Gepubliseer op: 25 September 2025
Onthou die beginonderneming, Dassie, as jy weer jou beste stylvoetjie moet voorsit vir ʼn geleentheid. Dié onderneming is die geesteskind van Chantelle Pieterse en Iewan Struwig, onderskeidelik ʼn trotse Akademia-alumnus en huidige tweedejaar-Fontie. Die Dassie-duo het onlangs skoonskip gemaak in die gewilde Akademia-sakeplankompetisie – ʼn opwindende inisiatief vanuit die BCom (Ondernemingsbestuur)-program, in die kategorie vir studente met ʼn nuwe ondernemingsdroom of besigheidskonsep.
Alles begin by die beier van trouklokke
Die Dassie-besigheidskonsep is volgens Struwig gebore uit pure frustrasie. “My broer het op trou gestaan en as een van die strooijonkers kon ek net nie ʼn das opspoor wat by die blomtema sou pas nie. Ek het oral gesoek en was reg om die handdoek in te gooi, toe Chantelle voorstel dat ons probeer om self die das te maak,” vertel Struwig. Die res is soos hulle sê, geskiedenis.
Nie nét was dié das ʼn dawerende modesukses nie, dit het ook belangstelling uit verskillende oorde gelok. En kort voor lank was dit vir Pieterse en Struwig duidelik: mans van oraloor sukkel om dasse te kry wat iets van hul persoonlikheid en unieke stylidentiteit weergee.
Ná afloop van hul sukses in die 2025-sakeplankompetisie is die tweemanskap goed op dreef om hul droom van ʼn eie produksie-ateljee te verwesenlik en sien hulle daarna uit om ook ander bykomstighede soos sakdoeke, strikdasse en mansjetknope tot hul produkaanbod te voeg. Intussen word die Dassie-storie wyd en syd met ander gedeel, en is hulle positief oor die vooruitsig om ook as ʼn korporatiewe diensverskaffer te help om die kreatiewe persoonlikheid en handelsmerkstorie van groot maatskappye by wyse van eiesoortige dasse te vertel. “Ons leef vir die dag wanneer iemand op sy das gekomplimenteer word, en hy antwoord dat dit nie net nóg ʼn mooi das is nie, maar ʼn Dassie!”, droom Struwig.
Meer oor Pieterse en Struwig
Pieterse, wat in 2021 haar studiereis aan Akademia begin het, maak elke das self. As ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-alumnus is sy goed vertroud met die waarde wat aan handgemaakte en trots Suid-Afrikaanse produkte toegevoeg word. Behalwe vir haar vlytige naaldwerkvaardighede, is sy voltyds betrokke by die daaglikse bestuur van die besigheidsaktiwiteite.
As oud-Fontie het Pieterse haar studie via die instelling se nauurse afstandsmodel voltooi en het sy van die e-leeropsie gebruik gemaak. Sy het dan ook haar eksamens by die Moot-sentrum afgelê. “Ek sal weer en weer Akademia as ʼn studietuiste aan ander voorhou,” vertel Pieterse en voeg by dat dit ʼn voorreg was om haar studie in haar moedertaal te kon aanpak en voltooi. Sy koester ook elke vriendskap wat sy gedurende haar studentweestyd kon smee.
Op sy beurt is Struwig tans midde sy studie in die BCom (Ekonomie en Regte)-program. Soos Pieterse volg hy ook die nauurse afstandsmodel en benut hy die e-leeropsie. “Dit is vir my ʼn ongelooflike ervaring om deel te wees van Akademia se bruisende gemeenskap, en om eerstehands te kan ervaar hoe hierdie gemeenskap my – en my mede-Fonties – daagliks en sonder skroom ondersteun en onderskraag,” sê Struwig.
Gryp geleenthede met albei hande aan
As daar een brokkie advies is wat die Dassie-span graag met ander wil deel, is dit om elke gulde geleentheid aan te gryp. Hulle voeg by dat hul waagstuk om aan die kompetisie deel te neem vrugte gewerp het, en dat hul dapperheid beloon is met kundige en uiters waardevolle terugvoer. Laasgenoemde het ook die deure van die besigheidswêreld vir hulle wyd oopgestoot en gehelp dat Dassie nou meer is as net ʼn droom.
En wat gaan hulle doen met hul wennerstjek en ander pryse? “Ons gaan Dassie amptelik as ʼn handelsmerk registreer en laat waai met ʼn webblad. Terselfdertyd gaan ons ons sosialemediaspiere begin bult en regoor die land aan markte deelneem,” vertel Pieterse.
Volg gerus vir Dassie op Instagram vir nuwe produktoevoegings en spesiale aanbiedinge.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.