*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Hoogleraarintreerede: Só sluit Akademia aan by die eeueoue klassieke universitêre tradisie

Gepubliseer op:  13 Maart 2026

Uitnemendheid word nie nét aan kennis gemeet nie, maar óók aan wysheid, karakter en die vermoë om doelgerig en roepingsgedrewe te vorm. By Akademia word hierdie strewe sigbaar beliggaam deur die toekenning van die titel hoogleraar – die hoogste akademiese amp in dié instelling. Op Donderdag 12 Maart 2026 het dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, haar intreerede as hoogleraar by Akademia se Pretoria-kampus gelewer.

Tydens hierdie prestigegeleentheid, die eerste in ʼn reeks intreeredes wat vir die jaar beplan word, is daar hulde gebring aan Maritz se dinamiese bydrae tot wetenskapsbeoefening, akademiese uitnemendheid en die Afrikaanse universiteitswese. Ná afloop van haar intreerede, waarin sy ʼn besinning oor haar loopbaanreis en -ervarings gebied het, is ʼn spesiale oorkonde aan Maritz oorhandig as formele erkenning van haar amp as hoogleraar. By wyse van hierdie oorhandiging het die instelling opnuut sy waardering vir Maritz se roepingsgedrewe strewe na kennis, haar diensleierskap en haar verbondenheid tot die akademie bevestig.

Die voorstelling van Maritz as hoogleraar is deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie, behartig terwyl prof. Melodi Botha, professor in Entrepreneurskap by die Universiteit van Pretoria (UP), repliek op die intreerede gelewer het.

Maritz het op die aand gesê dat haar intreerede as hoogleraar vir haar ʼn belangrike mylpaal in haar akademiese loopbaan verteenwoordig. “Ek kyk vandag met groot dankbaarheid terug op my loopbaan, maar terselfdertyd kyk ek ook optimisties vorentoe. Waar ek dalk nou as ʼn vakkundige gereken word en ʼn kruin bereik het, moet en wil ek steeds aanhou om die sirkel te voltooi,” sê Maritz. Sy het ook haar dankbaarheid teenoor haar familie, kollegas en vriende betuig vir hul volgehoue ondersteuning. “Om oor myself en my loopbaan te besin, vul my met ʼn diepe nederigheid en laat my net weereens besef hoe baie naastes en bestes bygedra het tot ʼn loopbaan wat toe nie iewers langs die pad ontspoor het nie en wel kon floreer,” sê Maritz.

In sy toespraak het Goosen gesê dat Maritz as ʼn Akademia-hoogleraar die klassieke ideaal van akademiese vorming en ʼn verbintenis tot die ware, die goeie en die skone beliggaam.

Volgens Goosen sluit die instelling met sy aanbieding van die intreeredes vir hoogleraars aan by die eeueoue universitêre tradisie van die professorale intreelesing (lectio inaguralis). Hierdie tradisie strek so ver terug as die Middeleeue. In dié tyd is ʼn intreelesing dikwels gekenmerk deur kommentare op belangrike tekste uit die verlede (Aristoteles, Cicero, Augustinus, ensovoorts). Moderne universiteite verskuif in hul intreelesings die klem na die hoogleraar wat sy eie navorsingsprogram bekendstel en ook nuwe rigtings in die denke aandui. “Intreeredes oor alle eeue word egter deur ʼn belangrike doel gekenmerk, naamlik om uitdrukking te gee tot die strewe en verbondenheid binne die akademie na die ware, die goeie en die skone,” sê Goosen.

Hy sluit af deur te noem dat dit vir Akademia as hoëronderwysinstelling ʼn besondere voorreg is om die intreeredes van nuwe hoogleraars aan te bied. Hierdeur dra die instelling nie net ʼn oeroue tradisie vanuit die Christelike en klassieke universiteitswese aan die nageslag oor nie, maar verbind hom ook so aan die hoogste strewes van dié tradisie.

Dr. Rachel Maritz het op 12 Maart 2026 haar intreerede as hoogleraar gelewer. Die amp van hoogleraar is die hoogste eerbetoon wat die instelling aan ʼn akademikus kan betoon.
Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, het ná afloop van dr. Rachel Maritz se intreerede as hoogleraar, ʼn oorkonde ter erkenning van akademiese uitnemendheid, aan haar oorhandig.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.