Wanneer poppe praat, luister kinders: Fonties bemeester die kuns van poppespel

Gepubliseer op:  4 November 2025

Die energie in die klaskamer vol jong maatjies is amper tasbaar. En toe die musiek begin speel en die fluweelgordyne oopskuif, blink hulle ogies van verwondering en almal raak stil. Dit was tyd vir die poppe om te praat en die kinders om te luister.

Derdejaar-Fonties in die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program het onlangs besoek aan Club21 in Centurion afgelê om hul poppespelvaardighede op die proef te stel. Dié besoek vorm deel van ʼn praktiese onderwysgeleentheid en maak deel uit van hul moduleuitkomste in Lewensvaardigheid-onderwys, Afrikaans-onderwys en Engels Eerste Addisionele Taal-onderwys. Vanjaar se besoek is die tweede van sy soort aan dié instelling sonder winsoogmerk wat spesialiseer in die onderrig en ontwikkeling van kinders met Downsindroom.

Volgens Tersia Myburgh vorm kennis van die kuns en praktyk van poppespel ʼn belangrike vaardigheid in die mondering van enige grondslagfaseonderwyser. In die geval van die derdejaarstudente vorm dit dan ook deel van hul deurlopende assessering vir die jaar. In die Lewensvaardigheid-module word daar van die studente verwag om twee handpoppe te maak wat twee karakters in ʼn poppespel moet verteenwoordig. In die Afrikaans-module moet die studente, gedagtig aan die twee karakters wat hul geskep het, ʼn storie skryf waarin taalvaardighede, woordeskat en luistervaardighede vir grondslagfaseleerders oopgebreek word. Hierdie storie moet dan, as deel van die Engels Eerste Addisionele Taal-module, na Engels aangepas word. Vir die finale assesseringstaak moet die studente, in pare van twee, elk van hierdie stories by wyse van ʼn poppekasvertoning aanbied.

Só laat Fonties hul poppe dans

Volgens Myburgh versinnebeeld die ontwikkeling van ʼn pop (marionette, hand-, kous-, stok-, vinger- en draadpoppe) asook die storievertelelement van ʼn poppekasvertoning ʼn baie kreatiewe proses.

“Die studente begin met ʼn skoon bladsy en word daarom die geleentheid gebied om hul kreatiewe en kritiese denke vrye teuels te gee,” sê Myburgh. Sy verduidelik dat daar tydens die ontwikkelingsproses verskeie aspekte is waaraan aandag gegee moet word. Hierdie aspekte sluit in:

  • aanpasbaarheid;
  • ouderdomsgepastheid (graad R tot graad 3);
  • praktiese uitvoerbaarheid; en
  • verskeidenheid (in terme van die verskillende soort poppe).

Wat die ontwikkeling en die maak van die poppe betref, is dit belangrik dat elke pop iets van sy Fontie-skepper se persoonlikheid weerspieël. Laasgenoemde is belangrik omdat die studente hul lesuitvoering en kennisoordrag deur die poppe moet laat deurskemer. “Hoe meer herkenbaar die pop, hoe groter is die aantrekkingskrag daarvan vir leerders. Dit is altyd oulik as ʼn pop daardie iets ekstra het wat hom uniek maak, soos ʼn bril en grys hare vir ʼn ouma, of ʼn hoed en ʼn snor vir ʼn jagter,” meen Myburgh.

Wat die fisiese poppekasstruktuur betref, deel Myburgh die volgende praktiese wenke:

  • Maak seker dat die struktuur groot genoeg is sodat die poppe gemaklik kan beweeg én dat die poppemeester(s) maklik agter die skerms kan werk.
  • Die struktuur moet hoog genoeg wees sodat die poppemeester nie deurentyd ongemaklik moet afbuk tydens die vertoning nie.
  • Die gordyn moet die poppemeester toelaat om die reaksies van die gehoor te kan sien en só sy/haar optrede te verander as dit nodig sou wees.

Poppespel en stories as belangrike hulpmiddels in die klaskamer

Myburgh verduidelik dat poppespel ʼn ongelooflike rol in gehalte-onderrig en effektiewe leer speel, veral in die grondslagfase. Omdat hierdie hulpmiddel leerdergesentreerd is, stel dit onderwysers in staat om leerders vanuit die staanspoor aktief by die leerproses te betrek. 

“Dit is raadsaam vir onderwysers om poppe, en die karakters wat hul versinnebeeld, reeds as deel van die lesingleiding te gebruik. Op dié manier word die leerders se aandag geprikkel en is hulle gemotiveerd om te luister en deel te neem. Poppespel lei leerders natuurlik ook om deur ʼn verbeeldingsvlug ʼn fantasiewêreld te betree waar hulle saam droom, ervaar en leer,” sê Myburgh.

Die voordele verbonde aan ʼn aktiewe verbeeldingsvermoë kan volgens Myburgh nie genoeg beklemtoon word nie, en sluit onder meer in:

  • Die ontwikkeling van abstrakte denke en probleemoplossingsvaardighede.
  • Die vermoë om gedagtes, idees en emosies deur taal uit te druk.
  • Die aanleer van empatie en die vermoë om ander se perspektiewe in te sien en te verstaan.
  • Die aanleer van sosiale rolle, interaksie en emosionele regulering.
  • Die ontwikkeling van ʼn versterkte selfidentiteit.
  • Die vermoë om jouself kreatief uit te druk.

Verbeelding is ʼn bousteen vir leesbegrip, wiskundige probleemoplossing en wetenskaplike denke vanweë die feit dat dit kinders help om verhoudings, patrone en moontlikhede raak te sien. Op hierdie manier word hulle voorberei vir formele leer en kritiese denke. Myburgh sluit af deur te sê dat verbeelding kinders se denke buigsaam maak, hul harte oopstel vir nuwe ervarings en aan hulle die vermoë bied om te leer en aan te pas.

Poppe te kies en te keur. Derdejaar-Fonties in die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program leer as deel van hul moduleuitkomste om die kuns en praktyk van poppespel as ʼn leerhulpmiddel te bemeester.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.