsig oor persoonlike finansies.

Die vak behandel die algemene aspekte en beginsels van kontrakreg. Onderwerpe soos die opstel, inhoud en interpretasie van kontrakte word bespreek. Studente word ook aan die basiese beginsels van en vaardighede in die opstel van kontrakte blootgestel. Die vak fokus verder op spesifieke aspekte van kontrakreg, soos aankope en verkope, verhuring, bemiddeling en waarborge.

Wetgewing wat met testate en intestate erflating verband hou, word in hierdie vak gedek. Studente word ook aan die basiese beginsels van boedeladministrasie blootgestel.

Hierdie vak het ten doel om jou kennis, begrip en kritiese denke oor die volgende te ontwikkel: die basiese inval en geskiedenis van konstitusionele reg; die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, insluitende die waardes waarop dié wet geskoei is; die strukturering en funksionering van die Suid-Afrikaanse regering; die grondwetlike regte wat deur die Grondwet toegeskryf word; en die ontwikkeling van grondwetlike regsleer in Suid-Afrika.

Hierdie vak is gemoeid met die algemene aspekte en beginsels wat verband hou met twee spesialisvelde van publieke reg, naamlik regsuitleg en administratiefreg. Regsuitleg het te make met die aard en interpretasie van wetgewing, asook die metodes van statutêre interpretasie. Hier kom filosofiese perspektiewe, die uitwerking van die Grondwet en konstitusionele interpretasie ook aan die bod. In administratiefreg word die aard en omvang van administratiefreg, en die prosedure van regterlike hersiening – asook die moontlike redes daarvoor – ondersoek.

Ekonomie 3 bou voort op die beginsels van mikro-ekonomie en makro-ekonomie wat in Ekonomie 2 behandel is. Die vak bespreek arbeidsekonomie met ’n fokus op mededingende verduidelikings van onlangse verwikkelinge in loon- en salarisverspreiding en in belangrike instellings en organisasies. Spesiale aandag word aan teorieë oor werkers se motivering en optrede gegee, asook die vasstelling van lone, tegnologie, maatskaplike stratifikasie en vakbondoptrede. Internasionale ekonomie word ook behandel, aangesien dit lig werp op fundamentele instellings en verhoudings wat lewenskwaliteit bepaal en ‘n raamwerk bied waarbinne ’n begrip vir die besluitnemingsproses oor internasionale handel, beleggings en kapitaalvloei – veral in ontluikende markte – gevorm kan word. Die vak analiseer ook huidige debatte oor die toepassing van ekonomiese teorie en probleme rondom ekonomiese ontwikkeling. Studente word bemagtig om teorie en beleid toe te pas en om ekonomiese uitdagings op te los sodat internasionale handel bevorder word, ekonomiese ontwikkeling versnel en arbeidsverhoudings verbeter.

Die vak bied ’n oorsig oor korporatiewe burgerskap en korporatiewe innovasie en entrepreneurskap.

Die vak behandel die algemene beginsels wat met sakereg verband hou. Dit dek konstitusionele aspekte van sakereg, eienaarskap en huurderskap en beperkte saaklike regte soos ondermeer serwitute en sekuriteitsregte.

Die vak behandel die basiese beginsels wat met vennootskappe, saketrusts, beslote korporasies en maatskappyreg verband hou.

Die vak dien as inleiding tot die basiese beginsels van individuele en kollektiewe reg. Die beslegting van arbeidsgeskille en alternatiewe dispuutbeslegting, asook aspekte van sosiale sekerheidsreg, word bespreek.

Die vak stel die student aan die algemene beginsels van deliktereg bloot. Sekere aspekte van die beginsels wat op spesifieke delikte van toepassing is, word ook gedek.

ANDER INLIGTING

Die program kan in ’n minimum tydsduur van drie jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is sewe jaar.

Ná die suksesvolle voltooiing van die program ontvang studente ’n Akademia Baccalaureusgraad in Finansiële Beplanning wat tydens ’n geleentheid oorhandig sal word.

(Deurlopende assessering – 40% van finale punt)

  • Twee verpligte werkopdragte per vak
  • Drie toetse per vak – twee meerkeuse en een geskrewe toets. Die beste twee toetspunte word gebruik om die jaarpunt te bereken wat eksamentoelating bepaal.

’n Minimum van 40% vir ’n jaarpunt moet behaal word vir eksamentoelating.

(Samevattende finale assessering – 60% van finale punt)
Daar word ’n finale eksamen per vak aan die einde van die jaar geskryf.

DOEN NOU AANSOEK OM VIR ‘N BCOM-GRAAD IN FINANSIËLE BEPLANNING TE STUDEER

DOEN AANSOEK

DOEN NOU AANSOEK OM VIR ‘N BCOM-GRAAD IN FINANSIËLE BEPLANNING TE STUDEER

DOEN AANSOEK