Search
Close this search box.

Fontie-spele 2024: ʼn Fees van talent en verbondenheid

Gepubliseer op: 6 Augustus 2024

Vanjaar is wêreldwyd ʼn groot jaar vir sport. Dink maar net aan die Olimpiese Spele wat tans in Parys, Frankryk, afspeel, die Statebondspele, die Rugbywêreldbeker en sokker se wêreldtoernooi. Op eie bodem is 2024 óók vir Akademia ʼn uitsonderlike bloeityd vir studentesport en dié groeitydperk bereik op 23 en 24 Augustus 2024 ʼn hoogtepunt met die aanbied van die eerste Fontie-spele.

Die Fontie-spele is volgens Kobie Krause, Akademia se sportbeampte, ʼn viering van studentesport én die instelling se verbondenheid tot nie net die verwesenliking van persoonlike potensiaal nie, maar ook deelname aan en betrokkenheid by die groter Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor. Tydens hierdie geleentheid sal daar 10’s-rugby, netbal en 5-manhokkie deelgeneem word, en volgens Krause het agt instellings reeds aangedui dat hulle spanne gaan inskryf. Hierdie instellings sluit in:

  • Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros)
  • Sol-Tech
  • Bo-Karoo Opleiding (BKO)
  • Eta Kollege
  • NewBridge Graduate Institute (NGI)
  • Varsity College: Pretoria
  • Varsity College: Sandton

Meer inligting oor die deelnemende instellings sal later bekend gemaak word en belangstellendes word aangemoedig om Akademia se sosialemediaplatforms dop te hou.

Krause is opgewonde oor die Fontie-spele en méér nog oor die groei wat Akademia met betrekking tot studentesport beleef. Hy noem dat senior studente vanjaar vir die eerste keer aan ʼn koshuisatletiekdag deelgeneem het, en dat daar ʼn goeie kompeterende sportmansgees onder Fonties heers. Nóg ʼn eerste was die instelling se deelname aan die afgelope klubrugbyseisoen.

Ander sportsoorte wat met rasse skrede ontwikkel, is netbal, krieket en hokkie. “Waar Akademia eers net byvoorbeeld een netbalspan vir die aksienetbaltoernooi kon inskryf, het ons vanjaar elf spanne wat deelneem,” verduidelik Krause. Hy voeg by dat dié groei ook meer mededingingsmoontlikhede tot gevolg het – iets waaroor die deelnemende studente baie opgewonde is.

“Die langtermynbeplanning is dat die Fontie-spele in ʼn volwaardige sportfees sal ontluik, en dat talent op hierdie wyse gevier sal word,” meen Krause. Hy voeg by dat dié spele ook die instelling se klassieke en Christelike begronding sal spieël en dat dit só die baan sal weg vir die ontwikkeling van ʼn sterk gevestigde sporttradisie. Hy droom voorts daarvan dat dié geleentheid wat kompeterende sportsoorte betref van krag tot krag sal gaan.

Belangstellendes kan die 23 tot 24 Augustus in hul dagboeke aanteken. Die Fontie-spele sal by Hoërskool Centurion, Selbornelaan 118, Lyttelton Manor, plaasvind. Kaartjies sal by die hek te koop wees teen R10 per kaartjie.

Kobie Krause, Akademia se sportbeampte, nooi alle belangstellendes uit om op 23 en 24 Augustus die Fontie-spele in Centurion te ondersteun.