Gepubliseer op: 1 Augustus 2025
Akademia se bruisende koshuislewe skep milde geleentheid vir die ontwikkeling van klassieke deugde aan die hand van studente-eie tradisies. Een só ʼn tradisie is Huis Hennops, een van die instelling se manskoshuise, se jaarlikse boksaand. Hierdie geleentheid is op 26 Julie 2025 ten aanskoue van meer as 500 toeskouers by die Sol-Tech-kampus aangebied, en almal betrokke is dit eens: Die boksaand verteenwoordig ʼn besliste hoogtepunt op die instelling se koshuisgebeurlikheidskalender.
Wat dié geleentheid nóg meer merkwaardig maak is dat die fondse wat by wyse van kaartjieverkope ingesamel is, aangewend gaan word ter ondersteuning van die koshuis se interne onderskragingsaksies. Op hierdie manier word ʼn hand van meelewing en ondersteuning uitgesteek na mede-Fonties* wat ʼn hupstootjie nodig het om hul studie, asook deelname aan Akademia se aktiewe studentelewe, met ywer te kan aanpak.
So sien die boksaand daarna uit
Volgens Conrad Prins, die primarius van Huis Hennops, is dit verblywend om te sien hoe die boksaand in gewildheid toeneem. Hy noem dat meer as 90 studente vanjaar ingeskryf het en dat ongeveer 40 aan die voorafgaande oefenkamp deelgeneem het. Op die groot aand het sestien Fonties mekaar die stryd in die kryt aangesê. Die boksgevegte is as volg beslis:
Juan Enslin (wenner) vs. Tiaan van Zyl
Steenekamp en Cameron Ungerer is ook vereer met pryse as die twee deelnemers wat tydens die oefenkamp die meeste vordering getoon het. Die beoordelaarspaneel het uit bewese bokslui bestaan, naamlik Cameron Saaiman, Kaine Fourie, Tyla Promnick en Jusha Dann.
ʼn Viering van verbondenheid en klassieke deugde
Tinus Dodds, koshuisouer van Huis Hennops, verduidelik dat die boksaand nie net getuig van goeie en gesonde sportmanskap nie, maar ook van Fonties se omgee-ingesteldheid. “Die manne het hard saam geoefen, mekaar op ʼn verantwoordelike wyse in die kryt aangedurf én in die proses die lewe vir ʼn ander Hennops-man makliker gemaak,” sê Dodds. Hy voeg by dat dit ʼn groot voorreg vir hom was om hierdie eensgesindheid eerstehands te kon ervaar en te kon sien hoe elke deelnemer in selfvertroue en karakter groei.
Hy gaan voort deur boks, as ʼn mededingende sportsoort, as ʼn metafoor vir die lewe voor te hou. Gedagtig hieraan moes die deelnemers verskeie uitdagings die hoof bied, fisies en sielkundig. “Ek is ongelooflik trots op elke jongman wat in die kryt geklim het en só, diep bewus van hul eie vermoëns, as aktiewe deelnemers na vore getree het. Vir baie van die manne was dit hul eerste kennismaking met dié sport, en dit het mannemoed geverg om deel te neem. As koshuisouer is ek oorstelp van trots,” sê Dodds.
ʼn Hoogtepunt van die aand was die aflegging asook die oorhandiging van Huis Hennops se erekode. Dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, het hierdie seremonie, wat gegrond is op die deugde van die Middeleeuse ridderwese, waargeneem. Die inleidende paragraaf van dié erekode lees as volg:
Hiermee verklaar ek, as ʼn man in vorming, dat ek sowel die passiwiteit van lui gemak as die aggressie van brute mag binne die krisis van moderne manlikheid verwerp. Beide hierdie twee uiterstes is maskers wat die waarheid, goedheid en skoonheid van manlikheid verdraai en verwring.
Ware en eerbare manlikheid word nie gedefinieer deur onbegrensde krag nie, maar deur geordende diens. Dit word nie gedefinieer deur lafhartigheid nie, maar deur dapperheid. ʼn Ware en eerbare man is daarom hard, maar nie sonder ʼn hart nie; en sag, maar nie sonder ʼn ruggraat nie. Hy bied harde en eerbare kompetisie vir sy vriende, en toon hoflikheid as ʼn ware heer teenoor dames.
Ek verklaar en streef daarom, om in die gees van ware en goeie riddermoed, aan die boksaand deel te neem; nie met verwoesting en haat voor oë nie, maar met vorming en eer; nie met selfsug en eiewilligheid nie, maar met opoffering en diensbaarheid; nie met woede en vrees nie, maar met onderskeiding en moed; en nie met roekelose oorheersing as doel nie, maar met gedissiplineerde selfbeheersing.
* Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.